Een van die onderskeidende kenmerke van die oorgang vanaf apartheid na die huidige bedeling, is dat ondanks die feit dat die ANC homself as rewolusionêre party verstaan, die oorgang van 1994 nie in alle opsigte klassiek rewolusionêr was nie. Die vernaamste hiervan is dat die ANC anders as die Franse of Russiese rewolusionêre nie daarin kon slaag om die regering waarteen hy hom verset het met geweld omver te werp nie. Dit het daartoe gelei dat baie kommentators die oorgang beskryf het as ’n sogenaamde onderhandelde rewolusie.

Ondertussen het dit duidelik geword dat die oorgang nie afgehandel is nie, en dat die potensiaal vir ’n meer klassieke rewolusie soos dit in Frankryk (1789) en Rusland (1917) gebeur het, beslis bestaan en selfs toeneem. Een teken hiervan is die feit dat die tema van die sogenaamde Nasionale Demokratiese Rewolusie oor die laaste jare gereeld as die leidmotief in ANC-besprekings en -beleidsdokumente voorkom, soos veral die FW de Klerk-stigting en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge dikwels uitwys. Nog ’n teken van verhoogde rewolusionêre potensiaal, is die geleidelike toename in politieke geweldpleging en die steun wat Julius Malema se EFF geniet.

Dit laat vrae ontstaan soos hoe die politieke oorgang van 1994 getakseer moet word, en wat die kans op ’n volskaalse rewolusie in SA vandag is. Drie denkers wat belangrike bydraes tot die aanloop tot en nabetragting van die Franse Rewolusie gelewer het, is Jean-Jacques Rousseau, Edmund Burke en Alexis De Tocqueville. Die rede waarom die Franse Rewolusie en hierdie denkers se werk groot relevansie vir SA bevat, is tweërlei. Ten eerste is die vernaamste politieke instelling in SA die moderne territoriale staat, waaroor Koos Malan hoogs verhelderende werk gedoen het in sy Politokrasie: Notas oor die dwanglogika van die territoriale staat . Die Franse Rewolusie het plaasgevind binne net so ’n staat. Om die Franse Rewolusie te verstaan en die eietydse SA daarmee te vergelyk, vooronderstel ’n deeglike verrekening van die moderne territoriale staat. Ten tweede was die rewolusionêre denke van die ANC nog altyd sterk beïnvloed deur die soort rewolusionêre denke wat die Franse en Russiese rewolusies voorafgegaan het, en waarin Karl Marx belangrik is, hoewel hy nie in hierdie opstel bespreek word nie.

In die res van hierdie opstel, sal soos volg te werk gegaan word. In afdeling 1 sal stilgestaan word by een van die belangrikste denkers van die linkse tradisie waarbinne die ANC staan, en wie se werk ’n bepalende invloed op die leiers van die Franse Rewolusie uitgeoefen het, naamlik Rousseau. Hier sal aangetoon word hoe die ANC steun op daardie idees van Rousseau waarin die kiem van die mislukkings van die Franse Rewolusie en ook van die ANC in regering geskuil het. In afdeling twee sal aandag gegee word aan Edmund Burke se taksering van die Franse Rewolusie om aan te toon hoe die ANC die klassieke foute van die triomfantelike Franse rewolusionêre party, die Jakobyne, herhaal het. In afdeling drie sal ten slotte oorweging geskenk word aan Tocqueville se ontleding van die oorsake van die Franse Rewolusie ten einde vas te stel wat die rewolusionêre potensiaal tans in SA is.

1. Rousseau

Die lot van Rousseau se politieke idees is besonder ironies. Rousseau was ’n Franssprekende Switser wat in 1712 in die stadstaat, Genève, gebore is. Dwarsdeur sy lewe tot met sy dood elf jaar voor die Franse Rewolusie in 1778 het Rousseau na homself verwys as ’n burger van Genève, wat hy waarskynlik verstaan het as ’n destydse soort Griekse stadstaat. Rousseau het homself dus gesien as ’n republikein in die antieke sin van die woord, waar die burgers van die kleinskalige republiek mekaar almal ken, en waar die politieke lewe deur die aktiewe deelname van die burgery gekenmerk word. In sy boek, Die maatskaplike verdrag (Le contrat social) van 1762 het hy die politieke idees uiteengesit wat so ’n groot invloed op die leiers van die Franse Rewolusie sou uitoefen. Die rede waarom die lot van Rousseau se politieke idees dus so ironies was, is dat idees wat binne die konteks van ’n stadstaat ontwikkel is, iets heel anders word in die konteks van die ’n moderne territoriale staat soos die destydse Frankryk. Om een voorbeeld te noem: Rousseau se gedagte van die algemene wil as synde die idees waaroor die burgery volkome eensgesind is, maak sin in ’n stadstaat waar die burgers deel aan dieselfde etos en tradisie en die potensiaal vir burgerlike konsensus dus betreklik hoog is. Maar wanneer die idee van die algemene wil toegepas word op ’n moderne territoriale staat waar die meeste burgers mekaar nie ken nie, en nie noodwendig dieselfde etos en tradisies deel nie, word die algemene wil ’n baie abstrakte begrip wat dikwels slegs by wyse van sentralistiese dwang verwesenlik kan word. Hierdie gedagtegang word hieronder verder toegelig.

Watter politieke idees van Rousseau het ’n invloed op die Franse rewolusionêre en later ook op die ANC uitgeoefen?

Algemene wil

Die eerste idee is dié van die sogenaamde algemene wil (volonté générale), waarna ook soms as die algemene volkswil verwys word. In Boek I, hoofstuk 6 van Die maatskaplike verdrag (MV) skryf Rousseau soos volg oor die algemene wil: “Each of us puts in common his person and all his power under the supreme direction of the general will; and in return each member becomes an indivisible part of the whole.” (164)[1]

In hierdie aanhaling het Rousseau dit oor die vraag hoe politieke orde tot stand kom. Vir die antieke en klassieke filosowe vanaf rofweg 500 voor Christus tot 1500 is orde natuurlik en wanorde abnormaal; vir Rousseau en ander moderne politieke filosowe soos Machiavelli en Hobbes is die natuurlike toestand een van chaos en wanorde, en is orde kunsmatig en iets wat met groot wilsinspanning tot stand gebring moet word. Vir Rousseau is een voorwaarde van die politieke orde dan die algemene wil, waarvolgens elke individu sy persoon en sy mag as’t ware delegeer aan ’n kollektiewe mag saamgestel uit die versameling individue wat dit tot stand bring se individuele persone en magte. Hoewel die gedagte van ’n gemeenskap wat as’t ware uit een brein dink en uit een mond praat miskien nog aantreklik kan wees in ’n klein stadstaat, word dit iets heel anders in ’n groot moderne territoriale staat.

