Op soek na Richardsbaai

In 1975, kort voor my vyfde verjaardag, het ons gesin verhuis na Richardsbaai waar my pa die pos as stadsekretaris aanvaar het. Deels onder sy leiding is ’n toekomsvisie vir die ontwikkeling van Richardsbaai aanvaar, wat as bloudruk sou dien vir wat die volgende veertig jaar daar vorm aangeneem het. Toe sy boesemvriend die stadsklerk volgens my geheue in 1979 sterf, is my pa volgens sy weergawe vir die pos oor die hoof gesien deur ’n plaaslike koalisie van Broederbonders en Vrymesselaars, grootliks vanweë sy ondersteuning vir die verregse Herstigte Nasionale Party (HNP). Dieselfde man wat rondom my dertigste verjaardag vir my vertel het daar bestaan ’n wetenskaplike basis vir rassisme, het ook in die vroeë jare negentig die onderhandelinge gelei wat daarop uitgeloop het dat die Richardsbaai-munisipaliteit nog voor 1994 die eerste munisipaliteit in die land geword het om onteiende grond aan ’n swart stam terug te gee.

In 1976 of ’77 was ek ’n ooggetuie van hoe my beskonke pa my ma een Saterdagmiddag aangerand het, sy later skreeuend in ’n fetusposisie. Dit was nie die enigste keer nie.

My ouers is in Julie 1978 geskei en ons is terug na die destydse Transvaal, waar my ma begin werk het by ’n semi-staatsinstelling. Ondanks die enorme trauma van my ouers se egskeiding, het dit minstens twee positiewe gevolge vir my gehad – ek is nie so blootgestel aan patriargie in die huis soos baie seuns van my portuur nie; en danksy gereelde vakansiebesoeke aan Richardsbaai tot met my pa se aftrede en verhuising op 60 na Namibië, was Richardsbaai naas Verwoerdburg steeds my tuisdorp.

Kort na my ouers se egskeiding is hy weer getroud, ’n gelukkige huwelik wat geduur het tot my stiefma in die vroeë jare negentig aan kanker oorlede is. Hy en my stiefma het twee of drie keer met hulle liefdevol versorgde spogtuin die Richardsbaai-tuinboukompetisie gewen. Die dag van haar begrafnis was die tweede keer in my lewe wat ek my pa sien huil het. Die eerste keer was toe hy my en my suster moes groet die dag wat hy ons die eerste keer ná my ouers se egskeiding in ons nuwe meenthuis in Verwoerdburg kom besoek het. Ek staan my voor dit het die dag gereën, en sien ’n beeld van my pa wat ons tuinhekkie toemaak en huilend in die reën verdwyn.

Hy was gelukkig om kort ná my stiefma se afsterwe ’n derde en ook gelukkige huwelik te sluit. In die dorp waar hy hom ná aftrede gaan vestig het, het hy die plaaslike administrasie help regruk, ’n jaarlikse gemeenskapsfees gestig, die NG-gemeente se gras gesny en sy eie pragtige tuin en groentetuin onderhou in droogte en vloed.

In 2006, een maand na my seun se geboorte, is my pa oorlede aan n massiewe hartaanval wat hom getref het toe hy elfuur op n Maandagoggend boontjies in sy groentetuin geplant het. Daarmee is ’n sirkel voltooi, want bykans my eerste herinnering aan hom is hoe hy ons gesin een Saterdagmiddag met sy poeierblou Rover neem om te gaan kyk hoe dit gaan met die boontjies op ’n stukkie grond wat hy buite Pretoria besit het. Ek onthou die reuk van die nat grond wat hy deur sy vingers laat val het.

Op sy grafsteen het ek die inskripsie

Johann Rossouw

Stadmaker

aangevra, maar dit het uitgekom as

Johann

Stad Maker

Rossouw

Wat mense betref, is die een persoon wat werklik nog vir my ’n band met Richardsbaai gegee het, my vriend Eben. Ek en Eben is in 1977 saam na die nuwe laerskool in ons nuwe voorstad, Arboretum. Arboretum is Latyn vir “Plek van bome” en die skool was (en is steeds) ’n parallelmediumskool waar ek en Eben vanaf graad een tot Mei standerd een saam in die Afrikaanse stroom skoolgegaan het.

