Hoewel nog nie so wydverspreid soos in Oktober 2015 nie, het hernude studentebetogings weer landswyd opgevlam ná die Minister van Hoëronderwys se aankondiging op Maandag 19 September 2016 oor klasgeldverhogings vir 2017. Die betogings het opgevlam ondanks die minister se poging om sommige armer studente tegemoet te kom. Wat sê die jongste vlaag studentebetogings? Nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie, die volgende.

In die eerste plek het daar vanaf Oktober 2015 tot nou ’n verskuiwing van studente-eise plaasgevind. Waar ’n 0%-verhoging in 2015 geëis is, is die sentrale eise nou gratis hoëronderwys en ’n sogenaamde dekoloniale kurrikulum, soos die waarnemende studenteraadsvoorsitter van die Universiteit van Pretoria, Thabo Shingange, byvoorbeeld skryf.

Sover bekend het die kommissie wat tans onder voorsitterskap van Regter Heher ondersoek na die koste van hoëronderwys instel nog geen geloofwaardige voorstelle ontvang oor hoe om hoëronderwys gratis te maak nie. Prof. Steven Friedman betoog selfs in Business Day dat gratis hoëronderwys die ongelykheid tussen (swart) armes en (wit) rykes sal verdiep. Bowendien, soos al dikwels die afgelope twaalf maande gesê is, lyk dit baie moeilik vir die staat om met die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie gratis hoëronderwys te bekostig.

Wat die eis om dekolonisasie betref, is dit moeilik om te sê wat daarmee bedoel word. In ’n onlangse artikel op hierdie webwerf is aangevoer dat die eis om dekolonisasie van universiteitskurrikula selde op die ekonomiese en natuurwetenskappe toegepas word, maar eerder op die humanoria in die algemeen, insluitend die regte, die opvoedkunde en die teologie. In daardie artikel is uitgewys dat die eis om dekolonisasie die feit ignoreer dat “die hedendaagse Suid-Afrika nie verstaan en ten goede verander kan word as daar nie begrip is vir ál die idees en instellings wat die land gevorm het en steeds bly vorm nie. Baie van hierdie idees en instellings kom van elders af die staat, die Grondwet, die markekonomie, sekere tegnologie, die Christendom, die begrip van die moderne individu, en talle ander dinge. As dekolonisasie moet beteken om die land van al hierdie dinge te ‘suiwer’ sal min van die land oorbly, en sal die mag wat sulke dekoloniseerders verwerf van min betekenis wees as die land vernietig is.

Op soortgelyke trant het prof. Danie Goosen tydens ’n onlangse FAK-seminaar aangevoer dat kolonisasie verstaan moet word as ’n integrale deel van Europese modernisering. Die eerste fase van Europese kolonisasie was om die veelheid van Europese politieke stelsels, gebiede en gemeenskappe almal in te bind in sentralistiese territoriale state – met die uitsondering van daardie territoriale state wat federaal is. Dit is hierdie sentralistiese staatslogika wat in die tweede fase van Europese kolonisasie na Afrika en ander wêrelddele uitgevoer is. Een implikasie van Goosen se puik argument is dat die dekolonisasie van die kurrikula van die humanoria aan Suid-Afrikaanse universiteite noodwendig beteken dat Suid-Afrikaanse studente in die humanoria die Europese moderniteit moet bestudeer as hulle genoeg insig in die koloniale erfenis wil hê om dit te oorkom en ’n behoorlike antwoord daarop te ontwikkel.

Die verskuiwende studente-eise lyk dus nie baie redelik nie. Wat sit dan agter hulle eise?

Die verskuiwende studente-eise moet eerstens herlei word na politieke faktore. Die beste ontleder van die moderne staatspolitiek, Machiavelli, skryf in Die prins oor hoe fataal vrygewigheid die regeerder kan verswak:

[A]s ’n prins die reputasie van vrygewigheid onder die mense wil verkry, sal dit vir hom nodig wees om dit opsigtelik te vertoon, en as hy dít doen, sal hy sy geldmiddele uitput en sal hy uiteindelik verplig wees om die bevolking met buitensporige belastings te belaai en om op alle ander moontlike maniere geld in te samel. As gevolg hiervan sal die bevolking hom begin haat, en omdat hy nou verarm is, sal hy ook nie meer hul agting geniet nie.[1] 

Is dit nie presies wat die volgende studenteplakkaat aandui nie?

IMG 0813

(Foto geneem op 22 Oktober 2015 tydens die FeesMustFall-betogings by ’n Suid-Afrikaanse universiteit.)