In die geval van post-apartheid SA steun die ANC ook sterk op hierdie idee om sy eie sektariese agenda op die burgery af te dwing. Dit sal natuurlik vir die burgery onaanvaarbaar wees as die ANC dit te openlik doen, en daarom gee die ANC voor dat hy bloot uitdrukking gee aan die wil van die sogenaamde “masses of our people”. Hierdeur word die burgery met sy uiteenlopende sienings verskraal tot een amorfe kollektiewe politieke persoon, waarvan die ANC voorgee om die vertolker te wees.

Die ANC pas die idee ook natuurlik op homself toe op so ’n wyse dat behoorlike interne demokratiese prosesse geneutraliseer word. Hier word spesifiek verwys na hoe die ANC telkens op provinsiale en nasionale vlak sy leiers kies. Dit is ’n doodsonde vir ’n aspirant leier om openlik ’n veldtog te voer. Gevolglik word die veldtogte altyd so onsigbaar moontlik gevoer deur diskrete bearbeiding. Wanneer ’n aspirant leier dan gekonfronteer word met die aantyging dat hy of sy met ’n diskrete veldtog besig is, word dit altyd ontken met ’n beroep op die Rousseauiaanse algemene wil: “Ek sal slegs die leierskapspos opneem indien dit blyk dat dit die wil van die party is.” So asof die algemene wil van die party op magiese wyse en met volkome helderheid manifesteer. Af en toe het die huidige president ook al onheilspellende beroepe op die algemene wil gedoen met die suggestie dat “indien die mense dit wil hê, sal ek langer die mense langer as president dien.”

Maatskaplike verdrag

In Boek I, hoofstuk 6 van MV verduidelik Rousseau sy beroemde idee van die maatskaplike verdrag. Hiermee word hy saam met die beroemde Engelse teoretikus van die sentralistiese moderne territoriale staat, Thomas Hobbes, die bekendste kontraktariese politieke denker vir wie die politieke orde op ’n sosiale kontrak of maatskaplike verdrag berus. Rousseau beskou die maatskaplike verdrag as die wet wat alle ander wette konstitueer. Geen wette kan gemaak word wat hierdie basiese wet weerspreek nie, want dit sal die basis van alle wette ongedaan maak. Hoewel dit Rousseau dit nie eksplisiet so genoem het nie, kan die maatskaplike verdrag vertolk word as ’n Grondwet.

Wanneer daar vandag deur voorstanders van die SA Grondwet van 1996 vir dié Grondwet as onaantasbare hoeksteen van die post-apartheid bedeling voorspraak gemaak word, is dit dikwels met dieselfde retoriese strategie as wat Rousseau ingespan het om die maatskaplike verdrag te legitimeer, naamlik met die suggestie dat sonder so ’n verdrag of Grondwet kan daar nie politieke orde wees nie. Suid-Afrikaanse pleitbesorgers van die Grondwet kom miskien nog nader aan Hobbes, wat die toestand voor die sluit van die maatskaplike verdrag beskryf as die natuurstaat waarin “life is nasty, poor, brutish and short”. Volgens die pleitbesorgers was die lewe onder die apartheidsbedeling bykans soos vir die mens in Hobbes se natuurstaat, en het die aanvaarding van die huidige Grondwet ten minste in beginsel ’n nuwe politieke orde bemoontlik.

In sy besinning oor die maatskaplike verdrag voer Rousseau ook aan dat die soewerein wat daardeur tot stand gebring word, nooit iets kan doen teen die individue waardeur hy tot stand kom nie, omdat hy basies hulle kollektiewe self is. Meer onheilspellend voer Rousseau aan dat die soewerein dus geen waarborge aan hierdie individue hoef te gee nie. In hedendaagse terme binne die konteks van ’n moderne territoriale staat kan Rousseau se denke dus so ingespan word dat dit enersyds grondwetlikheid as basis van ’n nuwe politieke orde inspan, maar andersyds daardie selfde grondwetlike orde van wigte en teenwigte ondermyn omdat die gesag van die soewerein vir praktiese doeleindes die gesag van die Grondwet troef.

Dit is presies wat die ANC toenemend die afgelope jare doen, soos bewys deur die feit dat die party President Zuma nie afgedank het ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Nkandla teen hom nie. Dit is ook bekend dat in ANC-beleids en -besprekingsdokumente hulle eerder beroep eerder op die NDR en die Vryheidsmanifes as op die Grondwet, om maar te swyg van transformasie wat, soos onder andere Theuns Eloff uitwys, nêrens in die Grondwet vermeld word nie, maar nou deur die ANC suksesvol verhef is tot die nasionale norm, nes dit die geval met die Nasionale Party en apartheid was.[2] Waarmee ons dus hier te doen het, is ’n opvatting van mag as regstreeks, ongedifferensieerd en onder die sentrale beheer van die ANC. Politieke verteenwoordiging word ook as regstreeks beskou: die ANC verteenwoordig die algemene wil en klaar.

Rousseau wys ook daarop dat wanneer die maatskaplike verdrag eers danksy die algemene wil gesluit is, die individu nie sy belange bo dié van die algemene wil kan plaas nie. Indien hy dit probeer, moet hy in Rousseau se woorde “geforseer word om vry te wees”. Presies dieselfde logika word toenemend ingespan deur die ANC as hy hom beroep op transformasie wat afgedwing sal word om mense wat nie “vry” (van die “apartheidsverlede” of wat ook al) wil wees nie, daartoe te dwing.

Gelykheid

In Boek II, hoofstuk 1 van MV voer Rousseau aan dat die politieke liggaam wat deur die algemene wil en die maatskaplike verdrag ontstaan vir die algemene welsyn van almal gestig is. Aangesien die algemene wil die algemene welsyn najaag, kan slegs die algemene wil besluite neem wat almal bind. Voorts is die soewereiniteit van die algemene wil onvervreembaar, kan slegs die soewereine mag sigself verteenwoordig en kan geen individu namens die algemene wil praat nie. Nog ’n belangrike regverdiging wat Rousseau vir die absolute gesag van die algemene wil gee, is dat dit van nature na gelykheid neig.

