Pas ná Donald Trump se verkiesing as die 45ste president van die Verenigde State van Amerika (VSA), was die vraag op die meeste mense se lippe: Hoe het dit gebeur? Die vraag is om verskillende redes gevra. Sommige mense het aanvaar die meeste meningspeilings se voorspelling dat Hillary Clinton sou wen, was korrek – ondanks die feit dat sodanige peilings keer op keer problematies blyk te wees. Ander mense kon eenvoudig nie dink dat iemand wat soveel afstootlike uitlatings soos Trump oor vroue, immigrante en Moslems – onder vele meer – maak, kon wen nie.

Terwyl die vraag oor hoe dit gebeur het nog intens bespreek word, begin al hoe meer mense ’n ander vraag vra: Wat gaan gebeur met Trump as president van die VSA? Een siening wil dit hê dat gegewe die feit dat die Republikeine vir die eerste keer sedert president Herbert Hoover in 1928 sowel die presidensie, die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers beheer, Trump ’n verwoestende bewind gaan hê met onder meer ’n ondermyning van die stappe teen aardverwarming, ’n aanslag op die vrye media in die VSA en ’n skrikbewind teen Moslems en ander minderhede – Jonathan Freedland van The Guardian sit die saak vir hierdie siening uiteen. 

Nog ’n siening herhaal ’n argument wat dikwels oor Amerikaanse presidente die afgelope dertig jaar of wat gemaak word, naamlik dat die wigte en teenwigte in die Amerikaanse stelsel, asook die wye reeks kragte waaraan die VSA vandag soos enige ander land ter wêreld onderworpe is, President Trump ondanks sommige van sy wilde beleidsvoorstelle onvermydelik na die sentrum sal druk om matig regse beleide in byvoorbeeld die ekonomie en teenoor die buiteland te handhaaf – die gerespekteerde ekonoom Nouriel Roubini sit die saak vir hierdie siening uiteen. 

Myns insiens is daar iets vir albei sienings te sê, maar aangesien Trump geen ervaring as politieke ampsdraer het nie, is dit moeilik om te voorspel hoe hy gaan optree wanneer hy amptelik op 20 Januarie 2017 as president ingewy word. Die feit dat die establishment van die Republikeinse Party nie daarin kon slaag om hom te beheer in sy opmars na die Withuis nie, laat wel ernstige vrae oor die mate waartoe die wigte en teenwigte inherent tot die Amerikaanse regeringstelsel hom sal inperk. Gegewe die feit dat die Republikeinse Party ook verskillende faksies huisves – soos skitterend belig deur Norman J. Ornstein en Thomas E. Mann – kan verwag word dat die verskillende faksies sal probeer om verteenwoordigers in Trump se kabinet te kry, en gegewe hulle interne verdeelheid ’n remmende krag sal wees. Dog, die feit dat, soos Ornstein en Mann uitwys, die Republikeinse Party reeds vanaf die laat 1980’s ’n strategie volg om die Amerikaanse regeringstelsel se legitimiteit te ondermyn deur telkens nog meer radikale eise en sentimente ’n platform te gee, maak dit ewe moontlik dat die verskillende faksies mekaar sal probeer oortref in die radikaliteit van voorgestelde beleide.

Die tyd sal wel leer hoeveel waarheid daar in bostaande bespiegeling skuil. Een manier om wel groter duidelikheid te kry oor die vraag na wat gaan gebeur, is om vir eers langer stil te staan by die vraag wat het gebeur. Die argument wat hier aangevoer gaan word, is dat Trump se verkiesing die maaksel is van die nuwe liberale orde wat met groot fanfare aangekondig is op die dag presies 27 jaar voor sy oorwinning bekend geword het – die Val van die Berlynse Muur op 9 November 1989. Anders gestel, dieselfde kragte wat ’n wêreld sonder grense beloof het, het gelei tot ’n wêreld van mure, waarvan Trump se voorgestelde Mexikaanse Muur en Israel se Palestynse Muur tekenend is. Hoe het dit gebeur?

In ’n uitstaande klein boekie van skaars 96 bladsye, Éloge des frontières (Tot lof van grense, Parys: Gallimard, 2010) wys Régis Debray op ’n noodlottige vergissing van die na-Koue Oorlog liberale orde, naamlik die aanname dat die aftakeling van grense tot meer vrede sal lei. Presies die teenoorgestelde is waar: Hoe minder grense, hoe meer onsekerheid en hoe meer konflik. Die moderne staat Israel se probleem, sê Debray, is dat hy nie kan besluit waar sy grense moet lê nie. Dit dompel hom in al hoe meer konflik en het gelei tot die bou van die Palestynse Muur. Debray se tese is eenvoudig: Wie vrede ag, moet duidelike grense trek; wie nie die grense trek nie, open die deur vir muurbouers en maak die lewe baie moeilik vir brugbouers.

