elkeoggendOor die roman: Elke oggend van die wêreld is die verhaal van De Sainte Colombe, meester van die viola da gamba en een van die beste komponiste van sy tyd. Ná die dood van sy vrou draai hy sy rug op die roem van Parys en leef in eenvoud op sy plasie met sy twee dogters en die spook van sy vrou. In die afsondering van sy hut in die takke van ’n moerbeiboom wy hy sy lewe aan die poësie van die musiek. Van Sainte Colombe is gesê dat sy boog al die verbuigings van die menslike stem kon naboots: van die sug van ’n jong vrou tot die snik van ’n bejaarde man, van die oorlogskreet van Hendrik van Navarre tot die sagte asemhaling van ’n kind wat ingedagte teken. Dit is ook die verhaal van Marin Marais wat op ’n dag op die plaas aankom en pleit om as ’n leerling van Sainte Colombe aanvaar te word. Maar Marais se ambisie is om die glinsterende hofkunstenaar van Versailles te word. In 1991 het Alain Corneau ’n film van hierdie boek gemaak wat wêreldwyd ’n sukses was.

Uittreksel: Sainte Colombe het homself vermaak met ydele plukkies aan die snare van sy viola da gamba. Hy het ’n paar melancholiese klanke met sy strykstok gemaak. Van tyd tot tyd, soos dikwels gebeur het, het hy gepraat. Verder het hy niks gedoen nie. Sy spel het argeloos, seniel, troosteloos voorgekom. Monsieur Marais het sy oor teen ’n gleuf in die planke gedruk om die woorde te probeer uitmaak wat monsieur De Sainte Colombe van tyd tot tyd gemompel het.

Hy het slegs enkele sinlose woorde soos “fyngemaakte perskes” of “in die boot klim” gehoor. Monsieur De Sainte Colombe het die Chaconne Dubois gespeel, wat hy voorheen met sy dogters in konserte uitgevoer het. Monsieur Marais het die hooftema herken. Die stuk het majestueus tot ’n einde gekom. Daarna het hy ’n sug gehoor en toe monsieur De Sainte Colombe in ’n fluisterstem sy klagtes hoor uitspreek: “A! Ek praat nog slegs met die skadu’s wat te oud geword het, wat nie meer verskuif nie! A! As daar maar buiten my ’n lewende siel in die wêreld was wat ook musiek waardeer het! Ons sou gepraat het! Ek sou dit aan hom kon toevertrou en ek sou kon sterf.” Toe het monsieur Marais, bitterend buite in die koue, self ’n sug geslaak. Terwyl hy nog ’n keer gesug het, het hy aan die deur gekrap. “Wie is daar wat in die stilte van die nag sug?” “’n Man wat uit die paleise vlug en die musiek soek.” Monsieur De Sainte Colombe het gesnap wie dit was en hy was verheug. Hy het vorentoe gebuk en die deur met sy strykstok oopgestoot. ’n Bietjie lig het deurgeskyn, maar dit was swakker as die lig van die volmaan. Marin Marais het in die deur gehurk. Monsieur De Sainte Colombe het vorentoe gebuk en in sy gesig gesê: “Wat soek u, monsieur, in die musiek?” “Ek soek na berou en trane.” Toe het hy die deur van die hut heeltemal oopgestoot en bewend opgestaan.

Hy het monsieur Marais, wat binnegekom het, met ’n seremoniële buiging gegroet. Aanvanklik was hulle sonder woorde. Toe het monsieur De Sainte Colombe op sy stoeltjie gaan sit en vir monsieur Marais gesê: “Sit!” Monsieur Marais, nog altyd in skaapvel gewikkel, het gaan sit. Hulle was ongemaklik. “Monsieur, mag ek u om ’n laaste les vra?” het monsieur Marais skielik gevra. “Monsieur, mag ek ’n eerste les probeer?” het Monsieur Marais met ’n gedempte stem teengewerp.

Koop Boek 0