In SA het dit mettertyd so geword dat die ANC as sogenaamde breë kerk daarop aanspraak maak dat hy inderwaarheid die wil van die mense verteenwoordig, en dat sy gesag heimlik as bo dié van die Grondwet beskou word. In Rousseauiaanse terme speel die ANC dus die algemene wil af teen die maatskaplike verdrag, om laasgenoemde so te ondermyn. Soos Rousseau beroep die ANC as beweerde vertolker van die algemene wil hom ook baie sterk op die idee van gelykheid. Ofskoon die ANC in sy stryd teen apartheid hom ook dikwels op die idee van vryheid beroep het, het hy mettertyd oorgehel na die kant van gelykheid, stel hy vryheid vandag gelyk aan die ideaal van die absolute gelykheid van almal, en skend hy in die proses toenemend ’n hele reeks vryhede, soos die vryheid van assosiasie, die vryheid van minderhede en toenemend ook vryheid van uitdrukking. Die vernaamste beleide in die ANC se strewe na absolute gelykheid is regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en transformasie. Ironies genoeg gaan die toepassing hiervan gepaard met verdiepende ekonomiese ongelykheid en ’n wegkalwing van vryhede. Soos hieronder sal blyk, het Tocqueville die verdringing van vryheid in die naam van gelykheid ook as part en deel van die Franse Rewolusie geëien.

Onfeilbaarheid van die algemene wil

Volgens Rousseau kan die algemene wil in teenstelling met individue nooit foute begaan nie. Die algemene wil se besluite kom na beraadslaging onder die individue waaruit dit bestaan, maar in dieselfde asem waarsku Rousseau teen faksievorming. Hy skryf:

If citizens deliberate when adequately informed and without any communication among themselves, the general will would always result from the great number of slight differences, and the resolution would always be good. But when factions, partial associations, are formed to the detriment of the whole society, the will of each of these associations becomes general in relation to its members, and particular with reference to the State; it may then be said that there are no longer as many voters as there are men, but only as many voters as there are associations. (173)

Nodeloos om te sê dat hierdie gedagtes van die antieke republikein, Rousseau, in ’n groter moderne, territoriale staat in wese op totalitarisme neerkom – wat die staat wil, is wat die mense ook moet. By al sy goeie hoedanighede het oud-president Nelson Mandela in sy ampstermyn met sy herhaalde pogings om die opposisiepartye en minderhede te probeer oortuig om hulle gewig by die ANC in te gooi, homself skuldig gemaak aan die soort totalitarisme waarvolgens die ANC eintlik maar die legitieme vertolker van die ganse burgery se strewes is. Waar Mandela egter nog ’n sin vir demokratiese verskille gehad het, is dit geensins die geval met die huidige ANC nie, wat kritiek op hom dikwels oënskynlik sien as ’n aanval op sy gesag as vertolker van die gans die burgery se belange en strewes. Ironies genoeg kon die ANC in die proses nie ontkom aan die faksievorming waarteen Rousseau in bogenoemde aanhaling waarsku nie, en is die Suid-Afrikaanse samelewing vandag waarskynlik meer verdeeld as ooit. So het die ANC se pogings om die burgery onder een kombers saam te dwing in die naam van nasiebou tot presies die teenoorgestelde uitkoms gelei.

In Boek II, hoofstuk 9 van MV vaar Rousseau teen die differensiasie van staatsmag uit. Hy skryf:

So many additional burdens perpetually exhaust the subjects; and far from being better governed by all these different orders, they are less well governed than if they had but a single order above them. (185)

Hoewel die ANC tydens die grondwetlike onderhandelinge ingestem het dat provinsiale en munisipale vlakke van regering moet bestaan, is dit duidelik dat hy intussen al hoe meer sentralisties met hierdie twee regeringsvlakke omgaan. Dit sluit in dat wanpresterende provinsiale departemente, metrorade en munisipaliteite onder administrasie geplaas word; die totstandbringing van ’n aantal supermunisipaliteite in die vorm van metrorade; en praatjies om die aantal provinsies te verminder, veral weens suur gesigte in die ANC oor die sukses wat die DA met die regering van die Wes-Kaap behaal.

Sentralisme

Interessant genoeg was Rousseau as antieke republikein nietemin bewus van die moderne probleem van hoe om politieke gesag in ’n moderne territoriale staat te vestig – ’n probleem wat volg uit die feit dat nie almal in so ’n staat dieselfde etos en tradisies deel nie, met ander woorde pluralisme kom in die staat voor. In Rousseau se terme is dit wanneer besondere of spesifieke (individuele) wille nie met die algemene wil ooreenstem nie. Sy oplossing hiervoor is klassiek sentralisties:

Now, the less the particular wills correspond to the general will, that is, customs with laws, the more should the repressive power be increased. The government, then, in order to be good, should be relatively stronger in proportion as the people are more numerous. (195)

In die eietydse SA is dit inderdaad so dat daar tussen die wette wat die regering sedert 1994 uitgevaardig het en die gebruike, gewoontes en opvattings van verskillende kultuurgemeenskappe gapings bestaan. Dit is iets wat veral minderheidsgroepe ervaar, net soos hulle ervaar hoe die staat sy onderdrukkende mag verhoog het.

Rousseau maak ook ’n ander opmerking oor die aard van die regering as verteenwoordiger van die algemene wil, wat as beskrywing van hoe die ANC homself sien heel relevant is: “a particular personality is necessary to it, a feeling common to its members, a force, a will of its own focused on its preservation.” (196) Dit is dus nie om dowe neute nie dat senior ANC-leiersfigure hulle dikwels beroep op een of ander unieke ANC-manier van dinge doen, net soos wat kommentators van buite dit soms weer het oor die “siel van die ANC”.

Dit is dus duidelik dat die ANC heelwat Rousseauiaanse elemente in sy mondering het. Een van die vernaamste punte van kritiek wat teen die Franse Rewolusie ingebring is, is dat die leiers van daardie rewolusie ’n aantal abstrakte idees op die konkrete werklikheid toegepas het. Namate die werklikheid nie daardie idees weerspieël het nie, is toegegee aan die versoeking om die werklikheid wilsmatig te dwing om die idees te weerspieël. Die eerste denker wat hierdie kritiek uitgespreek het, was Edmund Burke in sy boek Reflections on the Revolution in France (1790).