In die 27 jaar sedert die Val van die Berlynse Muur is alle grense vir (veral Amerikaanse) kapitaal oopgestel. Terselfdertyd is daar tussen 1991 en 2010 volgens Debray (p.19) 27 000 kilometer se nuwe nasionale grense in veral Europa en Asië getrek, terwyl daar in 2009 en 2010 wêreldwyd 26 ernstige grenskonflikte tussen state wêreldwyd gewoed het.

Die effekte van die ontperking van kapitaal was oor die algemeen verwoestend: in Europa en Noord-Amerika is talle mense werkloos gelaat soos wat vervaardiging ter wille van goedkoper arbeid na ander lande geskuif is; die mate waartoe al hoe meer van die VSA en die wêreld se rykdom in die hande van al hoe minder mense gekonsentreer is, staan op ongekende vlakke; die verskuif van kapitaal na belastingparadyse het die besteebare inkomste van state vir maatskaplike behoeftes ingeperk. In die VSA is ’n ander grens op kapitaal tydens die tweede termyn van president Bill Clinton in 1999 opgehef met die skrapping van die Glass-Steagall wet, wat uit die Depressiejare dagteken, en waaroor meer hieronder.

Met die ontperking van kapitaal in die liberale orde het jaarlikse fora soos Davos en die Bilderberg-groep toenemend geneig om die grense tussen die politiek en die ekonomie te laat vervaag. By fora soos hierdie is dit deesdae doodnormaal dat politieke ampsdraers, superryk sakelui en beroemdes gesellig saam verkeer en hulle netwerke verstewig. Die besluite wat die lot van gewone kiesers bepaal, word in hierdie fora weg van die oorsig van parlemente en die media geneem, terwyl parlemente en die media toenemend blote geleibuise van die invloed van hierdie netwerke word. Walter Benjamin (1892-1940), een van die Joodse denkers wat voor die Nazi’s moes vlug, skryf in een van sy beroemdste uitsprake in 1936:

The present crisis of the bourgeois democracies comprises a crisis of the conditions which determine the public presentation of the rulers. Democracies exhibit a member of government directly and personally before the nation’s representatives. Parliament is his public. Since the innovations of camera and recording equipment make it possible for the orator to become audible and visible to an unlimited number of persons, the presentation of the man [or woman] of politics before camera and recording equipment becomes paramount. Parliaments, as much as theaters, are deserted. Radio and film not only affect the function of the professional actor but likewise the function of those who also exhibit themselves before this mechanical equipment, those who govern. Though their tasks may be different, the change affects equally the actor and the ruler. The trend is toward establishing controllable and transferrable skills under certain social conditions. This results in a new selection, a selection before the equipment from which the star and the dictator emerge victorious.

Ons weet vandag dat Adolf Hitler die eerste politieke leier was wat in samewerking met sy propagandaminister en massakommunikasiegenie, Josef Goebbels, die radio en die televisie suksesvol ingespan het om die normale wigte en teenwigte van parlementêre demokrasie uit die pad te vee en sy eie agenda op sy land af te dwing. Ook na hierdie tema word hieronder teruggekeer, wanneer verder stilgestaan word by die werklikheidstelevisiester, Donald Trump.

Hierbo is verwys na die afskaffing van die Glass-Steagall wet in 1999 kort voor die einde van Bill Clinton se tweede presidentstermyn. Serge Halimi, ’n voormalige redakteur van die gesaghebbende Franse maandblad Le monde diplomatique en kenner van die Amerikaanse politiek, verduidelik in ’n artikel, wat in dié blad se uitgawe van Junie 2010 gepubliseer is, wat die aanloop tot die afskaffing van die wet was. In die derde jaar van sy eerste ampstermyn van vier jaar het Clinton sy veldtog vir herverkiesing begin voorberei. Een van sy uitdagings was om geld vir sy veldtog te bekom. Een van die idees waarop hy besluit het, was om potensiële skenkers vir sy veldtog vir ’n “werkskoffie” na die Withuis te nooi. Soos Halimi dit stel kon “potensiële skenkers van die Demokratiese Party ... lede van die uitvoerende gesag wat hulle bedrywighede moes reguleer, ontmoet.” Halimi haal ’n woordvoerder van Clinton, mnr Lanny Davis, aan as sou die idee met so ’n “werkskoffie” wees “om lede van die reguleringsagentskappe in staat te stel om beter te verstaan wat vir die verskillende bedrywe belangrik is.”

