Dit is duidelik dat Suid-Afrika ’n nuwe sosio-politieke fase betree het. Die georganiseerde landbou kan ’n sleutelrol speel in ’n nuwe bondgenootskap om die land in die regte rigting te neem. Moeletsi Mbeki en Johann Rossouw verduidelik waarom.

 
Om Suid-Afrika se nuwe sosio-politieke ­fase en die unieke geleenthede wat dit bied te verstaan, is dit nodig om eers die aard en funksies van historiese politieke en ekonomiese strukture in Suid-Afrika te verstaan. As die politieke en ekonomiese strukture van Suid-Afrika en die VSA vergelyk word, is dit treffend dat ofskoon hierdie strukture in albei lande hul oorsprong in die middel 17de eeu het, hulle sedertdien baie verskillende paaie gevolg het.

Terwyl die VSA geslaag het in sy anti-koloniale stryd om die wêreld se leidende soewereine land te word, worstel Suid-Afrika steeds met die koloniale kenmerke van sy politieke en ekonomiese struktuur. Dit is hierdie struktuur wat verander moet word indien die land sy potensiaal wil vervul. Minstens agt koloniale kenmerke van Suid-Afrika se politieke en ekonomiese struktuur het min of meer dieselfde gebly onder die Britte (1795-1910), die Nasionale Party (NP, 1948-1994) en die ANC (1994 tot tans). 

’n Bondgenootskap tussen kapitaal, grondbesitters en die landelike onderklas kan druk op die staat plaas.

Dit is:

1. Suid-Afrika se model van voortreflikheid word altyd buite die land gesoek en dit verander saam met die voorkeure van die regerende elite van die tyd. Vir die Britte was dit Londen, vir die NP Wes-Europa en Noord-Amerika, vir die ANC is dit China.

2. Sedert Uniewording in 1910 tot nou toe word Suid-Afrika geregeer deur ’n selfdienende minderheid in die naam van die meerderheid, en eersgenoemde se mag en rykdom hang grootliks daarvan af om buitelandse kliënte se belange te dien. Die Britte het Londen se finansiële belange gedien, die NP dié van Wes-Europa en die VSA, en die ANC China en Indië s’n.

3. Van 1910 tot tans berus ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie op die onttrekking en uitvoer van onverwerkte minerale. Baie van die kapitaal wat so opgebou word, word uit die land geneem, wat bydra tot die land se oorafhanklikheid van buitelandse beleggings en die ondermyning van die land se soewereiniteit.

4. Van 1910 tot nou word staatsmag gesentraliseer en die eintlike besluite nie in die parlement geneem nie.

5. Van 1910 tot tans, wanneer die regerende elite deur interne weerstand uitgedaag word, ontplooi hy die klassieke koloniale strategie van verdeel en heers. Verskillende sektore van die samelewing word so teen mekaar afgespeel dat nuwe bondgenootskappe, geskoei op ’n gedeelde ervaring van ontnugtering, verhinder word.

6. Van 1910 tot tans word een taal bo Suid-Afrika se ander tale bevoordeel. Inheemse tale word nie toegelaat om te ontwikkel nie, sodat slegs diegene wat die taal van die elite praat vooruitgang kan maak.

7. Van die laat 19de eeu tot op hede word die meeste Suid-Afrikaners se woon- en werkplek geskei. Dit plaas groot druk op gesinstrukture en bly ’n bron van maatskaplike onstabiliteit.

8. Van die laat 19de eeu tot tans dien vervoer- en kommunikasienetwerke meestal korporatiewe en nywerheidsbelange pleks van al die landsburgers.

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat ’n blote verandering van die regerende party nie genoeg is nie. As hierdie koloniale kenmerke nie verander word nie, eindig wie ook al regeer by die instandhouding van die ou koloniale patrone. Te oordeel na die hoë proteskoers, die onlangse verkiesingsuitslae en ontploffende openbare uitgawes het die koloniale staat en ekonomie sy einde bereik. Nuwe bondgenootskappe is nodig om die nodige veranderinge teweeg te bring.

Sodanige nuwe bondgenootskappe moet Suid-Afrika se unieke maatskaplike struktuur met sy vyf sektore onder oë sien. 