2. Burke

Burke (1729-1797) was ’n Iers-Britse staatsman en politieke denker wat allerweë beskou word as die grondlegger van die konserwatiewe tradisie. Hy publiseer sy Reflections on the Revolution in France (RRF) terwyl die Franse Rewolusie inderwaarheid nog aan die gang was, in eietydse terme dus terwyl Frankryk nog in oorgang van een bedeling na ’n volgende was. Dit maak sy skerpsinnige waarnemings oor die Franse Rewolusie des te merkwaardiger. Tot ’n hoë mate is sy waarnemings mettertyd reg bewys, en het hy geblyk een van die heel beste denkers oor samelewings in oorgang asook volhoubare veranderings in samelewings blyk te wees – waarmee ook meteens aangedui word dat om die begrip konserwatief gelyk te stel met onwilligheid om te verander gewoon onsin is.

Vryheid in konteks

Die rede waarom Burke so ’n uitstekende politieke waarnemer en denker was, is omdat hy nie abstrak nie, maar kontekstueel gedink het. Dit is vir Burke nie goed genoeg om aan te voer iets is goed omdat dit in die naam van hierdie of daardie ideaal (“progressief”, gelykheid, vryheid ens.) gedoen word nie. Die vraag is eerder wat die konkrete effekte van die nastrewing van ideale in ’n bepaalde konteks is. Burke sou dus min erg hê aan die vreemde Suid-Afrikaanse verskynsel om mense te kategoriseer as “progressief”, “reaksionêr”, pro- of anti-transformasie. Die Franse Rewolusie is natuurlik gedryf deur die beroep op die drie bekende ideale van vryheid, gelykheid en broederskap. Burke kritiseer egter die idee dat vryheid as sodanig sonder inagneming van die konteks waarin dit uitgeoefen word, goed kan wees. Die toets vir Frankryk se nuut verworwe post-rewolusionêre vryheid is wat daarmee gedoen word met betrekking tot openbare mag, die weermag, die insameling en verspreiding van belasting, moraliteit en godsdiens, eiendom, vrede, orde, en burgerlike maniere. Burke beoordeel die post-rewolusionêre Frankryk dus volgens die kriteria van ’n goed funksionerende staat en ’n sterk nasionale kultuur.

Toegepas op post-apartheid SA lyk die opgaaf vir die ANC nie te goed nie. Veral onder President Zuma word nie meer geskroom om openbare mag te misbruik nie. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is nie in ’n goeie toestand nie en gereeld om die verkeerde redes in die nuus. Die insameling van belasting verbeter jaar na jaar, maar die verspreiding daarvan ter wille van die burgery verswak jaar na jaar namate die uitvoerende vermoë van die staat afneem en korrupsie toeneem. Ofskoon iets tussen twee-derdes en selfs meer as 80% Suid-Afrikaners die Christendom en ander gelowe aanhang, lyk die openbare moraliteit nie goed nie. Misdaad en die ANC se ondermyning van eiendomsreg doen eiendom in SA nie goed nie. Hoewel die land nie in oorlog met ’n ander staat verkeer nie, bedreig veral diensleweringsbetogings die openbare vrede en orde in die land, om maar van swak infrastruktuur en openbare dienste te swyg. Burgerlike maniere is te oordeel aan swak padgedrag en materialisme ook nie in ’n goeie toestand nie.[3]

Wat nuutverworwe vryheid betref, is Burke van mening dat oordeel in die besonder voorbehou moet word wanneer nuwe maghebbers mag verkry en mense nog nie veel ervaring van hulle magsuitoefening het nie. Hy sê ons weet nog nie of hulle praters of doeners is nie. Dit word vandag allerweë aanvaar dat een van die redes waarom die ANC soveel van sy beleide nie behoorlik kon uitvoer nie, toegeskryf kan word aan sy gebrek aan regeringservaring toe hy aan die bewind gekom het. Dit het ook nie gehelp dat hy van derduisende ervare (wit) staatsamptenare ontslae geraak het nie. Eweneens word dit geredelik aanvaar dat die ANC uitblink in die opstel van beleide en planne – praters – maar nie in die toepassing daarvan nie – doeners. Die jongste voorbeeld hiervan is die Nasionale Ontwikkelingsbeleid wat lê en stof vergaar.

As ’n mens vandag terugdink aan die euforie waarmee die nuwe ANC-regering en die nuwe bedeling in 1994 verwelkom is, herinner dit ook aan hoe heelwat tydgenootlike waarnemers in Europa die Franse Rewolusie verwelkom het. Ook hieroor was Burke nugter. Hy het die geskiedkundige nuutheid van die Franse Rewolusie erken – maar so ook die gemengde welslae daarvan. Hy wys ook daarop dat sommige van diegene wat die Franse Rewolusie verwelkom het, dit gedoen het op grond van die beweerde instelling van vryheid vir almal en as ’n voorbeeld van Machiavelliaanse politieke doeltreffendheid. In 1994 is ook gepraat van ’n “nuwe” Suid-Afrika en in ANC-slagspreuke van “vryheid vir almal”, waarmee nóg minderhede, nóg die armes, nóg die Ekonomiese Vryheidsvegters vandag sal saamstem.

Vryheid, regte en tradisie

In die lig van bogenoemde opmerkings moenie verstaan word dat Burke vyandig teenoor vryheid staan nie. Inteendeel. Die vraag vir Burke is hoe en watter soort vryheid nagestreef moet word, en vir hom is die antwoord te vinde in die verhouding met tradisie. In hierdie verband neem hy die Engelse politieke tradisie in beskerming. Volgens Burke behoort oorgeërfde vryheid swaarder te weeg as spekulatiewe, abstrakte vryheid en regte. As jy dus vooruitgang in die politiek nastreef, beveel Burke aan dat jy begin deur die prestasies van jou voorsate te erken en te handhaaf.

Wat regte betref, is Burke eweneens nie daarteen gekant nie, maar soos in die geval van vryheid maak hy dit duidelik dat die enigste noodwendige basis vir regte in Engeland dit is wat deur hulle voorsate aan hulle oorgelewer is. Hy kies dus weer eens teen die spekulatiewe, abstrakte en vir ervaring soos dit in tradisie opgeteken en oorgelewer is. Hiermee staan hy reëlreg teenoor die kontraktariese posisie van Hobbes en Rousseau – orde is nie kunsmatig nie, maar organies. Hy is daarom gekant teen die gees van innovasie wat nie met die geskiedenis en ervaring rekening hou nie. Vir hom is die balans tussen die verlede en die hede, tradisie en innovasie van groot belang. Hy skryf:

Besides, the people of England well know, that the idea of inheritance furnishes a sure principle of conservation, and a sure principle of transmission; without at all excluding a principle of improvement. It leaves acquisition free; but it secures what it acquires. (119)[4]

