verwoerdburgOor die roman: “Jakes is ’n bliksem. Uit en uit. Hy’t ons deur die ore gewerk. Padgegee toe ons hom die nodigste gehad het.” Jakes Botha dink hy het sy grootwordjare op Verwoerdburg uit sy gestel geskryf. Hy lei immers ’n goeie lewe met die spieël van die Middellandse See voor sy skryftafel in Monaco uitgestrek. Maar hoekom kan hy nie weer aan die skryf kom nie? En waarom pla gedagtes aan sy eertydse klasmaats hom steeds? Die lys van mense waarmee hy afgereken het, is lank, insluitend dik Karel wat so drink, goedgelowige Stefan en Marius wat so mal is oor die sepiester Petra. Dan is daar ook nog Adéle en haar verleidelike ma. Maar elkeen het ’n éie storie oor Jakes te vertel. Tydens hul skoolreünie kom die lewe van dié groep Suid-Afrikaners onder die loep. Ná jare van demokrasie neem Jakes se geslag hul lewe in die nuwe bedeling in oënskou.

Uittreksel: Dit help nie om dit langer te ontken nie. Daar’s ’n duidelike patroon, ’n stadige agteruitgang oor die laaste paar weke, as ek nou mooi daaroor dink. En ek het ’n baie goeie spesmaas dit het met Sophie en Leo se briewe begin. Dit maak nie saak hoe getrou ek soggens by my lessenaar gaan sit nie, ek hoor nie meer my skryfstem nie. Nie as ek stip na die grenslose spieëlsee kyk nie. Nie as ek my oë toemaak nie. Veral nie as ek my oë toemaak nie, want dan word ek oorval deur onwelkome beelde van vergane dinge wat met hewige emosie gepaard gaan. Heeltemal onverklaarbaar. Om onder ’n seil in druppende reën by Schoemansdal se veldskool saam met Stefan en Karel ons stukkies hoender oor ’n dromvuurtjie gebraai te probeer kry. Om soos ’n windmeul by die sokkie my arms te swaai op U2 se “Sunday, Bloody Sunday”. Om op ’n Saterdagmiddag in die winter van die OK in Verwoerdburgstad af huis toe te ry op my fiets en die vaal veld te sien. Om weer agter my kasregister in die ok OK staan die keer toe Eileen haar kruideniersware by my kom betaal het. Om die fyn aartjies op haar slanke nek in die kerk af te loer. Om op ’n Saterdagaand ’n warm witbrood by die Griek in Wierdapark te koop. Om op Hemelvaartdag die absolute stilte in die strate van Eldoraigne te voel van die dag wat die minste van alle dae gekommersialiseer kan word, “heilige” dag of te not. Om op die reservoir te sit en die son te sien opkom, nog voor Eldoraigne 3 daarom gebou is. Om saam met Karel voor in die dubbeldekker op die ou Johannesburgpad die Monument op die koppie te sien verskyn. Om op die kerkbasaar pannekoek te eet.

Om op die bruin skoolpawiljoen te voel hoe my stem hees gesing is aan die einde van die interhuisatletiek. Om ’n Chelsea bun by die snoepie te koop. Om die angeliere op Valentynsdag te ruik. Om saam met Leo onder een van die peperbome by die draaisirkel te staan en gesels. Om my nuwe AC/DC-plaat die eerste keer uit sy omslag te haal en versigtig op die platespeler te sit, my hand gereed op die record-knoppie om dit op ’n TDK oor te sit. Om op Leeubrug te staan en die amperstroompie van die Apiesrivier te sien. Om weggeslaande balletjies by die Zwartkop-gholfklub op te tel en aan die klubhuis terug te verkoop. Om Elna die eerste keer te soen. Om die laerskoolhoof in sy driestukpak te sien stap na sy kantoor. Ja wragtag, die donnerse laerskoolhoof! Om juffrou Stals in haar swart toppie voor in die klas te sien staan.

Om juffrou Sophie se tee in haar kombuis te drink en vir die Ortodokse ikone teen die muur te kyk, veral die een met die emosie in die Moeder van Christus se oë oor wat sy weet kom vir die baba in haar koesterende arms, of ek nou daarin glo of nie. Om na die Jonathan Livingston Seagull-plakkaat in Stefan se kamer te kyk. Om die kiewietjies laat op someraande op die meent voor ons woonstel te hoor krys. Om in my kamer na Chris Prior te luister. Om Modern Talking se “Cheri, Cheri Lady” te hoor en weer Elaine van den Heever op die skool- grond te sien stap. Modern Talking, verdomp! Om te wissel tussen die K-blok en die B-blok. Om die sproeiers op die rugbyveld te hoor. Om te gaan fliek in Verwoerdburgstad. Om vir die waterorrel by Verwoerdburgstad te staan en kyk. Om by Polkadraai langs die Hennopsrivier te braai. Om saam met Stefan langs die Sesmylspruit te draf. Om The Woman in Red en The Terminator in die skoolsaal te kyk. Om te hoor hoe die gemeente “Laat Heer U seën op hom daal” sing.

Om die blou kanselkleed met die kruise te sien, al wil ek nie weer in daai kerk sit nie. Selfs om broer Roelof die orrel te hoor speel wanneer die dominee die seën uitgespreek het en ons uitstap. Om Afrikaans te hoor. God, ja, om weer Afrikaans te hoor. Dit help nie ek probeer myself ook herinner aan P.W. met sy swart hoedjie en sy vinger in die lug nie. Of aan hoe ons in kadette gedril is. Of hoe rock-musiek en die liggaam gedemoniseer is. Of hoe bang ons ná die Kerkstraatbom was. Of hoe ons vertel is om hard te werk “want die swartes wil ons land vat”. Of hoe “die hele wêreld teen ons land is”. Of hoe Eugéne Terreblanche skares opsweep. Of hoe dominee Peens my in sy studeerkamer betig oor ek so “rebels is”. Of hoe Danie Lourens se broer op die grens dood is. Hoe hard ek ook al probeer om die films en foto’s voor my geestesoog te verdryf, hoe meer kyk ek daarna. Dan is ek weer terug in ’n ander land en ’n ander tyd. Dis nog net my liggaam wat soggens voor die lessenaar gaan sit, of saans agter Ariane inskuif.

Koop die boek Amazon 0
Koop die boek Take a lot 0