Dit is te verstane dat gewone Suid-Afrikaners bekommerd is oor die gevolge van President Jacob Zuma se jongste kabinetskommeling. Maar dalk is dit ’n bedekte seën. Om te verstaan waarom, moet die jongste gebeure in die konteks van ’n baie lang geskiedkundige ontwikkeling gesien word, naamlik Suid-Afrika se moeisame soeke na ’n lewe anderkant ons koloniale erfenis. Ek het al dikwels verwys na die feit dat SA se ekonomiese en staatstruktuur nog grootliks onveranderd en koloniaal is sedert dit met Uniewording in 1910 beslag gekry het. Blywende kenmerke van hierdie koloniale struktuur sluit in: – dat groot dele van die winste van die SA ekonomie geëkspatrieer word; – dat ons ekonomie grootliks gebaseer is op die onttrekking en uitvoer van minerale, waar die bewindhebbers van die dag optree as tussengangers vir buitelandse kapitale belange; – dat die land afhanklik bly van die invloei van buitelandse beleggings om die ekonomie aan die gang te hou, wat nog te sê te laat groei; – dat die bewindhebbers van die dag hulleself altyd meet aan die hand van een of ander eksterne verwysingspunt (1910-48: Londen; 1948-94: die Weste; 1994-: Beijing); – dat die parlement nie werklik die setel van politieke mag is nie; – dat die land se netwerke van kommunikasie grootliks in die hande van die staat en die korporatiewe wêreld is; – dat die vervoernetwerk gesentraliseer is rondom stedelike gebiede ten koste van landelike SA; – dat een taal ten koste van die ander inheemse tale voorgetrek word; – dat politieke mag erg gesentraliseer is; – dat die koloniale strategie van verdeel en heers gebruik word om aan mag vas te klou. Sowel die eertydse Nasionale Party as die vinnig sterwende ANC is min of meer dieselfde tyd gestig as nasionalistiese bewegings van anti-koloniale verset, en albei het na magsoorname kort voor lank die agente van die koloniale ekonomiese en staatstruktuur geword, in plaas daarvan om dit werklik te hervorm om die burgery van die land te dien. Albei partye het wel daarin geslaag om van hulle ondersteuners se belange te bevorder – die NP kon ’n beduidende Afrikaner-bourgeoisie vestig, nes die ANC dit ook gedoen het. Die swart bourgeoisie is egter veel afhankliker van die staat tans as wat die Afrikaner-bourgeoisie onder die NP was, wat bewys word deur die feit dat die Afrikaner-bourgeoisie sigself nie na die val van apartheid kon handhaaf en groei, terwyl groot staatskontrakte, staats- en semi-staatsinstellings as werkgewers, en die stelsel van maatskaplike toelae onderskeidelik ryk swart sakelui, die swart middelklas, en die swart onderklas baie afhanklik van die staat maak. Ondanks die feit dat albei partye segmente van hulle belangegroepe se belange kon bevorder, het hulle verknogtheid aan ’n nasionalistiese ideologie tesame met gebrekkige insigte in die aard van die koloniale staat en ekonomie wat hulle geërf het, veroorsaak dat hulle in gebreke gebly het om ’n staat en ’n ekonomie tot stand te bring wat die belange van die breë burgery op volhoubare basis kan dien, en om beter samewerking tussen die verskillende segmente van SA se diep verdeelde samelewing tot stand te bring. In die geval van die NP het dit daartoe gelei dat hulle uiteindelik hul morele kapitaal verspil het om ’n fundamenteel illegitieme koloniale struktuur te handhaaf, wat uiteindelik tot hulle ondergang gelei het. Dieselfde het met die ANC gebeur, en hulle is nou in die eindfase van dieselfde proses. Dit bring ons by die presidensie van Jacob Zuma. Ongeag watter kostes Zuma se presidensie vir SA meegebring het en nog op die korttermyn gaan meebring, het hy ’n baie belangrike bydrae tot die land se politieke toekoms gelewer. Die saak staan so. Ondanks die feit dat korrupsie en selfverryking wel onder die NP, asook die bewinde van Nelson Mandela en Thabo Mbeki plaasgevind het, was dit nooit op so ’n skaal dat dit ten koste van die onderskeie politieke partye self was nie. Hierdie toedrag van sake is finaal