Op 13 Mei 1996 is van die belangrikste bankiers van die VSA vir sowat 90 minute by die Withuis ontvang. Van die idees wat bespreek is, is hoe om weg te doen met wetgewing wat ná die ineenstorting van die Amerikaanse Aandelebeurs in 1929 ingestel is onder die bewind van die grootste Demokratiese president van die 20ste eeu, Franklin D. Roosevelt, die argitek van die New Deal wat die VSA van ekonomiese ondergang gered het en die basis vir die opkoms van die Amerikaanse middelklas gelê het. Daardie wetgewing was die Glass-Steagall wet wat toe in 1999 afgeskaf is.

Volgens Halimi het dié afskaffing gelei tot die “orgie” van finansiële spekulasie, wat ten einde gekom het met die ineenstorting van Lehman Brothers-bank en die sogenaamde subprimabehuisingsmark in September 2008, waarin miljoene Amerikaners hulle werk en hulle huise verloor het. Dit ly geen twyfel nie dat hierdie gebeure ’n groot oorsaak was van woede onder die Amerikaanse middelklas en werkersklas, wat volgens alle aanduidings hulle rug op Hillary Clinton gedraai en vir Trump gestem het – of eenvoudig van die stembus weggebly het, en Trump so bevoordeel het.

Maureen Dowd, ’n gerespekteerde joernalis van The New York Times, wys daarop dat die egpaar Clinton sedert 2001 meer as 230 miljoen dollar verdien het, en dat Hillary in aanloop tot die verkiesing nie geskroom het om nóg sakke vol geld te maak deur toesprake vir Goldman Sachs te lewer nie. Kortom, die egpaar Clinton is so gekompromiteer as lede van die Washington politieke elite en deur hulle bande met Wall Street, dat haar verkiesing tot president waarskynlik geen verskil sou maak aan die geldige redes vir die woede van miljoene Amerikaanse kiesers nie. Die feit dat sy ooglopend meer ervaring van regering en ’n meer afgeronde persoonlikheid met ’n beter begrip van buitelandse beleid as Trump het, is eenvoudig nie voldoende om ’n verskil aan die bronne van kieserswoede te maak nie.

Wat dan van Trump? Redes vir steun aan Trump wat deur sy ondersteuners aangevoer is, sluit in dat hy eerlik en reguit sê hoe dinge regtig is, in niemand se sak is nie,  nie ’n lid van die gehate Washington- en Wall Straat-elites is nie, en ’n suksesvolle sakeman is. Die Amerikaanse TV-program van ondersoekende joernalistiek en komedie, Last Week Tonight With John Oliver, het in hulle uitsending van 28 Februarie 2016 korte mette met hierdie stellings gemaak. 

Die program wys uit dat die politieke feitekontroleringsinstansie, Politifact, uitgewys het dat 76% van Trump se stellings in 2015 beskryf kan word as “false, mostly false or pants on fire”; dat hy anders as wat hy beweer nie sy verkiesingsveldtog self befonds het nie; dat hy gereeld leë dreigemente maak om mense deur die hof te vervolg; dat hy in plaas van soos hy beweer nie nagenoeg 10 miljard dollar werd is nie, maar dalk so min as 250 tot 300 miljoen dollar; dat hy in ’n 2007 eedverklaring aangedui het sy skatting van sy batewaarde berus op “feelings, my own feelings ... and that can change rapidly from day to day”; dat ’n deel van sy batewaardeskatting die waarde van sy handelsnaam op 3 miljard dollar is – ’n volkome ontasbare bate; dat hy ’n hele reeks sakeondernemings die laaste vyftien jaar aangepak en misluk het; dat hy ondanks bewerings dat hy nooit in hofeise skik nie dit wel in twee prominente gevalle met mislukte eiendomsprojekte in Mexiko (2006) en Florida (2008) gedoen het; dat hy nie juis haastig wys om afstand te neem van die steun wat die bekendste lid van die wit rassistiese Ku Klux Klan, David Duke, vir hom uitgespreek het nie; en dat hy as strategie teen Islamitiese terroriste voorgestel het om hulle families “uit te haal”, wat ’n oorlogsmisdaad sou wees.

Hierby moet nog sy vieslike uitsprake oor vroue gevoeg word, sy uitlating dat Mexikane verkragters is, en die agterdog wat hy teenoor Moslems aangeblaas het. En dat ’n man wie se oupa en pa in eie reg multimiljoenêrs was allermins beskryf kan word as iemand wat nie deel van die elite is, ondanks die feit dat hy wel nie ’n lid van die Washington politieke elite is nie.

