In die amper twee weke tot met Saterdag 1 Oktober het die voortslepende krisis by Suid-Afrikaanse openbare universiteite ’n aantal onrusbarende neigings getoon. Een van die gevaarlikste hiervan is die neiging van sommige akademici om hulle by ’n agenda van gewelddadige verset te skaar. Om hierdie neiging te verstaan tesame met die groeiende risiko dat studente kan sterf, moet eers aandag gegee word aan van die ander onrusbarende neigings.

Toe die FeesMustFall-betogings in Oktober 2015 op dreef gekom het, was gewelddadige elemente en onredelike eise reeds sigbaar. Nietemin het dit nie die toon aangegee nie. Vir ’n kortstondige oomblik het derduisende studente landswyd ’n losse bondgenootskap rondom een sentrale eis gevorm, naamlik ’n 0% verhoging in klasgeld in 2016.

Een van die voordele van Oktober 2015 se beweging was dat dit die kwessie van die staat se krimpende subsidering van hoëronderwys in die kollig geplaas het. So is die openbare aandag ook gevestig op die wanbestuur van die nasionale studenteleningskema, NSFAS, en die feit dat meer as 90% van NSFAS-lenings nooit terugbetaal word nie. Een implikasie hiervan is dat mense wat danksy so ’n lening kon gradueer en begin werk eenvoudig nie hulle deel bygedra het deur hulle lenings terug te betaal en sodoende hulp aan ander studente te help verseker nie.

Toe die regering einde Oktober 2015 aan die studente se eis toegegee het, was dit ’n hoogs dubbelsinnige oorwinning vir die studente. Aan die positiewe kant was dit waarskynlik die enigste keer sedert 1994 wat ’n spontane burgerlike versetaksie oor ’n spesifieke kwessie die die regering tot verantwoording geroep het. Dit het gewys dat die eens magtige ANC glad nie meer so onaantasbaar was nie.

Aan die ander kant was die regering se oorgawe so skouspelagtig dat dit in ’n moeilike ekonomiese klimaat met oplaaiende burgerlike frustrasie met die regering se swak landsbestuur olie op die vuur van meer radikale elemente in die studentebeweging was. Kort voor lank het die eis om gratis hoëronderwysstudie en ’n sogenaamde “dekoloniale” kurrikulum die botoon begin voer. Dit het gepaardgegaan met verhoogde aggressie, geweldpleging en ’n totale onwilligheid van radikale elemente op kampusse om buigsaam in hul eise te wees en die Heher-kommissie van ondersoek na die finansiering van hoëronderwys sy werk te laat afhandel. Om die waarheid te sê, weier elemente in die studentebeweging om hoegenaamd met die kommissie saam te werk.

’n Mens hoef nie ’n ruimtewetenskaplike te wees nie om te sien dat die radikale studente daarop wed dat indien hulle die hoëronderwysstelsel lank genoeg lamlê, hulle verdere toegewings van ’n verswakkende regering sal kan afdwing.

Namate die betogings op kampusse met al hoe meer geweldpleging (van beide kante) en onversetlikheid (veral van studentekant) gepaardgaan, het die studentebeweging verdeeld geraak en die kortstondige simpatie van die Suid-Afrikaanse publiek verloor. ’n Bekommerde publiek vra al hoe meer dat die staat se veiligheidsdienste ingryp om stabiliteit op kampusse te herstel, terwyl al hoe meer studente aan die ontvangkant van hardhandige optrede deur private en openbare veiligheidsdienste is.

Op Vrydag 30 September het die ministers gemoeid met veiligheid ’n aantal inisiatiewe aangekondig, waaronder die ondersoek na elemente van ’n sogenaamde derde mag op kampusse deur die intelligensiedienste. As sodanig is dit nie ’n slegte ding nie, maar gegewe die patroon van die misbruik van die intelligensiedienste in die land, kan die intelligensiedienste se toetrede tot kampusse ook lei tot die misbruik van staatsmag teen akademici.

Waar die regering tot met Vrydag 30 September se aankondiging van stappe om stabiliteit op kampusse te herstel miskien ’n stap in die regte rigting gee, is dit eweneens so dat die regering tot dusver in gebreke gebly het om noemenswaardige politieke leiding te gee. Waarskynlik is dit so omdat die ANC sedert die munisipale verkiesing al hoe meer deur interne verdeeldheid en rigtingloosheid lamgelê word. Of iets goeds uit die Minister van Hoëronderwys se beraad op Maandag 3 Oktober oor die krisis sal kom, kan ’n mens maar net hoop.

Afgesien van studente en die regering is die ander primêre party in hierdie situasie die rade en rektorate van die land se openbare universiteite. Dit blyk dat vanweë die uiteenlopende aard van die verskillende kampusse in die land, asook beter of slegter verhoudings van rektore met die regering, die rektore tot dusver nie daarin kon slaag om ’n verenigde standpunt in te neem nie. Dit lewer rade en rektore aan hulle eie lot oor en dwing hulle om sonder die nodige staatsteun die krisis op hul kampusse te hanteer. By baie van die universiteite wil dit voorkom asof die rade en rektore eenvoudig nie die moed het om orde te herstel nie – gewoon omdat hulle baie goed weet dat die risiko vir die lewensverlies van studente by die dag verhoog, en geen rektor wil uiteraard so iets op sy of haar rekening hê nie. Die feit van die saak is dat die regering se onvermoë of onwilligheid om die verantwoordelikheid te neem om orde op kampusse te herstel, ’n verantwoordelikheid op rade en rektore afgewentel het wat in beginsel nie hulle s’n is nie.