Dit was die Zuma-regering wat op 23 Oktober 2015 toegegee het aan die eis om ’n 0%-klasgeldverhoging. Daarmee het die regering (met die samewerking van universiteitsrektore) nie slegs universiteite se wetlike reg om hulle begrotings te bestuur ondermyn nie, maar homself ook fataal in die oë van die burgery in die algemeen en die studente in die besonder verswak. Die oorwinning wat die studente in Oktober 2015 oor die regering behaal het, is die grootste enkele oorwinning wat die burgerlike samelewing tot in daardie stadium oor die regering behaal het. Waarom sou studente, wat toe bloed geruik het, anders as om vir die volgende stel toegewings te gaan?

Die politieke faktore wat studente selfvertroue gee, is egter nie beperk tot regeringsvlak nie, maar kom ook op universiteitsvlak voor. Dit is nogmaals raadsaam om na Machiavelli te luister:

Wanneer dit nodig is om sy onderdane verenig en lojaal te hou, hoef ’n prins hom daarom nie onnodig te bekommer oor die beskuldiging van wreedheid nie; want met baie min voorbeelde van wreedheid sal hy baie meer barmhartig wees as hulle wat, deur oormatige barmhartigheid, voortdurende onluste toelaat wat op hul beurt dood en plundering veroorsaak...[2]

Wat Machiavelli die leser help om te verstaan, is dat in ’n situasie waar die politieke gesag uitgedaag word, die gesag nie versterk word deur toegewings en vriendelikheid nie, maar deur ferm optrede. Heelwat indien nie die meeste nie van die huidige Suid-Afrikaanse universiteitsrektore was aan die ontvangkant van die oormatige wreedheid van die apartheidsregime in die jare sewentig en tagtig van die vorige dekade. Dit wil voorkom asof dit hulle verblind het vir die noodsaak om in die eerste plek duidelike grense in onderhandelinge met studente neer te lê, en daardie studente wat tot geweldpleging en saakbeskadiging oorgaan eenvoudig te skors en strafregtelik te vervolg. Om vir gearresteerde studente hamburgers en koeldrank te koop, soos wat vroeër vanjaar by een Suid-Afrikaanse universiteit gebeur het, is beslis nie die regte benadering nie. Kortom, waar die gesag van die instelling nie duidelik neergelê word nie, gaan die instelling eenvoudig verswak word, en gaan ’n toenemend anargistiese, onredelike minderheid wat al hoe meer eise stel die agenda al hoe meer dikteer. Wat tans voor die Suid-Afrikaanse publiek afspeel, is die skouspelagtige mislukking van linkse rektore wat hulle tande in die anti-apartheidstryd gesny het. Hoe groter hulle mislukking word, hoe minder sal hulle praatjies van transformasie en progressiwiteit deur enigiemand ernstig opgeneem word.

Die verskuiwende studente-eise moet in die derde plek herlei word na kennisfaktore. Om mee te begin, is die skade wat swak openbare skole gedoen het aan mense wat vanaf 1995 skool toe is in ’n klimaat van stygende politieke en ekonomiese verwagtinge nou daar vir almal om te sien. Terwyl skoolstandaarde verlaag is en al hoe minder skoliere behoorlik vir universiteite toegelaat is, het die staat van openbare universiteite verwag om al hoe meer studente toe te laat. Dit staan bekend as die sogenaamde massafikasie van Suid-Afrikaanse universiteite. As die syfers van swak akademiese prestasie aan universiteite oorweeg word, tesame met hoeveel van die mees anargistiese studente ook studente is wat arm is en akademies sukkel, is dit duidelik waarom die betogings so fel is – veral gegewe die mite dat ’n universiteitskwalifikasie die paspoort tot ’n werk is.

Nog ’n kennisfaktor wat in ag geneem moet word, is die katastrofale gevolge van die eensydige geskiedeniskurrikulum in skole. Die huidige geslag Suid-Afrikaanse studente kom met ’n baie skrapse kennis van die geskiedenis op universiteit aan, en is eenvoudig nie toegerus om krities te dink en hulle situasie behoorlik te ontleed nie. Dit is dan wanneer hulle gryp na slagspreuke uit Fanon en Biko, sonder om hierdie en anders skrywers behoorlik te lees, of selfs te kán lees.

Die huidige vlaag betogings het die regering en universiteitsbesture by ’n kruispad gebring. Indien die gesag van hierdie instellings nie duidelik neergelê word nie, sal studenteprotes voortaan waarskynlik part en deel van hierdie instellings se kultuur word. Een van die noodwendige gevolge hiervan sal, soos al dikwels uitgewys is, ’n uittog van goeie dosente en studente na privaat universiteite wees.

Met verdere rampspoedige gevolge vir openbare universiteite en ’n verdieping van die ongelykhede in ons samelewing.


[1] p.65, in Afrikaans vertaal en uitgegee deur Delamaine du Toit, Houtbaai, 2006.

[2] p.68