As deel van ’n omvattende ondersoek oor die werk van Bernard Stiegler en uitgevoerde Europese moderniteit word in hierdie artikel ’n weergawe van die Westerse moderniteit aangebied waarvolgens die tegnologiese, teologies-filosofiese en sosio-institusionele oorspronge en kenmerke daarvan herlei word na die drie honderd jaar tussen 1150 en 1450. Nadat ’n rowwe driedelige periodisering van die Westerse moderniteit verskaf word, word in groter besonderhede stilgestaan by enkele van die tegnologiese oorspronge van moontlik die sentrale kenmerk daarvan, te wete neutrale, lineêre tydruimte. Hierdie oorspronge sluit die sogenaamde boek-voorwerp (bookish object), die meganiese uurwerk en geld in. Laastens word ook kortliks aandag gegee aan die belangrikste teologies-filosofiese drumpel van die Westerse moderniteit, naamlik die nominalisme.

1. Inleiding

Die navorsing waarop hierdie artikel gebaseer is, vorm deel van ’n omvattende ondersoek na die werk van Bernard Stiegler (1954–) en wat ek uitgevoerde Europese moderniteit noem. Die uiteindelike oogmerk van hierdie ondersoek is om in gesprek te tree met Stiegler se onlangs ontwikkelde begrip van die “otium van die volk” (Rossouw 2009) vanuit die perspektief van lande wat in hulle moderne vorm gekonstitueer is deur die uitvoer van Europese moderniteit – soos die VSA, Suid-Afrika en Australië – en waardeur Europese moderniteit tot Westerse moderniteit omvorm is.

Ten einde hierdie oogmerk te verwesenlik, moet ’n weergawe van die oorspronge en kenmerke van Westerse moderniteit gegee word. Hierdie artikel is ’n aanbieding van die voorlopige navorsingsbevindings van sommige aspekte van so ’n weergawe.

2. Vertrekpunte

Voor die aanbieding van hierdie bevindings is ’n aantal opmerkings oor my vertrekpunte gepas.

Eerstens, gegewe die ryk verskeidenheid weergawes van die komplekse verskynsel van Westerse moderniteit moet dit wat hier aangebied word, beskou word as maar ’n klein bydrae tot hierdie gebied. Dit is allermins daarop gemik om allesomvattend te wees.

Tweedens, terwyl ’n dominante stroming van Westerse moderniteit geïdentifiseer kan word, kan alternatiewe strominge ook geïdentifiseer word. Ofskoon laasgenoemde strominge nie dominant in Westerse moderniteit was nie, was hulle altyd teenwoordig. Hulle bied nie slegs posisies waarvandaan die dominante stroming betwis kan word nie, maar ook goeie moontlikhede vir ’n nuwe era waarin die wêreldhegemonie van die dominante stroming oënskynlik verby is, soos die betreklike agteruitgang van die Amerikaans-geleide Weste en die opgang van die Chinees-geleide Ooste mag aandui.

Derdens, as die wêreldhegemonie van die dominante stroming van Westerse moderniteit op ’n einde skyn te wees, wil dit nie sê dat hierdie stroming nie langer ’n invloed uitoefen nie. Trouens, in soverre opkomende nie-Westerse lande vandag in sekere opsigte die dominante stroming naboots en aanpas – byvoorbeeld die stroming se buitengewone voorkeur vir ’n ekonomie van skaarste wat lei tot ’n voortslepende, verdiepende ekologiese krisis – bly die dominante stroming ’n krag om mee rekening te hou. Sy voortgaande houvas op Westerse politieke en ekonomiese elites sowel as die meeste van hulle sekulêre teenstanders speel geen geringe rol in die politieke uitsigloosheid en somberheid in soveel van hierdie lande nie.