Wat dan van die eis om gratis hoëronderwys? Dit mag so wees dat die staat onder sekere voorwaardes gratis hoëronderwys sal kan bekostig, maar dit is ewe waar dat dit in die huidige ekonomie baie moeilik sal wees en bowendien nie sommer vanaf volgende jaar ingestel kan word nie. Dit sal in elk geval nie die veel groter probleem in openbare onderwys hanteer nie, naamlik die onwilligheid of onvermoë van die regering om wanfunksionele openbare skole reg te ruk.

Daar is ook ’n ander ironiese risiko indien gratis hoëronderwys ingestel word, naamlik dat dit aan die staat groter seggenskap in die sake van universiteite sal gee. Dit is algemene kennis dat goeie universiteite kritiese burgers skep en die middelklas vergroot – presies daardie faktore wat daartoe gelei het dat die ANC soveel steun in die metro’s verloor het. Die president het al meermale in die verband sy misnoeë met sogenaamde clever blacks verklaar. Op dieselfde trant het die joernalis, Johnny Steinberg, op 30 Oktober 2015 in Business Day berig van ’n minister wat ’n debat teen studente verloor het en onvergenoegd uitgeroep het: “We pay for you people to be educated and you use your education to criticise us”. Soos sake vir ’n verswakkende ANC staan, sal die versoeking groot wees om akademiese vryheid verder weg te kalwe in ruil vir groter hoëronderwyssubsidering.

Wat die eise om ’n “dekoloniale” kurrikulum betref, dui die vaagheid van wat dit beteken, die onversetlikheid waarmee hoofsaaklik radikale swart studente dit eis, min verwysings na die bevordering van inheemse tale as akademiese tale, en die volgehoue aanslag van hierdie selfde studente op Afrikaans as akademiese taal alles daarop dat hierdie eis eintlik gaan oor hierdie studente se radikale vervreemding van die stelsel, ’n agenda van etniese suiwering van die akademiese korps, en as dit nodig is, ’n totale aftakeling van universiteite as verteenwoordigend van ’n gehate stelsel wat hierdie jong mense se verwagtinge opjaag én frustreer. Soos een radikale swart student gedurende September 2015 gesê het in ’n bespreking wat ek bygewoon het: “We will decide who stands in front of us in class.” Wat kan ’n mens anders verwag as soveel studente so sukkel op universiteite vanweë armoede en swak skoolopleiding, en terwyl die ANC in 2012 met hart en mond gratis hoëronderwys beloof het?

Dit is in hierdie spesifieke konteks dat die rol van akademici wat hulle met die huidige studenteprotes verbind, in die soeklig kom. Dit is een ding om met betogende studente in gesprek te tree en waar moontlik hulle die regte kritiese leiding te verskaf. Maar feit bly dat in ’n klimaat van groeiende wanorde en onversetlikheid van radikale studente, akademici wat hulle dan met die studente verbind hulle mag skuldig maak daaraan dat hulle aan radikale studente wat tot geweld oorgaan groter selfvertroue gee. So berig die Mail&Guardian van 30 September van akademici wat studente help om universiteite te destabiliseer.

In die week tot met 30 September was ek in twee vergaderings wat die studenteprotes bespreek het. By die eerste vergadering het ’n akademikus dosente gekasty wat te midde van die sluiting van die kampus, klasse van kampus af vir studente aanbied omdat dit na bewering die bestuur se gesag ondermyn en ’n belediging vir die protesterende studente is, wat by verre die minderheid op die betrokke kampus is.

By ’n tweede vergadering het ’n akademikus in reaksie op my pleidooi vir die herstel van orde as voorwaarde vir onderhandelinge en my waarskuwing dat studente hul lewens kan verloor as die orde nie herstel word nie, gereageer deur te beweer almal kan saamstem dat die Franse Rewolusie ’n goeie gebeurtenis was. Dit sou kwansuis die geboorte van ’n nuwe samelewing wees, en ongelukkig is geweld en lewensverlies maar deel van die prys om te betaal. Dat die akademikus oënskynlik nie bewus is van meer as twee eeue se deurtastende kritiek op die Franse Rewolusie, of dat dit Frankryk meer as sewentig jaar geneem het om ná die Rewolusie te stabiliseer, of dat die Franse magstruktuur vandag nog in ’n hoë mate so sentralisties as onder die agtiende eeuse koningshuis is, spreek boekdele. Maar dit sê nog meer van hoe gou sommige mense vergeet het dat Suid-Afrika in 1994 vir vreedsame onderhandelinge en teen gewelddadige rewolusie gekies het.

Dit is onwenslik om persoonlik te raak in ’n kritiese gesprek, maar dit is moeilik om nie na sosiologiese verklarings te soek vir sulke vreemde gedrag van akademici nie – en in die geval van die tweede akademikus ’n de facto vergoeiliking van geweldpleging en lewensverlies.

Een ding is seker: Sulke akademici loop ’n groot risiko om betrokke te raak in ’n geveg tussen, enersyds, ’n regering wat sy morele gesag verloor het en, andersyds, die radikale rewolusionêre wat teen hom opstaan. Mense wat te naïef is om te sien dat dít die eintlike geveg is wat die hoëronderwys tans lamlê en gaan inmeng by ’n geveg waar hulle geen plek het nie, sal net hulleself kan blameer as die strydende partye op hulle toesak.