Dit is tans duidelik dat openbare universiteite in Suid-Afrika waarskynlik in die grootste krisis van hulle bestaan verkeer. R.W. Johnson het in ’n uitstekende onlangse artikel in Rapport verwys na hoe belangrik dit is dat universiteitsrade hulle verantwoordelikheid moet nakom om self jaarlikse klasgeldverhogings te bepaal en nie te skuil agter die regering nie. Aan die ander kant, geoordeel aan onlangse berigte dat President Zuma “opdrag” gegee het dat die regering die fondse moet vind om klasgelde vir nog ’n jaar nie te verhoog nie, sal ’n desperate president ver gaan om die staatskas te misbruik om die stemme wat hy sy party kos te probeer terugwen.

Johnson is heeltemal korrek as hy universiteitsrade tot orde roep. Terwyl dit so is dat die swak onderwysstelsel studente merendeels nie toerus vir suksesvolle universiteitstudie nie, en die regering die universiteitswese al vir haas twintig jaar onderbefonds terwyl hulle die mite onderhou dat ’n universiteitskwalifikasie die maklikste manier is om werk te kry, is dit ook so dat die spanning aan openbare universiteite nie verstaan kan word sonder om aandag te gee aan die nuwe ideologie van “dekolonisasie” wat onder sommige studente en selfs dosente posgevat het.

Voor hieronder stilgestaan word by hierdie ideologie, is dit eers nodig om iets te sê oor die teelaarde waarin hierdie ideologie so vinnig wortelgeskiet het. Hiermee word verwys na twee uiteenlopende ervarings van post-apartheid Suid-Afrika, naamlik die van Afrikaners en die van swartmense. Swart stemme wat krities en dikwels verbitterd is oor “wit bevoorregting” mag nou wel klink asof hulle na wittes in die algemeen verwys, maar in werklikheid is die kritiek gemik op Afrikaners. Waarom so?

Ons het hier met stereotipes te make. Volgens die stereotipe word witmense wat nie Afrikaners is nie, nie so inheems as Afrikaners geag nie, ondanks die feit dat Afrikaners se inheemsheid natuurlik ook soms bevraagteken word. Hoe dit ook al sy: Vanuit hierdie stereotipiese perspektief loop die argument dat swartmense se inheemse wit landgenote, die Afrikaners, by uitstek die voormalige heersersgroep is waarmee swartmense ondanks baie tog ’n lotsverbondenheid ervaar, en aan wie swartmense hulleself meet. Dit gaan hier om die bekende verskynsel waaroor Fanon geskryf het, waarvolgens die voormalige onderdrukker in post-koloniale Afrika ná die oorname oor die staat sigself meet aan die prestasies van sy voormalige verdrukker. In die geval van Suid-Afrika word hierdie dinamika verhewig, aangesien anders as in post-koloniale Afrika, die voormalige verdrukkers nie onttrek en na Europa teruggekeer het nie, maar steeds hier woon – en bowendien oor ekonomiese mag beskik waarsonder swartmense tans nie kan klaarkom nie. Ongetwyfeld vererger dit die wrewel van swart stemme wat kla oor wit bevoorregting, want terwyl hierdie einste swart stemme wrewelrig moet toekyk hoe die ANC in regering toenemend misluk, moet hulle ook sien hoe Afrikaners sonder staatsondersteuning en selfs in die aangesig van staatsvyandigheid steeds presteer. Die wortel hiervan is dat waar swart Suid-Afrikaners in 1994 hulle lot by die staat ingewerp het, Afrikaners ná die mislukking van apartheid en staatsmag nie gou genoeg afstand van die staat kon neem en hulle ou 19de-eeuse tradisie van gemeenskapselfstandigheid begin herontdek nie.

Om dit so eenvoudig moontlik te stel: Dit wil voorkom asof baie swart stemme wat oor wit bevoorregting kla, dit onder meer doen vanuit ’n gevoel van diepgesetelde minderwaardigheid teenoor hulle inheemse Afrikaner-landgenote wat op die keper beskou veel meer sukses met staatsmag as die ANC behaal het. Laat dit maar weer gesê word: Dit gaan hier oor stereotipes, en nie soseer oor die werklike toedrag van sake nie, wat die pas vermelde mislukking met staatsmag van die Afrikaners insluit.

Hierdie dinamika van wrewelrige onderlinge vergelyking manifesteer veral – dog nie slegs – by voormalige wit universiteite: Kaapstad, Wits, Stellenbosch, Pretoria, Johannesburg, Kwazulu-Natal en die Vrystaat. Die dinamika word vererger deur twee ander faktore. In die eerste plek lewer die land se wanfunksionele onderwysstelsel betreklik min nuwe, jong swart akademici, wat veroorsaak dat witmense steeds die groep is waaruit die meeste dosente kom. In die tweede plek misluk swart studente vanweë swak skoolopleiding en betreklike armoede steeds baie meer akademies as hulle wit eweknieë.

Die kollektiewe frustrasie van swart dosente en studente wat deur al bogenoemde faktore gevoed word, veroorsaak oënskynlik ’n gevoel van magteloosheid waar die argument loop dat “as ons dan nou deur ons eie regering versaak word, moet ons maar witmense in die algemeen en Afrikaners in die besonder die sondebok maak”.