Ons het op skool en later tydens my vakansiebesoeke fiets gery op die betonpaadjies wat die munisipaliteit vir voetgangers en fietsryers langs die strate en deur die natuurlike bosse aangelê het. Ons was lief vir lees en musiek. Ons was lief vir mekaar, soos boesemvriende wat saam op meisies verlief geraak het, is.

Ná skool is ek universiteit toe en Eben Vloot toe vir sy militêre diensplig. Ons het mekaar minder gesien, maar steeds kontak gehou. By die Universiteit van Pretoria het die Voëlvry-beweging en Vrye Weekblad my lewe verander en het ek polities links geskuif. Vermoedelik het die Vloot Eben polities regs geskuif, maar hoe dit ook al sy, met ons laaste samesyn oor ’n bier in die Richardsbaaise Keg had ons ’n heftige politieke uitval, soos mens net op 20 met ’n boesemvriend van skooldae kan hê.

Politiek is nie alles nie, en vriendskap weeg metterjare meer. Tussen 2009 en 2011, toe ek my proefskrif in Australië voltooi het, het ek meer as ooit voorheen verlang na die plekke en vriende van my jeug. Verwoerdburg, Richardsbaai, Eben.

Uit hierdie verlange is my roman Verwoerdburg gebore, maar dit was nie al nie. Met ons gesin se terugkeer na Suid-Afrika aan die begin van 2012 was my verlange na Richardsbaai en na Eben groter as ooit. Ek wou ook baie graag vir my gesin die groen heuwels van Zoeloeland gaan wys.

Die eerste stap was om weer met Eben kontak te maak. Danksy Facebook het ek hom deur ’n familielid opgespoor, wat in dié se woorde “lankal weg is van die ou dorpie”. Hy was nie op Facebook nie, maar hy was nog altyd op die “ou dorpie”. Weens die afstand, weens die herinneringe aan ons laaste gespanne gesprek, kon ek my nie sover kry om hom te bel nie, maar per sms en e-pos was die trant tussen ons hartlik en sy Afrikaans so mooi soos ons geleer is om dit te gebruik, wat my hoop vir ’n hartlike herontmoeting gegee het. Dit het geblyk dat ofskoon hy intussen gelukkig getroud is met sy Engelse liefde uit ’n buurdorp, hy ’n seun so oud soos myne het, wat ondanks sy opvoeding in sy Engelse moedertaal vernoem is na ’n Boereheld. Ek het begin aanvoel dat die destydse politieke verskille tussen ons tot die verlede behoort, en dat die behoudende opvoeding wat ons albei had die toets van die tyd deurstaan het en die basis kon bied vir die hervatting van die oudste van my skoolvriendskappe. Tyd en geld vir die verlangde besoek aan my ander tuisdorp het egter bly ontbreek.

In Julie 2016 het die geleentheid hom oplaas voorgedoen toe ’n Richardsbaaise Afrikanerman van die geslag ná myne op die Vrystaatse Kunstefees in Bloemfontein kom kennismaak het nadat hy Verwoerdburg gelees het, en te kenne gegee het dat hy my graag as eerste spreker wil nooi na die te stigte Richardsbaaise Filosofieklub. Toe ek dit per sms aan Eben noem, het hy binne minute die Vrydagaand opgewonde reageer, maar my gevra om op te skud, want ná ’n lewe van veertig jaar in Richardsbaai het hy en sy gesin op trek na ’n Wes-Kaapse kusdorp aan die einde van die jaar gestaan. Dit was nou of nooit nie. Last chance to see.

Op Donderdagoggend 6 Oktober 2016 is ek, my vrou en my negejarige seun om halfnege die oggend uit Bloemfontein weg. Hierdie is die verslag van my eerste besoek in twintig jaar aan my ander tuisdorp.

_______

Ons sou die aand oorslaap in Umhlanga of aan die Tugela-riviermond, maar weens die administratiewe ontwrigting van herhaalde #FeesMustFall-kampussluitings het ons albei besprekings verloor en is een van Richardsbaai se buurdorpe, Eshowe, ons bestemming vir die aand. Volgens die GPS op my slimfoon is dit sowat 700km van Bloemfontein en ons oorweeg dit om onderweg te stop by die Bloedrivier-terrein om my seun van die geskiedenis te vertel.