Op die keper beskou, is dit dus ondenkbaar dat enigiemand vir Trump sou stem – behalwe as ’n mens hom beskou as ’n simptoom van die woede waarvan mense soos die egpaar Clinton ’n oorsaak is. Anders gestel: die woede wat deur die liberale orde se minagting van gewone mense se ekonomiese dilemmas, hulle gevoelens van onsekerheid oor swak onderhoude grense en hulle liefde vir die eie veroorsaak word, het mense gedryf in die arms van die demagoog en werklikheidstelevisiester, Trump. Trump is die naam van die siekte wat ontstaan in die afstand tussen ryk, kosmopolitiese elites en gewone mense se behoeftes en vrese. Laasgenoemde gaan dikwels gepaard met rassisme, maar dis belangrik om te verstaan dat mense nie onseker is omdat hulle rassiste is nie, maar rassisties word wanneer hulle onseker voel en al wat ander is vir hulle probleme blameer. Die keuse tussen Trump en Clinton was dus geen keuse nie, omdat die liberale orde geen ware keuse toelaat nie. Hieroor skryf die groot kritikus van die liberale orde, Alasdair MacIntyre, in sy boek Whose Justice? Which Rationality? (1989):

The consumer, the voter, and the individual in general are accorded the right of expressing their preferences for one or more out of the alternatives which they are offered, but the range of possible alternatives is controlled by an elite, and how they are presented is also so controlled. The ruling elites within liberalism are thus bound to value highly competence in the persuasive presentation of the alternatives, that is, in the cosmetic arts. (p.345)

Die “cosmetic arts” waaroor MacIntyre dit het, bring ons terug by hoe radio en televisie reeds volgens Benjamin in die 1930’s die ster en die diktator as oorwinnaars uit die stryd laat tree. Hier moet die reuse impak wat Trump se werklikheidstelevisieprogram, The Apprentice, gemaak het, nie onderskat word nie. Ook nie sy uitsprake op Twitter nie, wat, soos sy biograaf, Gwenda Blair, uitwys die versigtig gekultiveerde dog valse indruk skep dat hy reguit sê wat hy dink en hom nie deur beeldpoetsers laat beheer nie.

Wat die gebrek aan keuse binne die liberale orde betref, wys MacIntyre daarop dat “the contemporary debates within modern political systems are almost exclusively between conservative liberals, liberal liberals, and radical liberals. There is little place in such political systems for the criticism of the system itself, that is, for putting liberalism in question.” (p.392) Bernie Sanders, wat die enigste van die ernstige aanspraakmakers op die presidensie die naaste daaraan kom ’n verantwoorde politikus is wat werklik nie deel van die elite is nie, het tog in ’n mate die liberale orde bevraagteken, maar waarskynlik was dit een te veel vir die kieserspubliek van die Amerikaanse liberale orde, wat nog nie op die punt is om hierdie orde self ernstig te bevraagteken nie.

Hulle sou dit miskien kon doen as die Republikeinse Party kan wegbreek uit die verskraling van ’n verbintenis tot grenslose kapitaal, hiperindividualisme en ’n verbete ondermyning van enigiets wat na regering lyk. Die konserwatiewe tradisie op sy beste kultiveer ’n sin vir gemeenskap, vir die plaaslike, vir die politieke tradisie van ’n land, vir ’n ekonomie wat die gemeenskap se selfstandigheid bou eerder as breek. Amerikaanse Republikeine wat hierdie gedagtes voorstaan, is ná Trump se verkiesing nog verder na die rand gedruk as voorheen.

Trump self sal waarskynlik nie daardie verkiesingsbeloftes kan nakom waarvoor hy die meeste woedende steun ontvang het nie, soos om Hillary Clinton “op te sluit” of Obamacare af te takel nie. Heel veelseggend het hy met sy eerste TV-onderhoud ná sy verkiesing as president juis hierdie twee beloftes beskryf as nie sy eerste prioriteite nie. Oor sy Mexikaanse Muur swyg hy ook sedert sy verkiesing. Trump het dus oënskynlik heel sinies die woede van die Amerikaanse kieserspubliek aangeblaas, maar as hierdie reeksleuenaar en bemarker wat hom graag as besigheidsman voordoen eers sy ware kleure begin wys, gaan die woede teen die Amerikaanse liberale orde net in felheid toeneem. Indien hierdie woede nie gekanaliseer kan word deur ’n nuwe konserwatiewe politieke beweging met standpunte soos in die vorige paragraaf beskryf is nie, kan enorme druk op die Amerikaanse politieke stelsel en sy stabiliteit geplaas word.

Die rede waarom soveel mense wêreldwyd so senuweeagtig oor hierdie stand van sake is, word saamgevat deur die Franse filosoof en skrywer, Régis Debray, in ’n TV-onderhoud wat in Mei vanjaar met hom gevoer is: “Die probleem van die VSA is dat dit ’n wêreldryk is wat niks van die wêreld weet nie. Dit is waarom hulle toetrede tot buitelandse situasie so dikwels gepaard gaan met onkunde en minagting, gekombineer met ’n etnosentrisme, wat uiters gevaarlik is.” 

En as so ’n lompe wêreldryk aangevoer word deur ’n gevaarlike demagoog?