Ofskoon daar groot wysheid in hierdie benadering tot vryheid en regte setel, is die dilemma vir ’n post-koloniale land soos SA dat soveel van die inheemse tradisies met die vestiging van die moderne territoriale staat vernietig is. Dit is dus nie so maklik om jou op sodanige tradisies te beroep nie, en waar dit wel gedoen word, is die gevaarlike versoeking altyd daar om jou te beroep op ’n gewaande pre-koloniale idille, soos wat tans die geval is met Malema en talle van die studente wat dink dat dekolonisasie inderwaarheid suiwer inheemsheid beteken. Asof die inheemse nie ook deur wisselwerking met invloede van elders gevorm is nie. Aan die ander kant is dit ook so dat modernisering nooit tradisie volledig vernietig nie, sodat die besinning oor verantwoorde modernisering in navoeling van die ou tradisies altyd raadsaam is.[5]

As dit by ’n Grondwet kom, wyk Burke ook af van Rousseau se abstrakte opvattings. Vir Burke is ’n Grondwet inderwaarheid ’n rekord van dit wat ’n gemeenskap oor tyd heen proefondervindelik opgebou word. Hy skryf:

By a constitutional policy, working after the pattern of nature, we receive, we hold, we transmit our government and our privileges, in the same manner in which we enjoy and transmit our property and lives. (120)

’n Grondwet word dus verstaan as ’n skatkamer van politieke wysheid. Iets hiervan is wel verwesenlik met die opstel van SA se Grondwet in die mate waartoe die Grondwetskrywers gaan kers opsteek het by lande wat met SA vergelykbaar is. Ongelukkig is baie daarvan ongedaan gemaak deur beleide wat van elders deur die ANC ingevoer is op volkome abstrakte wyse en sonder oorweging van die plaaslike konteks. So is die beleid van regstellende aksie hier toegepas sonder oorweging van die feit dat die beleid ’n mate van sukses het slegs in lande waar ’n minderheid opgehef moes word, in plaas van ’n meerderheid soos in SA. Eweneens is die beleid van uitkomsgebaseerde onderrig in SA toegepas sonder dat die regering oor die uitvoerende vermoë beskik het van die lande waar dit wel gewerk het.

Abstrakte vryhede en regte

Burke se kritiek op die abstrakte basis waarop die Franse rewolusionêre vryhede en regte ingestel het, klink eweneens asof hy dit oor die ANC ná 1994 had. Hy kasty Frankryk omdat sy in opstand gekom het in plaas daarvan om haar Grondwet te hervorm, wat ondanks sy foute steeds as basis vir verbetering kon dien. Frankryk wou sentraliseer en eenvormigheid aan die samelewing opdwing, wat anti-demokraties is en die deur vir wangedrag open. As Frankryk daarenteen haar verskillende faksies gerespekteer het, sou oorlegpleging nie bloot ’n opsie wees nie, maar ’n noodsaak. Die rede waarom Burke so sterk oor oorlegpleging voel, is dat verandering dan plaasvind op basis van kompromieë, wat op sy beurt matigheid in die hand werk en goeie temperament vorm.

Net soos die Franse rewolusionêre blink die ANC uit in sy sentraliseringsug en vertoon hy groot ongeduld met ware diversiteit, soos byvoorbeeld veeltaligheid. Oor hoe anti-demokraties die ANC geword het, byvoorbeeld by vrye meningswisseling op die openbare uitsaaier, en hoeveel wangedrag nou in die party en die openbare sektor as verlenging van die party voorkom, hoef niks meer gesê te word nie.

Burke oordeel dat Frankryk hierdie slaggate kon vermy het deur die voorbeeld van vroeëre voorsate te kies indien die meer onlangse voorsate nie aanloklik was nie. Omdat hulle dit nie gedoen het nie, kom hy tot die verdoemende oordeel dat deur volkome nuut te probeer handel, het hulle hul eie standaard van beoordeling geword. In die geval van SA het die ANC ook met sy hipermoralisme alles van die vorige bedeling as ouderwets en verwerplik afgemaak en ’n land as’t ware uit niks nuut probeer skep. Daarby kan ’n mens ook voeg dat die ANC byvoorbeeld heelwat kon geput het uit die voorbeelde van die anti-koloniale helde van hierdie land in die tweede helfte van die negentiende eeu, figure soos President Marthinus Steyn en Koning Moeshoeshoe van die Vrystaat. Die mate waartoe die ANC vandag gevolglik optree as sy eie maatstaf is daar vir almal om te sien, in plaas daarvan om byvoorbeeld voortdurend oorleg met opposisiepartye en minderhede te pleeg – iets wat nie net gebiedend noodsaaklik in ’n diep verdeelde samelewing is nie, maar ook strook met die feit dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners gematigde, middelpuntsoekende mense is. Maar hiervoor leef die ANC oënskynlik te veel in ’n volkome abstrakte wêreld ver verwyderd van die werklikheid waarin die Suid-Afrikaanse burgery leef.

Daarom is ’n ander punt van kritiek wat Burke teen die Franse rewolusionêre inbring ewe relevant vir die eietydse SA: Een van die slegte effekte van die Franse Rewolusie is dat regeerders wat aangeraai word om na die burgery te luister dit nie sal doen nie, omdat hulle dié raad sal sien as ’n poging om hulle omver te werp. Gevolglik is die ANC alte gereed om die amptelike opposisie te beskuldig daarvan dat hy “apartheid weer wil herstel”, of kritici daarvan te beskuldig dat hulle die vuil werk van buitelandse magte doen.

Nog iets waaraan die ANC hulle soos die Franse rewolusionêre skuldig maak, is die absolutistiese wyse waarop nuwe regte omhels is, sonder ’n gewilligheid om kompromieë te sluit. Volgens Burke lei dit tot ’n soort morele terreur – baie soos wat die ANC sy kritici vandag beskuldig van ’n “anti-transformasie” agenda.

Van regte gepraat: Vir Burke is die konkrete toepassing daarvan baie belangriker as die abstrakte teoretisering daaroor waaraan die Franse rewolusionêre hulle skuldig gemaak het. Hy skryf in ’n beroemde uitspraak:

What is the use of discussing a man’s abstract right to food or to medicine? The question is upon the method of procuring or administering them. In that deliberation I shall always advise to call in the aid of the farmer and the physician, rather than the professor of metaphysics. (152)

Ook in SA kan ons vandag spog met ’n model Grondwet en sy handves van regte, maar vir veral minderhede en die armes bly dit ’n abstraksie.