Die eerste hindernis vir dié plan blyk gou op ons gekose roete, die N8, wat tot met sy aansluiting by die N3 ’n spoedperk van 100km/u het. Gegewe my obsessie met padveiligheid, gegewe dat ons met ’n huurmotor ry, handhaaf ek die spoedperk en gaan tyd verlore. Die tweede hindernis vir ons plan is padwerke op die N3, waarmee nog tyd verlore gaan.

Op die N3 stop ons by ’n reuse vulstasie met ’n omvattende restaurantkompleks wat nie bestaan het toe ek laas meer as vyf-en-twintig jaar gelede die N3 gery het nie. Die atmosfeer, die mense lyk en klink baie anders as waaraan ek gewoond is. Terwyl ek vir ’n wegneemkoffie wag, sein ek ’n vriend dat ek skielik onthou Karel Schoeman skryf in Die laaste Afrikaanse boek dat hy Natal nie wesenlik as deel van Suid-Afrika beskou nie. ’n Ander provinsie, ’n ander land, maar nogtans die een waarin my ander tuisdorp lê.

Soos ons reis vorder, blyk die verval wat ons al dikwels op die platteland tussen Bloemfontein en Kaapstad teëgekom het geen uitsondering te wees nie. Tegelyk skyn die bevolking van die plattelandse plekke ook veel meer en veel armer te wees as wat ek van destyds onthou. Hoe betroubaar is hierdie indruk?

Om 16.15 bereik ons Dundee, die laaste dorp voor die Bloedrivier-terrein. Met ’n skok verneem ek die GPS voorspel ’n reis van nog drie ure oor Nqutu, Babanango en Melmoth voor Eshowe. Ek weerhou die vooruitskatting van my vrou en bereken dat as ek teen my grein in ’n 130, 140km/u ry, ons dalk net-net die laaste ent in die donker op die enkelpaaie tussen plantasies en suikerrietlande sal vryspring. Twintig jaar later het ek in elk geval geen idee wat die toestand van die pad sal wees nie, wat nog ’n rede is om ten alle koste voor donker by Eshowe te probeer wees.

Aanvanklik gaan dit goed. Die stuk pad tot by Nqutu is in ’n redelike toestand en nie te besig nie. Die een of twee voertuie van wetstoepassingsagentskappe wat ons teëkom, stel nie in ons belang nie. Ons bereik Nqutu iewers tussen vyf en halfses. Die strate wemel van voetgangers en minibustaxi’s. Tekens van verval is oral: slaggate, verweerde padtekens, verbleikte winkelname.

Anderkant Nqutu tel ons weer spoed op. Die landskap verander. Ons beweeg tussen die golwende heuwels in, die heuwels waarna ek so verlang het en wat ek so graag vir my gesin wou wys. Maar die heuwels is geensins so groen as wat ek onthou nie. Dis ontsettend droog, ’n bruingrys maanlandskap, heuwel ná heuwel gevul met naamlose gehuggies waar mens en dier op onbegryplike wyse oorleef. Buiten hier en daar hoenders, boerbokke en enkele beeste is daar geen teken van ekonomiese aktiwiteit nie. Oorleef hierdie mense bloot op maatskaplike toelae? wonder ons. Of kyk ons net met stedelike middelklasoë?

Dan, skielik, en sonder die geringste waarskuwing verdwyn die teerpad en is ons op ’n grondpad. Vir kilometer op kilometer deur die dorre, golwende heuwels is netjiese hope oorblyfsels van die eertydse teerpad aan die regterkant van die grondpad saamgeskraap, sodat ons effektief op ’n enkelspoorpad ry. Soms moet ons ’n aankomende minibustaxi kans gee om eers verby te skuifel voor ons verder kan ry, en ons bespiegel dat dit seker moet beteken sommige van die mense hier pendel daagliks ver ente na werk anderkant die heuwels.

Skielik is ons by ’n T-aansluiting met ’n onleesbare padteken. In plaas van om die GPS te raadpleeg, draai ek regs, in wat ek glo die algemene rigting van Babanango is, rofweg suidoos. ’n Paar kilometer verder kom ons op ’n enkelspoorbrug twee Zoeloevroue in tradisionele drag teë. Ek probeer nie eens met hulle Engels praat nie, en vra in die bietjie Zoeloe wat uit my jeug behoue gebly het die algemene rigting van Babanango, en hulle bevestig ons koers laggend.