Vierdens, indien daar na ’n alternatief vir die dominante stroming gesoek word, kan dit nie gedoen word sonder, onder meer, ’n rekonstruksie van sommige aspekte van die Westerse tradisie nie, wat nie gelykgestel moet word aan die restourasie van een of ander verlore, premoderne paradys nie. Met ander woorde, daar kan nie na ’n geïntegreerde premoderne wêreld teruggekeer word nie, maar ek glo wel dat uit die premoderne wêreld geput kan word in ’n poging om ’n geïntegreerde altermoderniteit te bou. Sodanige aanleuning by die premoderne wêreld mag help om die ergste patologieë van die dominante stroming voortvloeiend uit die disintegrasie van die premoderne wêreld, wat sy hoogtepunt in die dertiende eeu in die werk van Thomas van Aquinas bereik, te bowe te kom.

My skepsis jeens ’n terugkeer na ’n premoderne wêreld is nie gebaseer op ’n implisiete aanvaarding van een van die sleutelkenmerke van die dominante stroming nie, te wete ’n lineêre opvatting van tyd en die geskiedenis, maar op die aanname dat ’n ander sleutelkenmerk van Westerse moderniteit vandag oënskynlik deur die meeste noemenswaardige rolspelers binne en buite die Weste gedeel word, naamlik dat die wêreld anders gemaak kan word as in die vorm waarin ons dit ontmoet. Diegene in die eietydse wêreld wat in dié verband die premoderne opvatting aanhang, te wete dat die wêreld nie anders gemaak kan word as die vorm waarin ons dit ontmoet nie, is dikwels aan die kant van die onregverdige status quo of van antimoderne reaksionêre.

My geesdrif oor ontlening aan die premoderne wêreld en ander strominge van Westerse moderniteit vir ’n toekomstige altermoderniteit is gegrond op ’n lang blik op tyd as die deurlopende eggo van alle vorige handelinge waarin niks wat begin, ooit eindig nie en die verlede ook die hede is – maar die hede nie slegs die verlede nie. Op hierdie grond is die soort altermoderniteit wat ek onderskryf, een waarin die wêreld wat nog gemaak moet word, die wêreld is wat in lyn gebring word met die natuurlike synsorde waar alles in interafhanklike oorvloed bestaan. Maar so ’n wêreld sal ook afhang van meer verligte handeling as wat die dominante stroming van Westerse moderniteit oor die algemeen gekenmerk het – verligte handeling wat ook onbevange denkers vereis wat bereid is om verby hulle gekoesterde opvattings oor die aard van die syn en die orde van die dinge te dink.

Laastens, in ’n poging om ’n weergawe van die oorspronge en karaktertrekke van Westerse moderniteit te gee, poog ek om so getrou as moontlik aan ’n interafhanklike werklikheidsbeskouing te bly waar die klem nie soseer op lineêre oorsaaklikheid val nie as op sameloop, sowel in die sin van verskillende verskynsels wat mekaar medekonstitueer as in die sin van verskillende verskynsels wat saamvloei. Gegewe die oneindig verweefde web van die verskynsels wat Westerse moderniteit medekonstitueer het, is ’n omvattende, oorsaaklike weergawe daarvan onwaarskynlik, terwyl ’n sameloopsweergawe kan help om groter insig daarin te gee.

3. Sameloopsweergawe

In hierdie sameloopsweergawe van Westerse moderniteit word drie kategorieë verskynsels in ag geneem, naamlik tegnologies, teologies-filosofies en sosioinstitusioneel. Die tegnologiese verskynsels wat Westerse moderniteit vanaf 1150 en daarna medekonstitueer het, is minstens die boek-voorwerp (oftewel bookish object, soos Ivan Illich 1993 dit noem), die meganiese uurwerk, geld, die magnetiese naaldgemonteerde kompas, en innovasie in kartografie en navigasie. Die teologiesfilosofiese verskynsels is minstens die oorgang vanaf religieus bemiddelde, hiërargiese, herhalende tyd na neutrale, lineêre tydruimte; die oorgang van skolastisisme na nominalisme en die verbrokkeling van skolastisisme se sintese van God, die mens en die natuur; en die opkoms van ’n ekonomiese ontologie wat uiteindelik die basis sou vorm van moderne verskynsels so gevarieerd soos kapitalisme, liberalisme en Marxisme. Die sosio-institusionele verskynsel waarop hierdie weergawe meestal fokus, is ewe sentraal vir Westerse moderniteit as wat die kerk vir Westerse premoderniteit was, naamlik die staat-mark, wat dikwels, en verkeerdelik, as twee instellings verstaan word, te wete die staat en die mark. Ander instellings wat binne die reikwydte van die staat-mark val, maar waarop nie so sterk in hierdie weergawe klem gelê word nie, is die universiteit, die skool,2 die bank en die instellings van wet en orde.

