Joost van der Westhuizen se dood was nie onverwags nie. Tog was die openbare emosie oor sy dood ewe sterk as met die onverwagse dood van ’n bekende. Hoekom? En wat het Joost vir ons beteken?

Hierdie artikel gaan nie oor my nie, maar as ek mag: Die versoek om oor Joost te skryf, is een van die moeilikstes wat ek al ontvang het.

Joost was nie net ’n geliefde rugbyheld nie, maar ook ’n mens van vlees en bloed wie se geliefdes se enorme private verlies oor jare in die openbaar afgespeel het. Op sowel die persoonlike as die openbare vlak het hy soveel emosies gaande gemaak dat om met die nodige respek en soberheid oor hom te skryf geen grap is nie. 

Miskien is dit daarom raadsaam om eers iets te sê oor waarom Joost my so aangegryp het, voordat ek iets probeer sê oor Joost as openbare figuur. 

Ek is ’n jaar voor Joost gebore en het, soos hy, beskeie grootgeword in die Pretoria van die 1980’s. Dit was ’n klein, beskermde wêreld onder beleg van die “klein ons” teen die “groot hulle” daar buite. 

Ek was geen rugbyspeler nie, maar rugby was van vroeg af ’n geleibuis vir soveel ander dinge: pa en seun, manlikheid, durf en drome, lewe en dood. 

Vroeë herinneringe: ’n Bloeiende Thys Lourens wat die Blou Bulle in ’n Curriebekereindstryd tot ’n oorwinning oor die WP lei, ons vasgenael voor Gerhard Viviers se kommentaar. 

Ek en my pa wat saam 05:00 opstaan om die Bokke se 1981-toer in Nieu-Seeland te volg. Die destydse vir my onverstaanbare verlies van die Bokke wat nie meer internasionaal mag deelneem nie. 

Meer as 20 jaar sedert 1994 ly dit geen twyfel nie dat ek en my geslag Afrikaners ons hele lewe in oorgang sal deurbring. Joost was ’n held van die oorgang. 

My irrasionele genot toe Burger Geldenhuys Andy Dalton se kakebeen op Loftus afslaan ten tye van die rebelletoer.

As jy nie as jong Afrikaner in die 1980’s grootgeword het nie, is dit moeilik om te verduidelik hoekom rugby oor soveel meer as rugby gegaan het. 

Toe die Bokke se internasionale hertoetrede. Daai toets teen die All Blacks op ­Ellispark toe Louis Luyt “Die stem” gespeel het en die Bokke soos die Hane oor die veld gedans het. 

En toe kom Joost, ’n gewone outjie van my geslag van die verkeerde kant van die spoorlyn. Naas was nog daar met die Bokke se hertoetrede, maar hy was die vorige geslag. Joost was óns s’n. Saam met hom kon my geslag glo ons kan onsself handhaaf op die wêreldverhoog. Hoe die “hulle daar buite” van die 1980’s hom vereer het, het sy eer óns eer gemaak. Ons kon weer die wêreld in die oë kyk.

Dan, die onvergeetlike dag wat Mandela in sy nr. 6-trui op die veld stap. Toe ek ­Johannes Kerkorrel in 1989 in my eerste jaar sien speel het, het die woorde “Afrikaner” en “kultuur” die eerste keer vir my iets beteken. Maar daardie dag, omdat my geslag se man die nr. 9-trui gedra het saam met Mandela se nr. 6, daardie dag het die woord “Suid-Afrika” vir my oneindig ruimer en ryker geword. Daardie dag het my geslag huis toe gekom.

En wat moet ’n mens vandag nog sê oor Joost se plettervat op Lomu?

En wat moet ’n mens vandag nog sê oor Joost se plettervat op Lomu? Enkele weke voor die eindstryd het ek op Loftus gesien hoe die “menslike tenk” die galante Skotse heelagter Gavin Hastings platloop. Die verskrikking van Lomu het al die ou ingedrilde vrese van “hulle daar buite” weer aangewakker. En toe ons man die reus vreesloos pak en aarde toe bring, het hy die ou vrese vir “hulle daar buite” finaal besweer.

Ja, dit was werklik. Ons was oplaas tuis in ons eie land en in die wêreld.

Joost se heengaan herinner my en baie van my geslag vandag aan daardie kortstondige paar jaar tussen 1994 en ­Thabo Mbeki se Tweenasies-toespraak toe ons kortstondig in ons eie land tuis gevoel het.

Maar, soos almal weet, was dit nie die einde van ons en Joost se verhaal nie. Later jare sou ons snap dat die eintlike oorgang en tuiskoms nog wag – ook vir ons landgenote. Dit was asof Joost se stadige val iets hiervan versinnebeeld het. Eers sy egskeiding, later die berugte video en beweringe van dwelmmisbruik. En toe sy grootste vyand, die siekte wat die liggaam van ’n Griekse god afgetakel het tot ’n bondeltjie senings, bene en vlees.

Joost se dapperheid in die aangesig van sy siekte is welbekend. Maar eer ons hom genoeg vir sy doelbewuste keuse om sy stryd om lewe en dood in die openbare oog te voer? Asof hy hiermee wou vergoed vir hoe hy sy geliefdes en sy aanhangers op die persoonlike terrein teleurgestel het. Wie sal weet?

Vir elke mens in die kollig wat die druk kan weerstaan en kophou, is daar ’n honderd wat kop verloor.

Hierdie dinge sê ek nie veroordelend nie. Vir elke mens in die kollig wat die druk kan weerstaan en kophou, is daar ’n honderd wat kop verloor. Dit is wat laasgenoemde met hulle mislukkings maak, wat die ware helde van die lafaards skei.

Meer as 20 jaar sedert 1994 ly dit geen twyfel nie dat ek en my geslag Afrikaners ons hele lewe in oorgang sal deurbring. Joost was ’n held van die oorgang, wat insluit die oorgang van die era van amateurrugby na die era van beroepsrugby. Van mense wat in die oorgang staan, word altyd meer gevra as van mense wat voor of ná die oorgang leef.

Daarom bly die vraag of die prys wat die oorgang van Joost se liggaam en gees geëis het, nie oplaas in sy siekte betaal is nie.

Het te veel rugbyliefhebbers en administrateurs nie in daardie jare vergeet dat Joost en sy makkers einde ten laaste nié Griekse gode was nie, maar mense van vlees en bloed?

En onthou Afrikaanse hoërskole, vir wie rugby en welvaartsgodsdiens al is wat oorgebly het, hierdie les?

As ons ons rugbyhelde en pastore soos gode aanbid, word ons én hulle die slagdiere van ’n spierkultus wat sowel liggaam as gees uiteindelik vernietig – met steroïedes, macho praise and worship en al.

Joost, ek eer jou omdat jy anderkant hierdie spierkultus nie meer ’n god was nie, maar ’n gebroke mens wat in jou gebrokenheid deur jou geloof vreesloos die dood trotseer het.

Toe daar so min van jou liggaam oor was, was jy groter as toe jy kop en skouers bo die manne om jou getroon het.

Rus sag, dapper held.

(Rapport, 2017/2/12)