Nog ’n ent verder, terwyl die son al hoe vinniger sak, is daar skielik ’n vurk in die pad. My vrou het deurgaans haar selfoon dopgehou en opgelet dat ons konstant ’n sein het. Ek besluit om my eerder weer tot die GPS van my slimfoon te wend en kry koers. Soos ons vorder bly ons die enkele voetgangers langs die pad groet. Mense groet deurgaans vriendelik terug, maar ’n vae gevoel van onsekerheid bly ons volg.

Ewe skielik as wat die teerpad in ’n grondpad verander het, is ons weer by ’n teerpad, dog hierdie keer maak die grondpad ’n T-aansluiting met die teerpad. Dit is skielik onverklaarbaar hoe ons op die grondpad beland het. Ons is nietemin uiters verlig, maar dis amper halfsewe en sterk skemer, nog ver duskant Babanango.

Kort voor lank is dit nag en volg ek die kronkelende enkelpad deur die stygende en dalende heuwels. Ek probeer so vinnig moontlik ry sonder om onveilig te ry, maar my vrou vermaan my om spoed te verminder. Genadiglik steek ’n bakkie ons iewers verby en bly ’n paar honderd meter voor ons ry. Aan sy rooi truligte kan ek aflei hoe die pad styg, daal en kronkel, maar nogtans mis ek hier en daar ’n groot slaggat net-net. Af en toe is ons amper by voetgangers op die skouer van die pad voor ons hulle sien. Gelukkig kom ons nêrens ’n bees of ’n bok teë nie, behalwe toe ons in die motorligte net-net uitmaak hoe ’n troppie beeste iewers heen deur ’n beeswagter aangejaag word.

Êrens tussen Babanango en Melmoth sluit ons weer met ’n T by ’n volgende teerpad in onverwagse puik toestand aan. Links lê Melmoth, regs, 26 km verder, Nkandla.

’n Ent duskant Melmoth draai die bakkie die donker landskap in. Geleidelik doem die liggies van Melmoth op. Verkeer op die pad neem toe en ek verminder spoed tot sowat 60. Skielik maak die pad weer ’n T-aansluiting. Ek slaag net-net betyds daarin om te rem en nie die padoppervlak te verlaat nie. Het daar op daardie oomblik ’n voertuig van links of regs aangekom, het dinge anders verloop.

Natgesweet en verlig draai ek die stuurwiel terug in die rigting van die middedorp van Melmoth. Met talle straatligte buite werking kan ons nie veel van die dorp uitmaak nie, wat baie groter voel as wat ek dit van een of twee jeugbesoeke onthou. Buite die dorp, enkele kilometer verder, doem ’n gehuggie weer op en ons besluit om brandstof in te gooi. Ons stop by ’n vulstasie waarvan ek die handelsnaam nog nooit voorheen gesien het nie. By een van slegs twee pompe kan ons volmaak. My energie is laag en terwyl ’n vrou van miskien agtien ons bedien, stap ek by die vulstasie se winkeltjie in om Coke en skyfies te koop, wat ek met lang reise assosieer vandat ek kan onthou.

Die kassier is agter ’n swart staalafskorting met klein diamantvormpies. Hy bedien ’n aanvallige jong swart vrou voor my en ek trek glimlaggende gesigte vir haar klein seuntjie. Ondanks die afgeleënheid van hierdie vulstasie is hier ook ’n funksionele elektroniese betaalmasjientjie gekoppel met die selfoonnetwerk.

In volslae nagdonker pak ons die laaste skof Eshowe toe aan, miskien nog 70 of 80 kilometer. Dis seweuur, af en toe ’n ekstra baan om op die enkelpad verby te steek, die spoedgrens merendeels 80, en die swaar verkeer bestaan hoofsaaklik uit vragmotors. “In een so ’n vragmotor het my pa se vriend die stadsklerk een aand op pad terug van Durban af vasgery en gesterf,” sê ek vir my vrou.

Oplaas, suf van die volgehoue konsentrasie en spanning, bereik ons Eshowe, wat ek laas as laerskoolkind deur is toe ek een keer saam met Eben-hulle Durban toe is waar hy aan ’n groot skoleatletiekbyeenkoms deelgeneem het. Die GPS begelei ons na die gastehuis waar  ons plek bespreek is. ’n Oorweldigende lus vir rooiwyn en braaivleis pak ons beet en uit die hoek van my oog sien ek ’n Superspar. Ek slaan remme aan, maak ’n U-draai en ry soontoe, net om vas te stel dat as Bloemfonteinse Spar-winkels negeuur die aand sluit, dieselfde nie noodwendig Eshowe geld nie. Voor in die pad brand die lig van ’n KFC. “Kom ons los die braai en kry maar KFC,” sê ek vir my vrou.