Hierby moet ook gevoeg word dat desperate politici en ANC-gesinde staatsamptenare se rassistiese blamering van witmense in die algemeen en Afrikaners in die besonder vir hulle eie mislukkings olie op hierdie vuur is. Dan is dit ook so dat die meeste studente vandag weens uiteenlopende redes skokkend min van die geskiedenis weet, wat hulle baie vatbaar vir oorvereenvoudigings en blaampolitiek maak.

Hierdie oorvereenvoudiging kom daarop neer dat in die drif van sondebokpolitiek die eksterne redes vir swart studente se uitdagings geïgnoreer word en die stelsel van histories wit universiteite uitgesonder word as die eintlike probleem. Die argument wat hier ingespan word, is dat hierdie universiteite steeds “witoorheers” is en dat die kurrikulum nog “koloniaal” is en “gedekoloniseer” moet word. Dit is opvallend dat hierdie eis nie eintlik betrekking het op die natuurwetenskappe en die ekonomie nie, maar op die geesteswetenskappe in den brede, wat die opvoedkunde en die regte insluit. Moontlik is dit so omdat die geesteswetenskappe te maklik beskou word as bloot konteksgebonde.

Konteks is juis die sleutelwoord om van die ideologie van dekolonisasie sin te maak. Op die keper beskou, is dit opvallend dat woedende rewolusionêre eisers van dekolonisasie klaarblyklik werk met ’n ideaal van “gesuiwerde” kennis, waarvolgens slegs daardie kennis wat “inheems” van Afrika is aan studente geleer moet word. Hierdie eis ignoreer ’n paar waarhede.

Eerstens is die begrip Afrika as ’n vasteland met min of meer een identiteit en een geskiedkundige ervaring self ’n nalatenskap van die koloniale era – per slot van rekening was dit die rassistiese Europese koloniseerders wat Afrika as een eenvormige grootheid van “onbeskaafdheid” benader het, en so probeer het om hulle kolonisasie van Afrika te regverdig as die bring van “beskawing” na die “donker vasteland”.

Tweedens ignoreer die eis van rewolusionêre dekolonisasie die feit dat Afrika se kulture en kennis oor millennia gevorm is deur wisselwerking tussen Afrika en ander wêrelddele. Daar bestaan trouens geen enkele kennisstelsel wat slegs inheems is nie.

Derdens, en miskien die belangrikste, ignoreer hierdie eis die feit dat die hedendaagse Suid-Afrika nie verstaan en ten goede verander kan word as daar nie begrip is vir ál die idees en instellings wat die land gevorm het en steeds bly vorm nie. Baie van hierdie idees en instellings kom van elders af – die staat, die Grondwet, die markekonomie, sekere tegnologie, die Christendom, die begrip van die moderne individu, en talle ander dinge. As dekolonisasie moet beteken om die land van al hierdie dinge te “suiwer” sal min van die land oorbly, en sal die mag wat sulke dekoloniseerders verwerf van min betekenis wees as die land vernietig is.

Hiermee word nie vir een moontlik beweer dat Suid-Afrika nie nog ’n baie ver pad moet stap om die skadelike nalatenskap van die koloniale en apartheidsera’s te verwerk nie. Dit is die eintlike dekolonisasie wat vandag nodig is, want soos ek al telkens aangevoer het, is die Suid-Afrikaanse staat en ekonomie nog in vele opsigte ’n koloniale struktuur waar ’n minderheid in die naam van die meerderheid ten koste van die meerderheid bevoordeel word.

Die kernprobleem van die blywende koloniale aard van Suid-Afrika, is dat die ingevoerde idees en instellings van die land deur die een regerende minderheid na die ander ten koste van die meerderheid aangewend word. Gevolglik is die uitdaging om die ingevoerde idees en instellings tot voordeel van die land en al haar mense aan te wend. Met ander woorde: As dit ons erns met dekolonisasie is, moet ons nie soseer van hierdie instellings en idees ontslae raak nie, as om hulle eerder aan te wend om alle Suid-Afrikaners se selfstandigheid, waardigheid en vryheid om ons eie geskiedenis te skryf, te bevorder.

Openbare universiteite het in hierdie verband ’n belangrike rol om te speel. Kurrikula in die breë geesteswetenskappe behoort daarop te fokus om studente op te voed in ál die verskillende ideetradisies wat die eietydse Suid-Afrika help vorm het, en om aan die hand van ’n ware post-koloniale ideaal die nodige dinkgereedskap te gee om hierdie idees en instellings sowel krities as kreatief te hanteer. Kortom, studente moet ’n kurrikulum deurloop wat hulle opvoed vanaf Sokrates tot Steve Biko. As universiteite hierdie uitdaging aanvaar, sal daar gevorder word met dekolonisasie – eerder as wat universiteitsbesture en akademici uit oordrewe skuldgevoelens paniekerig aan die aggressie en geweldsdreigemente van rewolusionêre studente toegee en die kurrikulum “suiwer” van “uitheemse” elemente. As dit gebeur, sal studente nie met die nodige kennis die wêreld ingaan nie, maar met ’n sektariese ideologie wat net in ’n wêreld wat hul eie vooroordele weerspieël, sal pas.

En so ’n wêreld bestaan lankal nie meer.