Met betrekking tot bostaande lys verskynsels kan ’n paar waarnemings gemaak word. Eerstens verskyn hulle almal tussen 1150 en 1450. Tweedens wil dit voorkom asof die teologies-filosofiese en die sosio-institusionele verskynsels in ’n mate na die tegnologiese verskynsels opkom, veral wat betref die boek-voorwerp, geld en die meganiese uurwerk. Derdens het al hierdie verskynsels aanvanklik verskyn in die Europese premoderniteit, ’n epog waarvan die komende einde aangedui word deur twee gebeure wat rondom 1450 plaasvind: Gutenberg se uitvinding van los letters (movable type) en die snelle opkoms van die gedrukte boek; en die groeiende oortuiging van die pousdom “dat die vernaamste waarborg van sy onafhanklikheid binne die nuwe Italiaanse en Europese stelsel van moderne state slegs kon setel in die vorming en administrering van ’n eie moderne staat” (Prodi 2006:199, my vertaling uit die Frans), oftewel die periode waarin die kerk sigself op die staat begin skoei het. Vanuit die plasing van al hierdie verskynsels in ongeveer die laaste drie eeue van die Europese premoderniteit behoort dit ooglopend te wees dat in plaas daarvan om te kies vir ’n streng skeiding tussen die premoderne en die moderne, en vir ’n geskiedsopvatting wat die ontwrigting, die breuk en die onderbreking beklemtoon, dit raadsaam is om te kies vir ’n langer oorgang tussen die premoderne en die moderne, en kontinuïteite te benadruk sonder om breuke te ontken.

Met die uitsondering van neutrale, lineêre tydruimte, wat hier onder in beperkte besonderhede behandel sal word, sal hier nie volledig ingegaan word op die verbande tussen die oorspronge en kenmerke van Westerse moderniteit nie, want die vernaamste oogmerk met hierdie artikel is om slegs in breë trekke ’n lang blik op Westerse moderniteit te bied. Nietemin, ter wille van die periodisering van Westerse moderniteit wat aanstons hier onder gegee sal word, kan hierdie kenmerke soos volg gelys word: die motief van skaarste wat so ’n prominente rol in die opkoms en lot van die staat-mark speel; ontmiddeling,3 oftewel die vervanging van ’n maatskaplike orde bemiddel met ’n buitekant (byvoorbeeld God) deur ’n maatskaplike orde wat sigself sowel proklameer met verwysing na ’n binnekant (byvoorbeeld die staat); immanentisering, oftewel ’n maatskaplike orde wat sy legitimiteit eerder binne as buite sigself vind en ’n aantal teologiese motiewe herbewerk binne ’n sekulêre orde wat self deur en deur teologies is; kwantifisering, wat sentraal vir die moderne wetenskap en ekonomie is; die individuele subjek in sy verskillende moderne gedaantes, insluitend rasioneel, kennend, krities, ekspressief, ensovoorts; en maatskaplike, metafisiese en epistemologiese differensiasie van terreine wat voorheen baie meer geïntegreerd was, byvoorbeeld die religieuse en die politieke, of die verskillende wetenskappe.