Burke het ook gewaarsku teen die versoeking om instellings deur een persoon te beliggaam. Die wyse waarop President Zuma daarin geslaag het om sy eie belange gelyk te stel aan die van sy party en in ’n groot mate ook die staat, bevestig maar net weer hierdie insig van Burke. Wanneer dit gebeur, sê Burke, kom die brutale uitoefening van mag voor. Om dit te vermy, moet die staat verstaan word as ’n kontrak wat eerbiedig moet word omdat dit mik op hoër dinge, te wete ’n vennootskap tussen die lewendes, die dooies en die ongeborenes. Anders gestel: Die staat moet verstaan word as ’n band tussen die verlede, die hede en die toekoms, en diegene wat die staat van hulle voorgangers ontvang, moet dit met die oog op die welsyn van hulle nakomelinge bestuur. In hierdie verband eggo Burke ook vir Aristoteles as hy waarsku teen die tirannie van die meerderheid, wie se verdrukking van ’n minderheid veel erger is as dié van ’n diktator.

Tot sover Burke se insigte in die eietydse SA. Dit bring ons by die relevansie van die ander groot waarnemer van die Franse Rewolusie, Alexis De Tocqueville. Met behulp van Tocqueville sal nou ook ingegaan kan word op die vraag of SA vandag ’n rewolusie in die gesig staar.

3. Tocqueville

Anders as Burke het Tocqueville (1805-1859) met die voordeel van afstand van die gebeure geskryf. Bowendien was hy nie net uit die Franse adelstand nie, maar ook ’n liberale Franse parlementslid. As sodanig was hy dus gevorm deur sowel pre- as post-rewolusionêre Frankryk. Waar Burke gekonsentreer het op die foute van die Franse rewolusionêre, het Tocqueville gekonsentreer op die oorsake van die Franse Rewolusie. Gevolglik kon hy in sekere opsigte tot ’n beter begrip van sowel die winste as die verliese van die Franse Rewolusie kom, maar is hy eweneens ’n waardevolle bondgenoot indien ingevra word op die rewolusionêre potensiaal van die eietydse SA. Tocqueville se boek waarop hier gesteun word, is sy The Ancien Régime and the French Revolution (L’Ancien Régime et la Révolution française) van 1859[6].

Gelykheid en sentralisme

In aansluiting by wat hierbo oor die Franse Rewolusie en die ideaal van gelykheid ontleen aan Rousseau geskryf is, wys Tocqueville ook op die belang van dié ideaal vir die Franse Rewolusie. Hy kritiseer die siening dat die Franse Rewolusie heeltemal anargisties was en wys daarop dat dit in werklikheid ’n nuwe sentralistiese regime gevestig het:

But clear away all this debris and you will see an immense and unified central government, which has drawn in and devoured all the bits of authority and influence that were once parceled out among a host of secondary powers, orders, classes, professions, families, and individuals – scattered, as it were, throughout the social body. (Kindle-ligging 933)

Hiermee lig Tocqueville ’n geweldig belangrike verskil tussen Middeleeuse en moderne regimes uit: waar daar by eersgenoemde ’n wye aantal instansies met verskillende magte van die hoogste tot die laagste vlakke voorkom, instellings wat as “tussenliggend” beskryf word, is die moderne territoriale staat daarop uit om die verskillende vlakke en instellings van mag almal onder sy beheer te bring. Nodeloos om te sê, werk dit sentralisme in die hand, vergesel van ’n siening dat die bevolking verkieslik eenvormig moet wees:

All blur distinctions of rank, equalize conditions, replace the aristocracy with functionaries, substitute uniform rules for local privileges, and impose unified government where once there was a diversity of powers. (943)

Hierbo is reeds verwys na die sentralistiese inslag van die Suid-Afrikaanse staat, wat reeds onder die Nasionale Party die geval was, en deur die ANC gehandhaaf is. In aansluiting by bogenoemde aanhaling is die Suid-Afrikaanse ekwivalent van die Franse vervanging van aristokrate met staatsamptenare in die huidige bedeling nie te vinde nie: die burokrate van die vorige bedeling is grootliks vervang deur burokrate van die huidige bedeling, wie se partylojaliteit meesal swaarder as hul kundigheid weeg.

Godsdienstige rewolusie

Vervolgens voer Tocqueville aan dat die Franse Rewolusie in vele opsigte ooreengestem het met ’n godsdienstige rewolusie, bedoelende dat eersgenoemde nie net dieselfde ingrypende sosiopolitieke veranderinge as laasgenoemde meegebring het nie, maar dat eersgenoemde ook ’n soort sekulêre weergawe van laasgenoemde se teologie vergestalt het. Die eerste rede hiervoor is dat die Franse Rewolusie soos ’n godsdienstige rewolusie mense oor nasionale grense heen rondom ’n nuwe idee verenig het. Tweedens het albei rewolusies deur prediking en propaganda ver versprei. In die derde plek het die Franse Rewolusie soos die Christendom mense beskou as individue ongeag hulle lande, kulture en lande. Met ander woorde, die Franse Rewolusie het mense geabstraheer vanuit die verbande wat hulle as individue onderskei:

[The French Revolution] took an abstract view of the citizen, outside any particular society, just as religions treated man in general, independent of country and time. It did not seek to determine the particular rights of the French citizen but rather the general rights and duties of man in the political realm. (981)

Vervolgens, voer Tocqueville aan, had die Franse Rewolusie ook sy ekwivalent van soldate, apostels en martelare. En, les bes, ofskoon dit vroeër in die geskiedenis probeer is, was soveel mense in soveel volke eers ten tye van die Franse Rewolusie gereed daarvoor, sodat dit gemoedere ver buite Frankryk aangegryp het iets wat myns insiens bes moontlik aan die homogeniserende effek van die moderne territoriale staat toegeskryf kan word, sodat mense in verskillende state soortgelyke ervarings het, en soortgelyk daarop reageer.

Toegepas op die rewolusionêre projek waartoe die ANC verbind is, is daar heelwat ooreenkomste met wat Tocqueville hierbo uitlig. In die eerste plek het die ANC ook daarin geslaag om mense wêreldwyd te verenig rondom ’n idee, naamlik anti-apartheid. Tweedens was die ANC se tradisionele sterkpunt ook “prediking en propaganda” in die vorm van hoogs doeltreffende kommunikasie rondom sy sentrale idee. Derdens beoefen dit inderdaad ’n abstrakte idee van Suid-Afrikaners as blote individue sonder kulturele, godsdienstige, etniese of taalverbintenisse, wat almal byeengebring moet word in een amorfe nasie. In die vierde plek het die ANC inderdaad ook sy galery van “soldate, apostels en martelare”, vanaf Mandela tot Tambo, vanaf Slovo tot Hani. Dit is ook opmerklik dat interne ANC-stemme teen die verval van die party sonder uitsondering ’n beroep op die voorbeelde van hierdie galery doen, nes eksterne kritici van die ANC dit ook gereeld beskuldig dat dit die voorbeelde van hierdie galery verraai.

