In ’n rubriek wat op 25 November 2006 gepubliseer is, skryf ek:

In die 1980’s – toe staatsensuur nog ´n werklikheid was – kon ´n mens in bioskope rolprente van die wêreld se beste regisseurs sien. In spesialismusiekwinkels, soos die destydse Hillbrow Records of Look & Listen in Hillbrow, kon jy die mees eksotiese musiek aanskaf. Toe kom 1994, die oopstelling van die ekonomie, die einde van staatsensuur (altans in sy vorige vorm) en toegang tot die grootskaalse kommunikasierewolusie waarin die res van die gemoderniseerde wêreld reeds opgeneem was. Terselfdertyd het die voorste boek- en musiekwinkels verander in Anglo-Amerikaanse kulturele stortingsterreine wat niks anders bewys nie as hoe effektief dié bedryf se bemarkingstegnieke is. Spesialismusiekwinkels het verdwyn.

Dus, skryf ek verder:

Inmiddels het ´n groot deel van my eie vrye tyd verander in ´n soort hermetiese skattejag, waar ek met smaakgenote voortdurend nuwe kultuurprodukte bly soek – en ook die afsetpunte waar dit beskikbaar is. So avontuurlik as wat hierdie spel is, wat mag insluit vanaf die luister na obskure radiostasies tot snuffelary in verafgeleë musiek- en boekwinkels, bly dit in beginsel taamlik nutteloos in vergelyking met wat vandag potensieel moontlik is danksy iets soos die Internet of satelliet-TV. Die probleem is natuurlik dat hierdie moontlikhede klaarblyklik nog nie as winsgewend genoeg geag word deur die kommunikasiekonglomerate wat ons geeste in stortingsterreine teen die maksimumwins wil verander nie. Sal ons dan vir ´n oomblik droom oor alternatiewe?

Een so ’n alternatief wat ek voorgestel het, was:

Waarom word ´n Gilde van Goeie Smaak nie gestig waarop liefhebbers van musiek, letterkunde, filosofie en dergelike stigtelike dinge verwysings met mekaar uitruil nie?

Nou, amper tien jaar later, is hierdie webwerf ’n poging om by te dra tot so ’n inisiatief. Meer spesifiek beoog ek om dit te doen in die afdeling Aanbeveel, waar ek sal skryf oor nuwe (en ouer) artikels, musiek, rolprente en boeke wat myns insiens die moeite werd is. Daar is ook ’n tweede beweegrede vir hierdie webwerf, naamlik ’n behoefte om by te dra tot die kritiese openbare gesprek. Toe die rubriek waaruit hierbo aangehaal is, verskyn het, was die gedrukte Afrikaanse media in ’n sterker posisie as tans – meer ruimte is aan kritiese besinning afgestaan, ’n groter verskeidenheid stemme is gehoor, verskillende publikasies had elkeen nog ’n eie boekeblad. In ’n mate was die verlies van die gedrukte media die wins van die digitale media.Die Vrye Afrikaan, die maandblad waarvan ek vanaf Augustus 2004 tot Februarie 2008 die stigterredakteur was, het bestaan in die tyd wat die afgang van die gedrukte media en die opkoms van die digitale media begin het. Sedertdien het ’n oënskynlik immergroeiende aanbod van digitale media – webwerwe, blogs – verskyn, ongelukkig nie altyd met die nodige groei in aanbod van pitkos nie.