Weer eens begin al hierdie kenmerke met wisselende prominensie tussen 1150 en 1450 na vore tree, waarna hulle op groot skaal geïntensiveer en bewustelik omhels word, aanvanklik in Europa, maar ná die Industriële Revolusie tussen 1800 en 1850 ook wyer in wat uiteindelik die Weste genoem sou word.

As daar een verskynsel is wat die sameloop van al bovermelde oorspronge en kenmerke beliggaam, en wat intiem verweef is met die opkoms en agteruitgang van die dominante stroming van Westerse moderniteit, is dit neutrale, lineêre tydruimte. Trouens, die vier honderd jaar waartydens die dominante stroming sy kruin bereik het – omstreeks 1450 tot 1850 – is ook die tydperk waarin neutrale, lineêre tydruimte die Europese verbeelding oorheers het.

Dit is nie sonder ironie nie dat die mees verreikende gebeurtenis wat deur neutrale, lineêre tydruimte bemoontlik is, naamlik die Industriële Revolusie, ook die gebeurtenis is wat die begin van die einde van neutrale, lineêre tydruimte aandui. In sy uitstaande oorsig oor die sameloop van tegnologieë soos die rolprent, die foto, die telefoon, die polshorlosie, kuns, wetenskap en filosofie ná die Industriële Revolusie toon Stephen Kern (2003) aan hoe die neutrale, lineêre tydruimte wat Descartes, Newton en Kant in hulle werk vooronderstel het, begin uitrafel het, sodat denkers soos Freud, Nietzsche en Einstein ernstige twyfel en onsekerheid oor Westerse moderniteit kon saai. Hierdie twyfel en onsekerheid het natuurlik sedertdien bly verdiep en die denkers wat steeds prominent is, soos Husserl, Heidegger, Derrida, Deleuze en Foucault, beroemd gemaak.

4. Periodisering

Vir eers, alvorens van nader gekyk word na neutrale, lineêre tydruimte, wil ek teen die agtergrond van die buitelyne van Westerse moderniteit hier bo aangebied, ’n rowwe periodisering daarvan gee. Hierdie periodes is, eerstens, tussen 1150 en 1450, onintensionele modernisering; tweedens, tussen 1450 en 1850, intensionele modernisering; en, derdens, vanaf 1850 tot op hede, distensionele moderniteit.4

Die eerste periode word onintensioneel genoem omdat al die oorsprongsverskynsels en kenmerke van Westerse moderniteit in hierdie drie honderd jaar verskyn, maar hulle volle implikasies was nog nie duidelik nie, en baie dikwels is hulle destyds beskou in verhouding tot wat nou as Europese premoderniteit bekendstaan.

Die tweede periode word intensioneel genoem omdat al die oorsprongsverskynsels en – kenmerke van die dominante stroming van Europese moderniteit groot ontwikkelings ondergaan en deur die Europese elites in die naam van die toekoms omhels word. Elke Europese filosoof en wetenskaplike van naam wat met die dominante stroming verbind kan word, verwerp in die ergste gevalle die premoderne tradisie volledig, of gebruik dit ten beste om die nuwe wêreld van intensionele modernisering te legitimeer. Hierdie lys sluit Machiavelli, Descartes, Hobbes, Locke, Newton, Rousseau en Kant in, maar dit is geensins volledig nie.

Die derde periode word distensioneel genoem omdat Europese moderniteit vanaf ongeveer 1850 distensioneel in albei sinne van die woord word: dit sit ruimtelik uit in die prosesse van, onder meer, imperialisme en kolonialisme, maar dit ly ook aan ’n soort inwendige ongemak meegebring deur immerversnellende industrialisering en hewige selfbevraagtekening deur modernistiese kunstenaars en filosowe. Hierdie lys sluit onder andere Marx, Nietzsche, Freud, Husserl, Heidegger, Joyce, Kafka, Picasso, Derrida, Deleuze, Lyotard en Foucault in.