Kontinuïteit met die ou regime

Die genialiteit van Tocqueville se ontleding van die oorsake van die Franse Rewolusie setel in sy uitwysing van die kontinuïteit tussen die ou en die nuwe regime, waarin veral die aard van die staat van kritieke belang is. Dit is ewe waar van die Suid-Afrikaanse staat onder die Nasionale Party en die ANC. Tocqueville voer aan dat die ou regime in Frankryk ’n groot bydrae tot die Franse Rewolusie gelewer het deur sy sentralisering en homogenisering van die staatsadministrasie. Een effek hiervan was om die parlement as besluitnemende liggaam te neutraliseer. Namate die modernisering van Frankryk die behoeftes van die burgery laat groei het, het slegs die sentrale regering die magte en bronne gehad om in hierdie behoeftes te voorsien, wat op sy beurt die sentrale regering verder versterk het. Niks demonstreer laasgenoemde so goed as die restourering van die Franse monargie deur Napolein in 1800 nie. Die Franse koningshuis se vernietiging van die Franse adelstand in die dekades in aanloop tot die Franse Rewolusie het sentralisasie verder in die hand gewerk. Wanneer verskillende spelers in die politieke arena vernietig word deur een mag, plaas dit daardie mag in die gunstige posisie om sentrale beheer oor die samelewing te vestig.

Ook in hierdie opsig is die paralelle met SA insiggewend. Met Uniewording in 1910 is ’n sentralistiese staat tot stand gebring, wat ná 1948 deur die Nasionale Party onderhou is, en wat ondanks die demokratiese Grondwet van 1996 nie verhoed het dat die ANC, veral onder President Zuma, nog verder sentraliseer nie. Tot die ANC se frustrasie ding hy met die privaat sektor en nie-regeringsorganisasies mee wanneer dit by die voorsiening in die burgery se behoeftes kom, maar dit het nietemin nie gekeer nie dat in die figuur van die huidige president die land waarskynlik sy mees outokratiese leier nog het, as’t ware ons eie Napoleon.

Administratiewe kontinuïteit

Tocqueville wys ook op die administratiewe kontinuïteit tussen die ou en nuwe Franse regimes, waarin die absolute beheer van die sentrale regering en administrasie oor die burgery gegeld het. Hier sonder hy die opkoms van die nuwe klas burokrate in die Franse staatsdiens voor die Franse Rewolusie uit:

Administrative officials, who were nearly all bourgeois, already formed a class with its own spirit, traditions, virtues, honor, and pride. It was the aristocracy of the new society, already fully formed and drawing breath. It was simply waiting for the Revolution to make a place for it. (1688)

Ofskoon, soos reeds hierbo vermeld is, die ANC verkies het om die vorige regime se burokrate met sy te vervang, is dit ewe geobsedeerd met die totale beheer oor die burgery as die Nasionale Party. Soos Tocqueville oor die twee Franse regimes skryf, het albei verenigings en organisasies buite hulle beheer verpes:“In short, it had no intention of allowing citizens to intervene in any way in overseeing their own affairs.” (1694) Let ook in hierdie verband op onlangse bewerings in die gesaghebbende Africa Confidential dat die Zuma-regering wetgewing oorweeg om groter beheer oor nie-regeringsorganisasies te verkry, soos vermeld deur Tim du Plessis in sy Rapport-rubriek van 19 Junie 2016.

En gegewe die verbysterende sensuur by die openbare uitsaaier onder die Nasionale Party in die dekade tagtig van die vorige eeu en tans onder die ANC, is daar nog ’n parallel met Frankryk wat Tocqueville uitwys. Die regering het voor die Franse Rewolusie naamlik mense gerusgestel met vrye besprekings van haas enigiets onder die son “provided that its least officials were immune from criticism.” (1698) Dit is egter nie waar parallelle oor die media tussen SA en Frankryk eindig nie. Tocqueville wys daarop dat die Franse koning reeds vanaf die 1760’s die media probeer beheer het deur daarmee te kompeteer. So stig Koning Lodewyk die Vyftiende ... ’n staatsbeheerde koerant! Tocqueville haal aan uit ’n regeringsopdrag aan Franse staatsamptenare in 1761:

His Majesty wishes to make this paper interesting and assure its superiority over all others. You will therefore send me a bulletin of everything that occurs in your district that might be of interest to the public, especially anything related to natural science or natural history, along with unusual and interesting facts. (1703)

Die wyse waarop oud-president P.W. Botha in die dekade tagtig van die vorige eeu en President Zuma tans via lojale amptenare by die openbare uitsaaier ingemeng het, kom hier by ’n mens op. Of hoe sowel die Nasionale Party as die ANC omvattende kommunikasie-inisiatiewe geloods het om die “goeie storie” van regering se prestasies die wêreld in te stuur – en dit selfs tans met meer as een regeringsgesinde mediahuis in die privaat sektor.

Op hierdie punt herhaal Tocqueville weer sy kritiek op hoe die ou regime voor die Franse Rewolusie die tussenliggende magte vernietig het, en sodoende die burgery se afhanklikheid van die Franse staat verdiep het:

In the eighteenth century, the central government in France had yet to acquire the sound and vigorous constitution that it would acquire later. Yet it had already destroyed all intermediary powers, and nothing remained between it and private individuals but a vast empty space, so that each citizen looked upon it from afar as the mainspring of the social machine, the sole and necessary agent of public life. (1751)

Die wyse waarop die Afrikaners se suksesvolle nasionalistiese beweging vanaf die 1950’s verstaatlik is, sodat Afrikaners ook diep met die staat geassosieer het, hulle lot daarby ingegooi het, en in hulle honderde, duisende werknemers van die staat was, word dan ook geëggo deur die intense en noue assosiasie wat daar vandag tussen swart Suid-Afrikaners en die staat bestaan, wat inderwaarheid ook tot ’n staatsafhanklikheid lei – die meer as 16 miljoen mense afhanklik van maatskaplike toelae, die swart middelklas wat hoofsaaklik in die staatsdiens en semi-staatsinstellings werk, en die rykdom van swart ondernemers gebou op staatskontrakte is hier ter sprake. Dit verklaar ook die houvas wat die ANC sommige kiesers het.