Ek wag buite die KFC, waar min straatligte werk. ’n Paar minute later kom sy en my seun met kos vir hom terug en verklaar sy: “Die vrou sê die SASOL-vulstasie net hier voor verkoop wors en wyn.”

Ons vind die SASOL, maar dit blyk nóg wors, nóg wyn te verkoop. “Die vrou hierbinne sê ons sal wors by die BP kry,” sê my vrou as sy terugkom. Ons vind die BP verderaan in die straat, en dit is toe so. Dankbaar vir die pak wors volg ons die GPS se aanwysings verder na die gastehuis.

Net betyds val my oog op ’n kroeg, die Vukani Game Shop. Ek slaan weer remme aan, maak weer ’n U-draai en parkeer voor die kroeg. As ek instap, lê ’n man links van my by ’n potspeltafel aan. Sigaretrook hang swaar in die lug. Regs van my sit ’n groep swart mans laggend in ’n halfmaan op kratte met bierbottels op die lae tafel voor hulle. Te oordeel aan hoe hartlik hulle my teruggroet en my nooi om by hulle aan te sluit, het iemand wat soos ek lyk en klink dalk lanklaas hier by die Vukani Game Shop ingestap.

Die indrukwekkende voorraad van die kroeg is etlike meters lank en hoog teen die mure van die kroeg opgestapel agter ’n lang aaneenlopende toonbank, afgesper met dieselfde geruite swart staalversperrings met diamantvormpies van die vulstasie vroeër. “Sawubona, unjang? Do you have a bottle of red wine?” probeer ek huiwerig, en die twee kroegmanne sê nee. Maar dan val my oog wonder bo wonder op ’n drie liter Robertson-dooswyn, DRY RED. Ek koop hom vir R110 harde kontant en vra ’n strokie. “No, we don’t give slips,” lag hulle. Ek kies koers motor toe en die effens verslae wyse waarop die manne in die halfmaan my groet en probeer terugwink versterk my vermoedens oor wanneer laas iemand soos ek ’n sopie saam met hulle gesink het.

’n Paar honderd meter voor die gastehuis weerspreek die GPS en ’n bordjie wat die pad na die gastehuis aandui mekaar. Ek kies die bordjie en binne minute beland ons op kronkelende grondpaadjies tussen digte bosse. Ek neem weer my toevlug tot die GPS en halfnege stop ons voor die gastehuis. Ek lui die klokkie. Geen reaksie nie. Dooiemansdeur.

Dis nou my vrou se beurt om haar humorsin te verloor, maar ek sien Stefan en Sandra se selnommers vir noodgevalle op die bord van die gastehuis aangedui. Stefan antwoord feitlik dadelik. Dit blyk dat hulle nooit ons bespreking ontvang het nie. Ons sit twee en twee bymekaar en besef dis nog ’n newe-effek van die administratiewe ontwrigting van #FeesMustFall. Stefan gee te kenne sy skoonma is pas oorlede en hulle is elders in die land, maar hy beloof om binne vyf minute terug te skakel. So gesê, so gemaak: “Sielie en Jaap van African Dwarf Kingfisher-gastehuis wag vir julle oproep.”

Sielie se aanwysings is klokhelder en Jaap wag ons op die sypaadjie in om ons by ’n smal paadjie langs ’n terras af na ons oornagplek te begelei. Hy sê ons kan ons tyd vat om die volgende oggend te vertrek en dat ons selfs nog ’n aand kan oornag as dit moet. “Jy sien,” sê ek vir my vrou, dis oor gebeure soos hierdie dat ek eerder hier as in Australië bly.”

Die gastehuis is ooglopend nuut en byderwets onderspeeld ingerig. My vrou braai die wors in die pan, en hoewel sy nie haar hand op olie of botter kan lê nie, is die wors so vetterig dat dit maklik in die pan braai. Die volgende oggend lê die vet amper ’n sentimeter dik in die pan, maar saam met die Robertson eet ons soos moeë konings.