5. Opkoms van neutrale, lineêre tydruimte

5.1 Die boek-voorwerp

Soos vroeër aangedui, wil ek nou kortliks stilstaan by die opkoms van neutrale, lineêre tydruimte in die vorm van ’n kursoriese skets. Hopelik sal hierdie skets nie slegs lig werp op hoe neutrale, lineêre tydruimte ontstaan het nie, maar ook op die verwantskappe daarvan met die ander kenmerke van Westerse moderniteit.

Die opkoms van neutrale, lineêre tydruimte in die eerste periode van Europese moderniteit, onintensionele modernisering, kan gedeeltelik herlei word na die tegnologieë van die boek, die uurwerk en geld.

Laat ons eerstens by die boek stilstaan. Ofskoon die begin van die era van die boek normaalweg gedateer word na Gutenberg se uitvinding van los letters omstreeks 1450, toon Ivan Illich aan dat ’n aantal verreikende tegniese innovasies in boekproduksie na 1150 plaasgevind het. Dit sluit in die herontdekking, invoer of uitvinding van kursiewe handskrif, ’n meer elastiese soort papier, die alfabetiese rangskikking van sleutelwoorde, onderwerpindeksering, bladuitleg vir stilswyende skandering van die teks deur die leser, ligter draagbare boeke, biblioteekinventarisse en konkordansies (Illich 1993:93-4; 1025).

Vanaf laat in die twaalfde eeu het dié innovasies ’n omvattende omwenteling met betrekking tot kennis meegebring. Kennis was nie langer slegs ter wille van God nie, maar word uiteindelik ’n doel op sigself. Studente moes skielik baie meer kennis as voorheen inneem, wat ’n groeiende bewustheid meegebring het van die beperkte tyd waarbinne die kennis verwerf moes word. Kennis word nou vir die eerste maal benader as verruimde (spatialised) tekste, ontliggaamde voorwerpe van studie en stillees, en dit was bloot ’n kwessie van tyd voor die ganse werklikheid gesien is as ’n klassifiseerbare, analiseerbare boek wat met die gepaste metodes bestudeer moet word.

Die verspreiding van boekkultuur (bookish culture, soos Illich dit noem), met sy analitiese neiging deur Latyns-Europa en Engeland in die dertiende eeu, waarin die kerk, kloosters en universiteite ’n sentrale rol gespeel het, het moontlik die weg gebaan vir die grootskaalse toe-eiening van die uur as die sentrale eenheid van tydhouding.

5.2 Die uurwerk

Tot die uitvinding van die meganiese uurwerk iewers tussen 1270 en 1330, vermoedelik in die hedendaagse Noord-Italië (Dorhn-van Rossum 1996:134), was Christelike aanbidding wat in ’n daaglikse liturgie deur die loop van die jaar gereguleer is, die basis van premoderne tydhouding. Tyd is plaaslik aangedui deur die klokke van kerke en kloosters, met die dag as die basiese tydseenheid (Dorhn-van Rossum 1996:35-6).

Maar met die verspreiding van meganiese uurwerke deur Europa vanaf die veertiende eeu het die uur die dag as basiese tydseenheid vervang en uiteindelik het alle politieke lokaliteite – lande, streke, stede en dorpe – dieselfde standaardtyd aanvaar. Die plaaslike dorps- of stadshorlosie het ’n sentrale element van politieke, administratiewe en ekonomiese lewe geword (Dorhn-van Rossum 1996:201), sodat die Europese verspreiding van lineêre tyd die voorwaarde geword het van gestandaardiseerde politieke lokaliteite, wat op sy beurt die integrasie van hierdie lokaliteite in die groter politieke eenhede van die opkomende staat-markte in Europa vanaf die vyftiende eeu aangehelp het.