Dis in laasgenoemde behoefte wat ek hoop om met hierdie webwerf te help voorsien met gereelde standpuntartikels. Maar die webwerf is ook ’n eksperiment om vas te stel: Is daar genoeg lesers vir wie ’n webwerf soos hierdie belangrik genoeg is om R40 per maand te betaal vir die soort gereelde nuwe skryfwerk waarna hierbo verwys is? Gewis pak ek hierdie projek nie slegs vir geldelike gewin aan nie, maar dis ewe waar dat ek nie langer kan sien waarom ’n wesenlike diens soos kritiese besinning nie ook finansieel beloon kan word nie. Per slot van rekening is kritiese besinning ewe belangrik vir ’n gemeenskap ewe belangrik as die werk wat rekenmeesters, ingenieurs of boere doen. As u met my saamstem, teken vandag nog hier in. As u nog nie vertroud is met my skryfwerk nie, kan u gerus daarvan gaan lees in die afdeling Argief waar ek mettertyd my besinnende skryfwerk wat sedert 1989 elders gepubliseer is, sal beskikbaar stel. In die 1980’s – toe staatsensuur nog ´n werklikheid was – kon ´n mens in bioskope rolprente van die wêreld se beste regisseurs sien.

In spesialismusiekwinkels, soos die destydse Hillbrow Records of Look & Listen in Hillbrow, kon jy die mees eksotiese musiek aanskaf. Toe kom 1994, die oopstelling van die ekonomie, die einde van staatsensuur (altans in sy vorige vorm) en toegang tot die grootskaalse kommunikasierewolusie waarin die res van die gemoderniseerde wêreld reeds opgeneem was. Terselfdertyd het die voorste boek- en musiekwinkels verander in Anglo-Amerikaanse kulturele stortingsterreine wat niks anders bewys nie as hoe effektief dié bedryf se bemarkingstegnieke is. Spesialismusiekwinkels het verdwyn. Hoe moet hierdie paradoks verstaan word? In ´n gerugmakende artikel in Le Monde diplomatique van Mei 2002 skryf die redakteur, Ignacio Ramonet: “Die digitale rewolusie laat die drie tekenstelsels in een ekwivalent saamsmelt. Skrif, klank en beeld word nou in grepe (bits) uitgedruk.

Die grepe vervoer teks, klank of beeld sonder onderskeid. En dieselfde ‘pyp’ maak dit moontlik om hierdie grepe teen die spoed van lig te vervoer… Dít het die media- en vermaaklikheidswêreld totaal getransformeer en die samesmelting-konsentrasie van al die ondernemings van hierdie sektore begunstig. Elektroniese ondernemings smelt nou saam met telefoon-, kabel- of uitgewersondernemings om geïntegreede megamediagroepe te vorm. Die breë omset van die kommunikasiebedryf, wat in 1995 ongeveer 1 000 miljard euro (10 000 miljard rand) was, kan oor vyf jaar styg tot 2 000 miljard euro (20 000 miljard rand), oftewel 10% van die wêreldekonomie…” Kortom, die steeds verbeterende tegnologie van vervoer en kommunikasie het dit nie net in beginsel moontlik gemaak om meer kulturele inhoud vinniger en verder as ooit te versprei nie, maar het die kanale van verspreiding self van die mees gesogte ekonomiese pryse gemaak.

As ´n mens egter die soort kapitaal wil uithaal wat nodig is om sodanige kanale te beheer, is dit nodig om terselfdertyd hoogs winsgewende kulturele inhoude te kan beheer en verkoop – wat byna noodwendig ten koste van minder winsgewende maar duursamer kulturele inhoude geskied. Inmiddels het ´n groot deel van my eie vrye tyd verander in ´n soort hermetiese skattejag, waar ek met smaakgenote voortdurend nuwe kultuurprodukte bly soek – en ook die afsetpunte waar dit beskikbaar is. So avontuurlik as wat hierdie spel is, wat mag insluit vanaf die luister na obskure radiostasies tot snuffelary in verafgeleë musiek- en boekwinkels, bly dit in beginsel taamlik nutteloos in vergelyking met wat vandag potensieel moontlik is danksy iets soos die Internet of satelliet-TV. Die probleem is natuurlik dat hierdie moontlikhede klaarblyklik nog nie as winsgewend genoeg geag word deur die kommunikasiekonglomerate wat ons geeste in stortingsterreine teen die maksimumwins wil verander nie. Sal ons dan vir ´n oomblik droom oor alternatiewe?