Die eerste twee weke van Donald Trump se presidensie is byna verby. Dit is reeds duidelik dat hy nie net heelwat van sy verkiesingsbeloftes gaan nakom nie, maar ook dat hy dit teen ’n hoë tempo doen. Een van die faktore wat dit moeilik maak om Trump te peil, is die verhitte, partydige klimaat waarin hy opereer (en waartoe hy natuurlik self bydra). Een voorbeeld hiervan is hoe sy omstrede uitvoerende bevel wat vir 90 dae ’n beperking op burgers van sewe Midde-Oosterse lande plaas om die VSA binne te gaan onderwyl ’n stelsel van strenger grensbeheer ontwikkel word, sonder meer deur heelwat mense en media-instellings tot ’n “Moslem-verbod” verklaar is.

Hierdie losse omgang met die feite help nie juis om Trump te beoordeel nie. Alvorens hieronder stilgestaan word by waarheen die Trump-presidensie moontlik onderweg is, moet eers aandag gegee word aan die trauma en verlange waaruit Trump oënskynlik handel.

Om dit te doen, kan begin word by twee veelseggende oomblikke rondom Trump se inhuldiging op 20 Januarie 2017 as die 45ste Amerikaanse president. Die eerste hiervan was die paar minute nadat Trump sitting op die podium van eregaste geneem het, en voordat hy ingehuldig is en sy toespraak gehou het. Gesien uit ’n liturgiese perspektief het Trump hom in daardie paar minute bevind in ’n seldsame toestand tussen twee simboliese ruimtes – dié van sakeman en dié van president, die een wat hy lewenslank ken, die ander waarvan hy ’n groentjie is. In daardie paar tussenminute was Trump onder die TV-kameras senuweeagtig, ongemaklik en onseker, so asof die grootsheid van die liturgiese gebeure van sy inhuldiging gelei het tot ’n seldsame openbare vertoning van onsekerheid by hom.

’n Tweede soortgelyke oomblik was toe hy tydens een van die balle vir sy inhuldiging op Frank Sinatra se My Way met sy vrou gedans het en die woorde ewe lomp saamgesing as wat hy gedans het, terwyl hy in haar oë kyk. Albei hierdie oomblikke het die indruk versterk van ’n man wat ondanks sy gekultiveerde sterkmanvoorkoms inderwaarheid besonder emosioneel en selfs emosioneel onafgerond is. Sonder om dit neerhalend te bedoel, het veral die oomblik by die bal iets opgeroep van ’n onseker matriekseun wat hard probeer om selfvertroue uit te straal terwyl hy worstel met ’n warboel emosies.

Gestel bogenoemde vat iets van die persoonlikheid van Trump saam, waarna verlang Donald Trump dan as hy sê “Make America great again”?

Om hierdie vraag te beantwoord, mag dit help om na aspekte van Trump se lewensverhaal te kyk. Hy is gebore in 1946. Hy word groot in ’n rykmanshuis en is ’n tiener tussen 1956 en 1966. In daardie twintig jaar was die VSA ná die verslaning van die Nazi-regime en in die aangesig van die Sowjet-Unie die onbetwiste leier van die vrye wêreld, en kon dit nog in die openbaar aanspraak maak op ’n soort morele onskuld. Bowendien was wit Amerikaners ook in beheer van die VSA.

Vanaf die middel 1960’s vind ’n reeks gebeure plaas wat die VSA se wêreldleierskap in die gedrang bring, sy morele onskuld vernietig en witmense in die VSA se beheer ernstig uitdaag. Hierdie gebeure sluit in: die Amerikaanse burgerregtebeweging; die Viëtnam-oorlog; die verswakking van die Amerikaanse vervaardigingsektor en gepaardgaande werksverliese; die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van China, Indië en Rusland; 9/11; en die verkiesing van die eerste swart Amerikaanse president. Vir baie wit Amerikaners verteenwoordig die afgelope vyftig jaar dus ’n ervaring van volgehoue verlies en trauma.

Dit moet ook gesê word dat al hierdie gebeure tot met 2016 deur (meesal wit) Amerikaners aan die ontvangkant daarvan verbind word aan die liberale orde wat ná die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het. Verskeie kommentators, waaronder Flip Buys, het al hierop gewys. Buys skryf:

n Groeiende deel van die publiek voel dat die politici net hul eie belang dien, dat die media hulle wil manipuleer, dat politieke korrektheid wil voorskryf wat hulle mag dink en sê, en dat die wêreldekonomie hulle verarm. In die VSA het mense boonop begin voel dat hul kinders misbruik word om verafgeleë oorloë te voer ter wille van die elite se politieke doelwitte pleks van nasionale belang.

Die gevolge kan nou gesien word in n Westers-wye demokratiese opstand teen die gesagsorde se liberale agenda. Die publiek vind aanklank by regse partye se standpunt dat die elite eerder internasionale belange as hul eie nasionale belange dien, dat oop grense en grootskaalse immigrasie hul lewenswyse bedreig, en dat hul heersers Westerse waardes ter wille van internasionalisme opoffer.

Gegewe dat liberale hulself dikwels aan die kant van die underdog plaas, is dit nogal ironies dat aanhangers van die Westerse liberale orde oënskynlik dikwels nie die verliese aan eie lyf voel wat soveel van die wêreldpolitiek dryf nie. Gegewe dat sielkundige navorsing al hoe meer fokus op die belang van ’n mense adolessensie vir jou vorming, is dit geensins vreemd dat ook Donald Trump sou terugverlang na die VSA van sy jeug nie. Iets hiervan kan gesien word in ’n uitstekende artikel deur Tom McCarthy vir The Guardian.