5.3 Geld

Die beroemde Middeleeuse geskiedkundige Georges Duby voer aan dat ’n gemonetariseerde ekonomie wat onder meer op verhoogde landbouproduksie gebaseer was, vanaf omstreeks 1180 in sommige suidelike Europese stede op dreef gekom het (Duby 1974:263). Vanaf die dertiende eeu neem geldproduksie in Latyns-Europa en Engeland op groot skaal toe, maar dit lei op sy beurt tot groter onstabiliteit in die alledaagse lewe. Hierdie onstabiliteit is veroorsaak deur faktore soos geldeenheiddevaluasies deur monarge; geldtekorte; en tekorte van voedsel en ander basiese produkte (Kaye 1998:15-36). Volgens die historikus van die Middeleeue, Joel Kaye, het hierdie onstabiliteit die gewone burgers nie slegs baie meer bewus gemaak van onstabiliteit in die alledaagse lewe nie, maar hulle ook gedwing om wisselings in geldwaarde te voorsien en te voorspel. Gevolglik is ’n kulturele bewussyn wat in staat is om te kwantifiseer en in ’n lineêre toekoms te projekteer, in die leidende Europese stede van die tyd gekultiveer. Dit was veral die geval in die leidende universiteitsentra van Parys en Oxford, waar die kritieke teologies-filosofiese drumpel na moderniteit oorgesteek is met die oorgang vanaf skolastisisme na nominalisme.

Die mate waarin neutrale, lineêre tydruimte religieusbemiddelde, hiërargiese, herhalende tyd begin desentreer het, blyk uit ’n veelseggende dokument uit 1268, die Pouslike Bul Quia plerumque, wat op 28 Junie van daardie jaar uitgereik is. Hierdie dokument het die voorwaardes uitgespel wat nagekom moes word alvorens ’n bedelklooster (mendicant monastery) opgerig kon word, naamlik of die gemeenskap wat deur die klooster se prediking bereik sou word, groot genoeg was om dit ekonomies te onderhou. Dohrn-van Rossum (1996:166-7) vat die bepalings en implikasies van die Bul saam as hy skryf:

[T]he distance between the convents of the various preaching orders was to be no less than five hundred meters (three hundred "cannae" [rods]). Regardless of local custom, a rod was to be calculated at eight handbreadths ("palmae"). This was the first time a universally valid index of urbanization combining a minimum size and economic productivity had been formulated.

Kaye (1998) het aangetoon dat al die leidende denkers van die skolastisisme en die nominalisme in die dertiende en veertiende eeu in Parys en Oxford intensief blootgestel is aan die wisselvallighede van die destydse monetêre ekonomie, veral aangesien die meeste van hulle ook in die administrasie van hulle universiteite gedien het. Dit behoort dan ook geen verrassing te wees nie dat albei die twee grootste denkers van die skolastisisme, Albertus die Grote (1193/1206–1280) en Thomas van Aquinas (ca. 1225– 1274), sowel as die meeste van hulle nominalistiese opvolgers, substansiële besinnings oor geld geskryf het.

Maar waar Aquinas geld nog beskou het as sonder enige werklikheid in sigself en bloot ’n middel om werklike behoeftes in God se voorordineerde synshiërargie met mekaar te bemiddel, is ’n kritieke drumpel naby die einde van die dertiende eeu oorgesteek toe die nominalis, Petrus Johannes Olivi (1248–1298) die eeue oue verbod op rente oorkom het. Olivi, wat die grootste gedeelte van sy lewe in florerende handelstede in die hedendaagse Italië en Suid-Frankryk deurgebring het (Kaye 1998:120), het aangevoer dat dit regverdig is dat ’n geldskieter rente betaal word deur ’n handelaar wat by hom leen, aangesien die handelaar ’n waarskynlike toekomstige wins wat met die geleende geld gemaak gaan word, aanvaar het. Volgens Olivi is hierdie waarskynlikheid werklik. Dít het dit moontlik gemaak om voortaan werklikheid aan geld op sigself toe te ken, soos dit in die 1360’s tot ongekende hoogtes gevoer is deur die nominalis, Nikolaas Oresmus (1323–1382) met sy monumentale ontleding van geld, De moneta (Kaye 1998:149-51).

