oscar fotoDie opkoms en val van Oscar Pistorius leer ons iets van die grense van die moderne wil – en die tragedie waarin dit die mens kan dompel, skryf Johann Rossouw.

Die antieke Atheense wêreld met sy gode en helde is nog met ons in die vorm van die moderne sportbedryf, hoewel daar ook groot verskille bestaan tussen hoe sport vandag bedryf word en hoe die Atheners dit gedoen het. 

Vir die antieke Atheners was daar iets soos ’n vasgestelde kosmiese orde waarbinne elke individu sy of haar vaste plek gehad het. Waar daardie plek was, is bepaal deur die rol waarin jy gebore is – ’n skaapwagter, ’n vroedvrou, ’n prins. Om ’n voortreflike Athener te wees, moes jy jou gegewe rol voortreflik gespeel het deur ’n goeie skaapwagter, vroedvrou of prins te wees.

Vir antieke Athene was dit ondenkbaar dat die individu van sy of haar gegewe rol afwyk en iets anders probeer wees as wat jou lot bepaal het. 

Word hierdie jong sportmense geleer om hul eie grense te respekteer?

Diegene wat dit wel gedoen het, is beskou as mense wat die kosmos se ewewig versteur het. Om hierdie ewewig te herstel, moes hulle behoorlik gestraf word – gewoonlik deur met hul lewe te betaal. Sulke mense is beskou as tragiese helde – helde vir die durf wat hulle aan die dag gelê het deur die orde uit te daag, maar tragies weens hul hartseer einde.

Met die opkoms van die moderne wêreld, ongeveer 500 jaar gelede, het ’n ander siening van die kosmos en die individu ontstaan. Die antieke Atheense opvatting dat vryheid is om jou gegewe rol so voortreflik moontlik te speel, is laat vaar. So ook die idee dat daar ’n vaste kosmiese orde bestaan wat aan ons elkeen ’n vaste plek gee.

Voortaan het die idee posgevat dat die werklikheid vormbaar is, en dat die individu self ook nuwe vorme kan nastreef. Hierdie doelwitte kon nagejaag word deur die inspanning van die wil. 

Vir die 13de eeuse denker Thomas Aquinas het jy jou wil gebruik wanneer jy jou oorgee aan die goeie waarna jy van nature verlang. 

Vir die moderne era is jou wil eerder soos ’n klein koninkie waarmee jy oor jouself regeer en wat jou kan rig na doelwitte wat jy self kies.

Hierdie siening van menswees word algemeen voorgehou. Elke tweede popsielkundige of advertensie wil ons wysmaak dat solank jy iets regtig wil hê, kan jy dit kry. So asof daar geen natuurlike grense is wat eerbiedig moet word nie, en wat selfs die beste wil ter wêreld nie kan verskuif nie. Dit is veral in die moderne sportbedryf wat hierdie mite van die kragtige individu wat met brute wilskrag sy doelwitte verwesenlik, voorgehou word. 

Te oordeel na inligting oor Oscar Pistorius wat openbaar bekend is, lyk dit asof sy verhaal ’n moderne tragedie is. Dit is bekend dat Oscar vroeg in sy lewe sy bene verloor het, wat hom uiteraard broos en onseker in ons baie fisieke en gewelddadige samelewing gemaak het. 

Toe hy sy moeder op 14 verloor, het hy met groot wilsinspanning langs haar sterfbed homself gedwing om nie te huil nie, maar die volgende oggend het hy huilend wakker geword en hy kon nie ophou huil nie.

Toe Oscar ontdek hy kan uitblink in sy sportsoort, het hy ook dit met brute wilsinspanning aangepak. Die joernalis Gerald Imray vertel hoe Oscar in sy voorbereidings vir die Olimpiese Spele van 2012 vir hom op sy selfoon foto’s gewys het van “sy bloeiende beenstompies, rou geskaaf van die wrywing om om die baan op sy lemme te hardloop”.

Dit getuig alles van ’n brose, weerlose jong man wat die mite geglo het dat jy jou doelwitte teen alle teenstand in met brute wilsinspanning kan verwesenlik.

Ongelukkig is ’n mens nie net ’n wil nie. Jy het ook swakhede, verlangens, emosies. Wanneer dit alles deur die wil oorheers word, het dit ’n manier om die wil te ondermyn en groter kragte te ontketen. Dit kan manifesteer as swak selfbeheersing en swak oordeel.

In die hof het die staat ’n beeld voorgehou van Oscar as iemand wat soms ernstige woedebuie kon hê en gesukkel het om homself te beheer. Die staat het ook ’n saak probeer uitmaak dat ’n uitval wat Oscar en Reeva in die ure voor haar dood gehad het, Oscar tot blinde woede kon gedryf het met noodlottige gevolge. Die soort blinde woede van iemand wat nie geleer is dat jy nie alles kan kry en beheer deur jou wil nie.

Of dit is wat werklik gebeur het, sal seker nooit duidelik wees nie. Maar ás dit is wat gebeur het, wys die tragiese val van Oscar dat daar, net soos in die wêreld van die antieke Atheners, kragte groter as die mens is wat noodlottig vir die mens kan wees indien hulle teëgegaan word.

Dit laat ook ’n ander vraag: Wat doen die professionele sportwêreld om belowende atlete geestelik behoorlik te versorg? Word hierdie jong mense geleer om hul eie grense te respekteer? Word hulle geleer om mislukkings op ’n volwasse wyse te verwerk? 

Of is die harde waarheid dat hierdie jong mense geestelik gemanipuleer word om te glo dat hulle onoorwinlik is, sodat miljoene gemaak word, maar vele jong geeste en liggame uiteindelik noodlottig benadeel word?

Iets hiervan, wil dit lyk, was sigbaar in die verskriklike beelde van ’n huilende Oscar wat op sy stompies voor die hof moes paradeer in ’n stomme pleidooi ter strafversagting.

Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Ontvang my nuusbrief

Ek stuur toepaslike kommentare oor verskeie onderwerpe soos die geleentheid hom voordoen en nuwe opstelle van tyd tot tyd.
U inligting word nie met enige derdeparty gedeel nie en u kan enige tyd u nuusbriewe stop deur uit te teken.

Koop My Boeke

book01 book02 book03 book04
leesmeer leesmeer leesmeer leesmeer