johann rossouw profielJohann Rossouw is in Pretoria gebore op 27 Oktober 1970. Hy bring die meeste van sy jeugjare deur in Verwoerdburg, nou Centurion. Hy studeer filosofie aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van Lyon-3 en Monash-universiteit (Melbourne), waar hy in 2013 onder leiding van Michael Janover doktoreer in politieke filosofie oor die politieke teologie van Bernard Stiegler.

Sy eerste meningsartikel verskyn in 1989 in Die Perdeby, die studentekoerant van die UP, en sy meningsartikels word gepubliseer in onder meer die Afrikaanse dagblaaie, Rapport, Insig, op LitNet, in Business Day, Sunday Times, Le Monde diplomatique, en die New York Times. Vanaf Februarue 2004 tot Augustus 2010 skryf hy die gereelde Beeld-rubriek, Glasoog. Sy akademiese artikels verskyn onder meer op LitNet Akademies, in Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Acta Academica, Médium, Sophia en Telos (laasgenoemde in 2016).

Rossouw is die skrywer van twee romans, naamlik n Rooi Z4 en n Renaissance-kasteel (Kaapstad: Zebra Press, 2007) en Verwoerdburg (Kaapstad: Umuzi, 2014). Vanaf 1998 tot 2004 is hy mederedakteur van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek, en tussen 1998 en 2005 is hy ook mede-aanbieder van radiosondergrense se gereelde filosofieprogram, Spookstasie. Vanaf Augustus 2004 tot Februarie 2008 is hy die stigterredakteur van die maandblad van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Die Vrye Afrikaan met inbegrip van die Afrikaanse uitgawe van Le Monde diplomatique, waarin ook heelwat van sy artikels verskyn. Rossouw het ook vier Afrikaanse vertalings uit die Frans gepubliseer, naamlik Pascal Quignard se Elke oggend van die wêreld (Pretoria: Protea, 2000), die Oorlogsdagboek van veggeneraal De Villebois-Maureuil (Pretoria: Protea, 2000), asook twee Kuifie-albums deur Hergé – Die swart eiland en Die blou lotus (albei Kaapstad: Human & Rousseau, 2006). Tans doseer hy filosofie.