Tocqueville wys ook uit dat daar van die ou Franse regime verwag is om produksie te begelei en veiligheid te verseker, so asof die burgery niks hiertoe kon bydra nie. So het die Nasionale Party en die ANC nie geskroom om die staat as agent van ekonomiese produksie te probeer inspan nie, maar weer eens lei dit inderwaarheid tot die burgery se onvryheid en staatsafhanklikheid: “No one appears to have suspected that behind the protector might lurk the master.” (1772)

Tocqueville se gevolgtrekking oor die eindresultaat van die Franse Rewolusie is ewe goed van toepassing op SA tydens en na apartheid:

The marvelous ease with which centralization was restored in France at the beginning of the nineteenth century should no longer surprise us. The men of 1789 had toppled the edifice, but in the very soul of its destroyers its foundation had remained intact, and upon that foundation it was possible to rebuild it rapidly, and more solidly than before. (1802)

Die een belangrike verskil is natuurlik dat vanweë die ANC se swak staatsbestuur, word sy eie sentraliseringspogings toenemend ondermyn deur sy verswakking van die staat se vermoë. Wat sal gebeur as die burgery sy geloof in die SA staat se vermoë begin verloor?

Gevolgtrekking

Tocqueville vat sy bevindinge oor die oorsake van die Franse Rewolusie soos volg saam. In die eerste plek het die hervorming van die Franse staatsadministrasie voor die Franse Rewolusie die feodale stelsel – die adelstand – ontneem van hulle vermoë om die burgery te beskerm en te dien, maar nie hulle vermoë om mense se argwaan te ontlok nie, en dit omdat die adelstand steeds ekonomies veel beter as die arm gepeupel daaraan toe was. Dit is identies aan die aggressie wat vandag teen die wit bevolking en toenemend die swart middelklas in SA bestaan. Tocqueville skryf dat die Franse adelstand weens die administratiewe hervormings verander het vanaf die aktiewe, leidende klas na ’n passiewe, bevoorregte kaste wat die jaloesie en woede van die arm gepeupel ontlok het. Die adelstand was nog meer kwesbaar omdat hulle weens die hervormings hulle organiese bande met die middelklas en die kleinboere verloor het – iets wat in ’n groeiende mate ook op die opkomende swart middelklas in SA van toepassing is. So rapporteer die Sunday Times van 19 Junie 2016 ’n toespraak van hoofregter Moegeng Moegeng voor die Black Management Forum waarin hy sy gehoor gekasty het vir die afstand wat hulle van hulle nederige herkoms en die armes van die land geneem het.

Voorts wys Tocqueville daarop hoe die homogenisering van die Franse burgery van hulle ’n potente rewolusionêre krag gemaak het. Hy skryf:

Since France was, among European countries, one of those in which all political life had been most completely snuffed out for the longest time, and in which private citizens had most fully lost touch with public affairs, the ability to interpret events, familiarity with popular movements, and almost the very notion of the people, it is easy to imagine how the French could have fallen all at once into an awful revolution without seeing it. (3717)

Hierdie punt is van die uiterste belang vir die eietydse SA: Die regeringsaanslag op die openbare uitsaaier tans het, gegewe die uitsaaier se belang as bron van inligting vir die meeste (arm) Suid-Afrikaners, die potensiaal om ook hierdie mense se vermoë om nuusgebeure in die land te vertolk, te ondermyn, en hulle na eenvoudige sondebokke te laat soek, soos “wit bevoorregting”. Dat dit in Frankryk gebeur het, verklaar ook volgens Tocqueville waarom die Franse rewolusionêre filosowe as enigste teenstem in die openbaar so ’n buitengewone groot invloed op die denke van die burgery had, tesame met die burgery se gedeelde ervaring van lyding, wat gemaak het dat hierdie filosowe woorde aan die burgery se toestand gegee het, woorde wat hulle in opstand gebring het. Hierin vind Tocqueville ook die rede vir die geweld waarmee die Franse Rewolusie gepaardgegaan het, ondanks die “sagte teorieë” van die Franse rewolusionêre filosowe:

The contrast between the benign character of the theories and the violence of the acts, which was one of the strangest features of the French Revolution, will not surprise anyone who observes that the groundwork for the Revolution was laid by the most civilized classes of the nation and carried out by the coarsest and most uncultivated. (3745)

Dit is waarom die oorvereenvoudigende, opruiende idees van Julius Malema, en die versoeking wat dit vir die bedreigde ANC bied om dit ook aan te gryp en te predik ten einde sy verkrummelende steun te behou, so gevaarlik is, en inderdaad die rewolusionêre potensiaal in SA tans verhoog. Net soos in Frankryk destyds is en was die meerderheid van die Suid-Afrikaanse burgery tydens en na apartheid steeds aangedryf deur die ideale van gelykheid en vryheid. Tocqueville voer aan dat die twee ideale kortstondig tydens die Franse Rewolusie verenig was, sodat die Franse wette wat ongelykheid veroorsaak het, geskrap is. Maar omdat sentrale beheer gehandhaaf is, kon Napoleon beheer oor die Franse staat neem, sodat administratiewe instansies wat toegerus was om gelykheid te bevorder tegelyk ook despotisme en sentrale beheer in die hand gewerk het – so het die drif vir gelykheid in feite gelei tot die vernietiging van die Franse burgery se nuutgevonde vryhede.

Is dit nie wat vandag onder President Zuma toenemend in SA ontvou nie?

 


[1] Alle bladsynommerverwysings is na die Engelse vertaling van MV gepubliseer in The Social Contract and The First and Second Discourses, ingelei en geredigeer deur Susan Dunn, New Haven, CO: Yale University Press, 2002.

[2] Lees my resensieopstel oor Eloff se boek, Wat nou, Suid-Afrika? by http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-wat-nou-suid-afrika-deur-theuns-eloff/

[3] Heelwat van hierdie sake word in groter besonderhede bespreek in my resensie van Theuns Eloff se boek waarna reeds in ’n voetnota hierbo verwys is.

[4] Bladsyverwysings is na die 2004-uitgawe onder redaksie van Conor Cruise O’Brien, Londen: Penguin.

[5] Danie Goosen ontwikkel hierdie idee met spesifieke verwysing na die Afrikaners in sy Oor gemeenskap en plek (Pretoria: FAK, 2015)

[6] Die uitgawe waaruit hier aangehaal word, is Arthur Goldhammer se Engelse vertaling uit die Frans, geredigeer en ingelei deur Jon Elster en in 2011 uitgegee deur Cambridge University Press.