Vir die artikel het McCarthy Bethlehem, Northampton-distrik, Pennsilvanië besoek. Die Bethlehem-staalfabriek was op sy dag die grootste van sy soort in die VSA. Op sy hoogtepunt het dit meer as 33 000 werknemers gehad en die staal vir amper elke Amerikaanse gebou van naam verskaf. Dit is al meer as twintig jaar gelede gesluit. Ofskoon Bethlehem tradisioneel ’n werkersklasbastion van die Demokratiese Party was, het genoeg mense in die distrik vir Trump gestem om ’n beduidende verskil te maak.

Een van die min Trump-ondersteuners wat bereid was om openlik met MacCarthy te gesels, is die bestuurder en mede-eienaar van die Hotel Bethlehem, Bruce Haines. Nadat die hotel sy deure in die 1990’s gesluit en amper in ’n verpleegtehuis verander is, het Haines en sy vennote dit gekoop en tot sy vorige glorie herstel – hieruit spreek al reeds ’n verlange na ’n verlore verlede. In sy gesprek met die joernalis, McCarthy, word Haines soos volg aangehaal:

Bethlehem is the Christmas City. And this year, when I went out on the street or wherever it was, people coming into the hotel, it was ‘Merry Christmas’. For the first time, and people were sort of proud of it. Saying ‘Merry Christmas’. And before it was ‘Happy Holidays’.

We’ve always marketed ourselves as the Christmas City. But over the years, people got a little anxious about saying that. So now it’s like, it’s almost like I left the country for eight years, and now it’s back. Like the country that I grew up in is now returning.

“Now, whether all that will happen or not, who knows.

’n Duideliker verwoording van die verlange na ’n bewustelik Christelike VSA waar witmense in beheer is, kan ’n mens jou kwalik indink.

Daar is uit die aard van die saak niks daarmee verkeerd om te wil tuis voel tussen jou eie mense en jou eie lot te bepaal nie – en in hierdie geval slaan “wit” nie soseer op velkleur nie as op die Europees-Christelike erfenis van die koloniale stigters van die VSA. Die sowat 8% swart Amerikaners en die sowat 30% Amerikaners met ’n Spaanse agtergrond wat vir Trump gestem het, identifiseer waarskynlik ook met hierdie erfenis.

Die eintlike uitdaging waarvoor Trump te staan kom, is hoe om sy ondersteuners weer in hulle eie land tuis te laat voel. Anders gestel: Trump verteenwoordig ’n belangrike breuk in die gesag van die liberale orde, maar of hy daardie breuk skeppend gaan ontgin om sy belangegroep tuis te laat voel, is ’n ander saak. Waarom so?

In die eerste plek, ofskoon Trump aanspraak maak op nie-liberale Amerikaners is sy probleem dat hy self ’n produk van die liberale Ooskus-elite is. Bowendien is dit nou na die eerste twee weke van sy presidensie duidelik dat hy steun op ’n oerliberale mite, naamlik dié van die selfgeskepte man wat nie net homself nie, maar ook die wêreld met sy wil na sy beeld wil omvorm. Afgesien van die feit dat dit ’n argetipiese liberale benadering is, is dit ook haaks op die Amerikaanse regeringsbestel, waarin partye, die Huis van Verteenwoordigers, die Senaat en verskeie ander liggame almal belangrik is. Dit is doodeenvoudig nie moontlik nie om op die lange duur jou beleid hoofsaaklik deur presidensiële uitvoerende bevele deur te voer nie.

In die tweede plek kan die groot infrastruktuurprojekte en die herstel van Amerikaanse vervaardigingskapasiteit miskien op die korttermyn ’n verskil aan Amerikaanse werkskepping maak, maar gaan dit op die duur standhoudende werk skep? Om nie te praat van die ekologiese skade wat aangerig kan word deur die projekte wat Trump reeds voorstaan nie, soos die veelbesproke pypleiding in Noord-Dakota.

In die derde plek is daar heelwat vrae oor Trump se persoonlike lewe en sakeloopbaan. Hoe anders sou die veelbesproke dossier oor die Russe se beweerde houvas op Trump soveel aandag getrek het? Dit is nie ondenkbaar nie dat Trump se vinnig vermeerderende vyande – ook in die Republikeinse Party – hom mettertyd tot ’n val sal bring. Dit sal die deur open vir Mike Pence om president te word. Pence is ’n produk van die Amerikaanse sout van die aarde en het bewese ervaring van die nie-stedelike VSA. Bowendien is sy verhouding met die Republikeinse Party beter as Trump s’n, en sal hy waarskynlik ’n stabieler president as Trump wees.

As ’n mens ’n stappie verder terugstaan, kan jy tot die slotsom kom dat ook Trump vandag tekenend is van wat traumapolitiek genoem kan word: Bykans elke noemenswaardige politieke beweging vandag spruit uit die traumatiese ervaring van onverwerkte verlies, wat alles bydra tot die verhitting van die politieke klimaat. Putin is gebore uit die verlies van die Sowjet-Unie; Islamitiese ekstremisme uit volgehoue Arabiese en Moslem-nederlae teen die Weste; Black Lives Matter uit sommige swart Amerikaners se ervarings van vernedering en verlies. Ook die opkomende regse Europese partye en Brexit word uit sodanige ervarings gevoed. China en Indië wat hulle geskiedkunige plekke ná die taning van Westerse oorheersing wil herwin.

So ’n politiek van trauma is nie volhoubaar nie. Op die duur moet dit lei tot ’n oplossing op basis van wedersydse erkenning, of ’n vertroeteling van die eie verlies vergesel van ’n verharding.