6. Nominalisme

Dit is nie ’n algehele verrassing nie dat geld in die hart van die grootste politieke botsing tussen die skolastici en die nominaliste was, naamlik die Armoededispuut van 1324 tot 1328 tussen die skolastiese pous Johannes XXII en die nominalistiese Franciskane, met inbegrip van die grootste nominalistiese denker, Willem van Ockham (1280/1285–1348). Terwyl die Franciskane daarop aanspraak gemaak het dat hulle deur ’n armoedegelofte af te lê, vir Christus, wat sy aardse koninkryk en dominie opgesê het, nageboots het, het die Pous geantwoord dat Christus nie sy aardse koninkryk kon opsê nie, aangesien dit deur God voorbestem is. Die antwoord van die Franciskane hierop was dat God se almag dit vir hom moontlik gemaak het om sy eie voorbestemmende mag teen te gaan (Gillespie 1995:14).

Deur hierdie skuif te maak, het die nominaliste die skolastiek se siening ondermyn dat God die mens en natuur geskep het volgens redelike wette wat hy self in sy liefde gekies het om te gehoorsaam, waardeur die skolastiek God se almag en wil onderbeklemtoon het ten gunste van sy liefde en redelikheid. Met hierdie siening het die skolastiek die basis voorsien vir die integrasie van God, die mens en die natuur in ’n harmonieuse, redelike geheel.

Maar toe die nominaliste onder leiding van Willem van Ockham gekies het om God se wil en almag bo sy rede en liefde te beklemtoon, het hulle ’n onvoorstelbare reeks gebeure ontketen wat die filosofiese basis vir Europese en later Westerse moderniteit sou verskaf, asook vir die verskillende pogings om ’n soliede, nuwe konstruksie op die basis van ’n almagtige, wilsmatige God (Deïsme, Protestantisme), die mens (verskillende vertakkings van die humanisme en die subjek), of die natuur (kwantitatiewe wetenskap) te bou.

Vir Ockham leer slegs geloof ons dat God almagtig is en bestaan of gebeur alles slegs as gevolg van God se wil (Gillespie 1995:16). Ockham betoog by implikasie vir ’n God wat onverskillig jeens die mensdom en sy lot is – God is geen mens se skuldenaar nie, voorbestem wie hy wil, en sy liefde vir die mensdom is slegs ’n pad terug na God se selfliefde, wat God se liefde uiteindelik is (Gillespie 1995:16). Met ander woorde, Ockham werk met die opvatting van ’n onbemiddelde God wat slegs na homself verwys, en so word Ockham ’n voorloper van die moderne verlies aan bemiddeling. Deur te betoog vir God se radikaal unieke syn, vernietig Ockham sowel die universele as die betreklikheid of “gemeenskaplikheid” tussen die syndes, sowel as tussen die syndes en God.

Aangesien Ockham se God “onbemiddeld” is in die sin dat hy nie langer op bemiddelende wyse via die voorordineerde universeles skep nie, maar onmiddellik volgens sy blote wil, word dit moontlik om radikale epistemiese twyfel te saai, want dit is heeltemal moontlik dat niks wat ek waarneem, werklik bestaan as God dit nie so wil nie, of selfs dat God wil dat ek glo in die illusie van iets wat bestaan, selfs al bestaan dit nie (Gillespie 1995:19). Ockham probeer hierdie epistemiese twyfel oorkom deur hom te beroep op ons intuïtiewe kognisie van individuele feite waardeur ons God, wat intuïtief ken, naboots – regstreekse, onbemiddelde intuïsie word die grond van kennis. Aangesien mense die universele en veralgemenings benodig het om te ken, word alle kennis “an impression of contingent relationships or similarities between individual existences” (Gillespie 1995:19).

