glasoog voorblad1Oor die bundel Glasoog: Glasoog is die naam van ’n gereelde rubriek wat vanaf Februarie 2004 tot Augustus 2010 verskyn het, eers in Beeld en later in By-Beeld. Aanvanklik was die rubriek gemik op die invloed van tegniek en tegnologie op ons wêreld, maar mettertyd het dit oor ’n wyer verskeidenheid sake begin handel, soos die politiek, die ekonomie, musiek en films. Ná herhaalde versoeke om dit as ’n bundel uit te gee, word die volledige reeks rubrieke nou hier chronologies as PDF gepubliseer teen R200, BTW ingesluit. Hiermee bedank ek Beeld, wat goedgunstiglik hulle toestemming vir hierdie publikasie gegee het.

Uittreksel: Dit het ’n cliché geword dat die wêreld vinniger as ooit verander. Maar waarom verander die wêreld so vinnig en wat beteken dit vir ons? Miskien die belangrikste faktor wat tot die verandering bydra, is die tegniek. Oor die algemeen kry ’n mens heelwat inligting oor nuwe tegniese uitvindings. Jy hoor gereeld van nuwe katoeters ("gadgets"), maar ook van groter masjiene, soos nuwe rekenaars, klanktoerusting, motors, wapens, ens. Maar wat doen hierdie nuwe tegniek aan ons? En hoe verander dit ons verhouding met die wêreld? Dit is veral aan hierdie vrae wat ons in Glasoog aandag gaan gee. Hoekom is dit nodig om oor ons en die tegniek te dink? Die eerste rede kan ons aflei uit die definisie van die tegniek: die tegniek is dit waarmee ons ’n gegewe aspek van ons menswees veruiterlik en optimaliseer, sodat ons, en nie die natuur nie, dit beheer.

Byvoorbeeld, ’n stoel is die veruiterliking en optimalisering van ons natuurlike vermoë om te sit. Of ’n rekenaar is die veruiterliking van sekere aspekte van ons vermoë om inligting te verwerk en weer te gee. En kort voor lank word hierdie tegniek so deel van ons, dat ons die tegniek begin weerspieël, as ons, byvoorbeeld, sê "die menslike brein is ’n superrekenaar". Tegniek is dus dit waarmee ons van ons omgewing ’n wêreld maak. Dit is waar natuur kultuur word. Dit is sowel simbolies as materieel. Die tweede rede kom van Michel Serres, Frankryk se voorste filosoof van die tegniek en die wetenskap. Hy wys daarop dat die geskiedenis van die tegniek aanvanklik handel oor die poging om beheer oor ons omgewing te kry. Dit is ’n geskiedenis so oud soos die mens self, maar vandag het ons tegniek so magtig geword, dat ons die omgewing en onsself kan verwoes. Daarom, sê Serres, moet ons vandag beheer oor ons beheer kry. Hoe meer ons deur die tegniek beheer kry oor dit wat voorheen natuurlik was, hoe groter word ons verantwoordelikheid. Maar hiermee kan die wetenskap en die tegniek ons nie help nie.

Nee, hiervoor het ons die filosofie, die letterkunde en die religie nodig. In hierdie rubriek sal ons dus baie aandag gee aan die nuwe gesprek tussen die tegniek en die betekenis van die tegniek. Maar waarom hierdie rubriek Glasoog noem? In die eerste plek gaan ons baie erns maak met die uiters belangrike filosoof van die tegniek, Bernard Stiegler. Een van sy belangrikste konsepte is die prostese. Normaalweg dink ons aan die prostese as ’n kunsledemaat of –orgaan, soos ’n glasoog, wat ’n beskadigde ledemaat of orgaan vervang. Maar Stiegler brei die betekenis van die begrip prostese uit as hy daarop wys dat ons elke enkele tegniek as ’n prostese kan verstaan, waar die prostese nie ’n beskadigde aspek van my vervang nie, maar ’n aspek van my nog beter laat werk. Byvoorbeeld, die stoel laat my beter sit as my gewone sitvlak; die rekenaar verbeter sekere aspekte van my brein se vermoë om inligting te verwerk.

Feitlik alles wat ons rondom ons sien, is dus prosteses: die rekenaar en lessenaar waarby hierdie rubriek geskryf word, die huis waarin dit geskryf word. Maar ook: die stoel waarin u dit lees, miskien in u kantoor.

Kortom, alle tegnieke is prosteses waarmee ons die omgewing tot wêreld maak. Waar ons die prostese dus dikwels met gebrek en skade verbind, wil die naam Glasoog u daaraan herinner dat die prostese baie wyer strek en onontbeerlik vir ons lewens is. En ook: dat die "gestremdes" onder ons met hul prosteses dikwels baie meer van die wêreld verstaan as die "normales" onder ons, omdat laasgenoemde soveel minder bewus van hul prosteses is as eersgenoemde.

Tweedens heet hierdie rubriek Glasoog omdat die tyd waarin ons nou leef een is waarin prosteses van sig oorheers. Die rolprent, die video, die kamera, die TV, die satelliet: hierdie is alles prosteses wat ons vermoë om te sien tot ongekende hoogtes voer. Die filosoof Régis Debray, ’n pionier oor die verhouding tussen tegniek en kultuur, beskryf hierdie era as die videosfeer. Soos enige vorige era het ook ons s’n sy ligte en donker oomblikke. Dit is ’n tyd waarin ons byvoorbeeld, enersyds, die wondere van die menslike genoom of nuwe grense van die kosmos kan verken, maar, andersyds, die uitwasse van "werklikheidstelevisie" of politiek as ’n spektakel beleef. Laastens kies ons die naam Glasoog, omdat ons hier gaan probeer om met ’n sober, ironiese blik na die tegniek te kyk. Twee uiterstes moet vermy word. Enersyds is daar die tegnopessimisme, waarvolgens die tegniek nou so vinnig vorder dat ons op selfvernietiging afstuur. Andersyds is daar die tegno-optimisme, waarvolgens al ons probleme mettertyd tegnies opgelos sal word. Albei hierdie uiterstes bevat waarheid, en dit sal ook soms hier aan die bod kom, maar soos altyd lê die waarheid eerder in die middel. Maar om dít raak te sien, is ’n glasoog nodig.

Buy