Die ekonomiese elite wat kapitaal en grond beheer, besit produktiewe bates en beskik oor vaardige bestuur, maar hulle beheer nie die regering nie en hulle is afhanklik van die staat vir energie en vervoer. 

Die politieke elite beheer die staat en sy inkomste, maar hulle is afhanklik van die stemme van die onderklas – die meesal arm, landelike mense wat pas weer vir hulle gestem het. Hierdie elite besit nie produktiewe bates nie en hul bestuursvaardighede is bedenklik.

Die derde groep is die blouboordjiewerkers, wat arbeidsmag besit en onafhanklike dog verswakkende vakbonde beheer. Hulle word bedreig deur die groeiende getal werkloses. 

Die vierde groep is die onderklas en werkloses. Hul vernaamste sterk punt is hul groot getalle en stemkrag, maar hulle beskik nie oor ambagsvaardighede nie en is afhanklik van regeringstoelae om te oorleef.

Die laaste groep is onafhanklike beroepslui, organisasies sonder winsbejag en nuwe ondernemers. Hul vernaamste sterk punt is die invloed van hul netwerke, maar hulle is ’n gefragmenteerde groep wat ook deels van buitelandse skenkers afhanklik is. 

Na ons mening is die nuwe bondgenootskap wat Suid-Afrika nou nodig het een tussen kapitaliste, grondbesitters en die onderklas. Die landbou is die sektor waar hierdie verskillende groepe se belange byeenkom. Dus stel ons voor dat die georganiseerde landbou ’n bondgenootskap vorm met die kapitaliste om die landelike onderklas uit armoede te lig en Suid-Afrika ten goede te verander. Die volgende inisiatiewe kan oorweeg word.

Eerstens moet die georganiseerde landbou ’n private fonds saam met kapitaliste stig om plase te koop. Die private sektor sit op meer as R500 miljard se ongeïnvesteerde geld en daar is tans meer as 19 000 plase te koop. As plase deur ’n private fonds gekoop word, kan boere wat hul plase verloor het of kan verloor weens natuurrampe of die groter skaal waarop geboer word, op die grond gehou word om hierdie plase te bestuur en ’n groot landelike werkskeppingsprogram te begin.

Tweedens en saam met bogenoemde moet die georganiseerde landbou saam met private onderwysfirmas funksionele, bekostigbare landelike skole stig. Dié skole moet die model van moedertaalgegronde tweetalige onderrig wat deur dr. Neville Alexander en ander Suid-Afrikaanse taalkundiges ontwikkel is, toepas. Volgens hierdie model studeer kinders vir die eerste sewe skooljare in hul eerste taal, waarna Engels as onderrigmedium bygevoeg word, wat baie beter uitkomste verseker.

Die derde inisiatief wat saam met bogenoemde twee ontwikkel moet word, is die stigting van ’n onpartydige landbouparty. Soos belastingbetalersverenigings in munisipaliteite moet so ’n landbouparty suiwer daarop fokus om landelike munisipaliteite oor te neem om te verseker dat hulle die nodige dienste aan landelike gemeenskappe lewer. 

Dit is ’n beter strategie as die huidige een waar boere ’n dubbele munisipale belasting betaal, eerstens aan die munisipaliteit en tweedens deur slaggate reg te maak en ander dienste te verskaf wat korrupte munisipaliteite moet lewer, maar nie doen nie. So ’n party sal ook landelike dienslewering verseker en landelike gemeenskappe nader aan mekaar bring.

So ’n nuwe bondgenootskap tussen kapitaal, grondbesitters en die landelike onderklas kan die nodige opwaartse druk op die staat en die ekonomie plaas om minder koloniaal en werklik soewerein en demokraties te word.

Moeletsi Mbeki is ’n politieke ontleder en ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede en dr. Johann Rossouw is verbonde aan die departement filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Dié is ’n verkorte weergawe van hul aanbieding by die onlangse kongres van Vrystaat Landbou. (Rapport, 2016/09/11)

Ontvang my nuusbrief

Ek stuur toepaslike kommentare oor verskeie onderwerpe soos die geleentheid hom voordoen en nuwe opstelle van tyd tot tyd.
U inligting word nie met enige derdeparty gedeel nie en u kan enige tyd u nuusbriewe stop deur uit te teken.

Koop My Boeke

book01 book02 book03 book04
leesmeer leesmeer leesmeer leesmeer