Ockham het ook die institusionele bemiddeling tussen mens en God vernietig deur aan te voer dat elke mens as individu in ’n regstreekse verhouding met God staan, dat daar geen bevoordeelde vertolking van openbaring is nie, aangesien ons elkeen toegang tot openbaring het, en dat pouslike of kerklike (clerical) gesag nie in geloofsake gewig dra nie(Gillespie 1995:23). Ons kan ook kennis neem van Ockham se bydrae tot die opkoms van onbemiddelde, moderne tyd deur sy bewering dat God die verlede kan verander aangesien hy nie ondergeskik aan tyd is nie.

7. Samevatting

Om saam te vat: Tegnologiese innovasies in boekproduksie, tydhouding en geld het bygedra tot die opkoms van neutrale, lineêre tydruimte. Terselfdertyd, deur gedeeltelik te steun op analitiese boekkultuur en dié se benadering tot kennis, sowel as op ’n nuwe sin van onstabiliteit en ’n groeiende bewustheid van kwantitatiewe projeksies, het nominalisme na vore gekom. Dit het die eenheid van God, die mens en die natuur vernietig en die deur geopen vir bekende moderne motiewe soos kwantitatiewe wetenskap as ’n poging om tot ’n vergelyk te kom met die kontingente natuur wat deur ’n onkenbare, wilsmatige God geskep is (Descartes); vir die moderne staat-mark wat sy legitimiteit baseer op sy beweerde vermoë om tydelike, territoriale en ekonomiese skaarste te oorkom deur gewelddadige, territoriale uitbreiding en die belofte van oneindige ekonomiese groei; en vir die individuele subjek in regstreekse, onbemiddelde verhouding met die staat-mark.

Bibliografie

1. Boeke

Dorhn-van Rossum, Gerhard. 1996 (1992). History of the hour. Clocks and modern temporal orders. Uit die Duits vertaal deur Thomas Dunlap. Chicago: The University of Chicago Press.

Duby, Georges. 1974 (1973). The early growth of the European economy: Warriors and peasants from the seventh to the twelfth century. Uit die Frans vertaal deur Howard Clarke. Ithaca, New York: Cornell University Press, 1974.

Gillespie, Michael Allen. 1995. Nihilism before Nietzsche. Chicago: The University of Chicago Press.

Illich, Ivan. 1993. In the vineyard of the text. A commentary to Hugh’s Didascalicon. Chicago: The University of Chicago Press.

Kaye, Joel. 1998. Economy and nature in the fourteenth century. Money, market exchange, and the emergence of scientific thought. Cambridge: Cambridge University Press.

Kern, Stephen. 2003. The culture of time and space. 1880–1918. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.

Prodi, Paolo. 2006. Christianisme et monde moderne. Cinquante ans de recherches. Parys: Gallimard, Seuil.

2. Vaktydskrifartikels

Rossouw, Johann. 2009. Religie en Bernard Stiegler se "otium van die volk". Litnet Akademies, 6(1), Maart 2009. http://www.litnet.co.za/cgibin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=64123&cat_id=201. (30 Oktober 2009 geraadpleeg)

Eindnotas

  • Ek bedank graag die twee anonieme keurders van hierdie artikel vir hulle opbouende kritiese voorstelle, wat ek grootliks aanvaar het.
  • Met die gedeeltelike uitsondering van religieuse universiteite en skole wat meesal Katoliek is.
  • Hierdie nuutskepping slaan op sowel die moderne strategie om premoderne vorme van bemiddeling te ondermyn, as op die daarmee gepaardgaande gelykstelling van tyd met onmiddellikheid en ruimte met die verlies aan ’n middelpunt.
  • Ofskoon dit taalkundig meer gebruiklik is om van onbedoelde as onintensionele en van bedoelde as intensionele te praat, sou so ´n termkeuse ongelukkig nie in harmonie wees met die term distensionele soos ek dit vir spesifieke redes, soos in die teks hier bo uiteengesit, gekies het nie.