agtergelaat met Zuma se verkiesing as president van die ANC (2007) en die land (2009). Waarom? Wel, daar bestaan sterk aanduidings dat Zuma reeds omgekoop was teen die tyd wat hy president van die ANC en later SA geword het. Die algemene tendens vir ’n omgekoopte politikus is dat hy ná die eerste omkooptransaksie noodlottig verswak is – hy is nie net op permanente risiko dat sy bedrog op die lappe gaan kom en sy loopbaan gaan beëindig nie, maar die moontlikheid bestaan altyd dat hy weer aan die versoeking van omkopery sal toegee. Ook hieroor bestaan daar sterk aanduidings dat dit presies is wat met Zuma gebeur het. Zuma se oplossing hiervoor was op die kort termyn slim, maar op die langtermyn onvolhoubaar, naamlik dat hy ’n patronaatnetwerk om hom gevestig het wat beheer oor die ANC en uiteindelik oor die staat oorgeneem het. Die probleem is dat hierdie oorname baie was soos ’n ou wat die tak waarop hy sit, afsaag, en wel omdat die ANC en die staat in die proses noodlottig verswak is. Die staat kan en sal waarskynlik hierdie proses oorleef, maar soos onder meer die uitslae van 2016 se munisipale verkiesing aandui, is die ANC op ’n onomkeerbare pad van selfvernietiging. In die sin dat die voorwaarde vir die begin van ’n tydvak anderkant SA se koloniale era die verdwyning van die ANC is, het Zuma die land dus onbedoeld ’n reuse guns bewys. Ofskoon hy en sy patronaatnetwerk tans nog in beheer van die ANC is, is daar tekens dat hulle houvas op die parlement, die ekonomie en die staat besig is om te verswak. Hierdie tekens sluit in die opbouende openlike interne teenstand teen Zuma en kie van die ANC se moderniste soos Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan; die groeiende groepie ANC-parlementslede wat hulle werk in komitees ernstiger begin opneem en doen waarvoor hulle betaal word; die begin van die land se afgradering na rommelstatus; en die groei van breë burgerlike verset. Oorhoofs beskou berus Zuma en sy patronaatnetwerk se mag nou op die houvas wat hulle oor arm, landelike Suid-Afrikaners het danksy die stelsel van maatskaplike toelae wat gefinansier word uit belastingbetalersgeld, wat gefinansier word deur ’n krimpende ekonomie. Iewers moet iets meegee, en dit is besig om voor ons oë te gebeur. Waarom? Wel, in tegniese terme staan die volgende magte nou teen Zuma en sy patronaatnetwerke: groot sakelui (ongeag kleur), die bourgeoisie (ongeag kleur), die vakbonde (ongeag kleur), geloofsgroepe (ongeag kleur), die media, en natuurlik internasionale kapitaal. Zuma en sy patronaatnetwerk gaan spoedig soos die eens magtige Nasionale Party uitvind dat jy nie onbepaald teen die burgery en die markte kan regeer nie. Op die langtermyn kan niemand voorspel wat die vorm is wat ’n nuwe politieke bondgenootskap vir die post-koloniale tydvak in SA gaan aanneem nie, maar dit moet kom. Op die korttermyn is Zuma oënskynlik besig om planne te maak vir die oorlewing van sy eie familie en die families met wie hulle intiem saamwerk, wat toenemend die ANC se kanse op ’n oorwinning in die 2019-verkiesing ondermyn. In feite het hy dus nou ’n waarskynlik laaste fase betree, waar sy familiebelange indruis teen die belange van sy partygebaseerde patronaatnetwerk en die party wat hulle verteenwoordig. Een of ander tyd gaan ook hulle teen hom kies. Waar laat dit die res van ons? Tim du Plessis het in ’n netjiese artikel in Rapport (2017/4/2) uitgewys dat die kollektiewe energie vir ’n nuwe orde in SA ’n voertuig en ’n leier benodig. Miskien is die regte voertuig dat die verskillende bovermelde instansies van verset teen Zuma en sy patronaatnetwerk eersdaags ’n nasionale burgerlike konferensie uitroep om saam te werk aan ’n visie en strukture wat SA finaal anderkant die koloniale tydvak sal neem. Hieruit kan ’n losse koalisie vir verandering ontstaan waarin samewerking ter wille van gedeelde belange die wagwoord is. So kan ons, in Breyten Breytenbach se bekende woorde, mekaar saam andersmaak.