Die Vrydagoggend ontspan ons ’n paar uur na die moordende rit van die vorige dag, en dis al amper twaalfuur voor ons vertrek. Reeds vroeër sein Eben om te hoor hoe laat hy ons by sy winkel kan verwag. Ek bevestig dit sal seker so halftwee wees en ons val in die pad met beloftes aan Sielie en Jaap dat ons mense gewis na hulle sal verwys.

Op die pad deur Eshowe ry ons verby ’n paar redelik goed onderhoude koloniale geboue, waaronder ’n hotel en – verrassend – ’n museum. Hoe oorleef ’n museum in ’n koloniale gebou vandag nog in ’n dorp soos hierdie? wonder ons. ’n Straat verder is ons in ’n meer kommersiële deel van die dorp. Weer eens tonele van vervalle geboue, strate wat wemel van armoedige mense.

Met ’n enkelpad wat deur golwende heuwels vol suikerrietlanderye en tropiese vrugteboorde kronkel is ons uiteindelik in die groen landskap waarna ek so verlang het. Ondanks die massa swaarvoertuie wat ons op die pad teëkom, is die pad tog in ’n redelike toestand.

’n Driekwartier later is ons in Richardsbaai se een buurdorp, Empangeni. Hierheen het my ma voor hulle egskeiding en my pa na hulle egskeiding ons as kinders dikwels vir inkopies gebring. Dis in hierdie SANLAM-sentrum waar my pa in standerd drie of vier vir my ’n Rubik-kubus gekoop het. Ek kan egter nie die SANLAM-sentrum van die hoofstraat af sien nie, en die massa voetgangers en minibustaxi’s maak my huiwerig om die hoofstraat te verlaat om dit te gaan soek. Laat ek maar hou by hoe ek dit onthou.

’n Paar honderd meter verder verander die toneel voor ons: groot moderne winkelsentrums langs die pad, min voetgangers, baie motors. Die ou storie van verval wat nog gekeer word waar die privaat sektor floreer?

Deur Empangeni, die laaste paar kilometer voor ons Richardsbaai bereik. Ná al die verval op pad hierheen, begin ek my staal vir die ergste. Was dit hoegenaamd ’n goeie idee om hierdie reis aan te pak, op soek na Richardsbaai?

Die eerste landmerk wat ek herken, is die skoorstene van die eertydse Triomf-kunsmisfabriek. Waar Triomf op die fabriek gestaan het, staan nou FOSKOR. Ons is by ’n verkeerslig wat ek nie van destyds kan onthou nie, en regs van die pad is ’n fabriek waar berge houtsaagsels lê. Verwonderd verkyk ek en my gesin ons. Nog ’n paar honderd meter verder – so voel dit – is ons by die T-aansluiting waar ons links moet draai in die rigting van Arboretum, ander jonger woonbuurte en die sakegebied waar Eben beduie het sy winkel is. Die donkergroen, digte mangrovebosse weerskante van die pad lyk presies soos ek hulle onthou en skielik is ’n nagtoneel uit Miami Vice voor my geestesoog.

Ons is nou op meer bekende terrein en met meer vertroue as vroeër die oggend draai ek links om die laaste kilometer na Eben se winkel te ry. Ek ken hierdie pad nog soos die palm van my hand en ek het geen twyfel nie dat ek sy winkel maklik sal vind. Regs van die pad lyk Arboretum se grenshuise uit die jare sewentig ook nog soos ek dit onthou, die breë strook kikoejoegras wat hulle van die pad skei.

Maar links van die pad is ek skielik in ’n onbekende landskap. Waar ek vaagweg ’n paar grootliks onbeboude nuwe strate onthou, is alles nou toegebou: ’n nuwe skool, meenthuiskomplekse, woonstelblokke, ’n privaat hospitaal wat hoër as enigiets anders in die omgewing uittroon.

Ek draai links waar die winkelsentrum met die nuwe biblioteek en die Checkers volgens my geheue is, maar tussen die massas kleiner winkelsentrums en een reuse winkelsentrum het dit verdwyn. Ek wil eers nie my disoriëntasie aan my vrou erken nie, bly op gevoel af ry in die rigting waar ek dink Eben se winkel moet wees, maar uiteindelik is ek genoop om van die pad af te trek en my toevlug weer tot die GPS te neem.

Uiteindelik is ons voor die mooi winkel, heelwat groter as wat ek my dit voorgestel het. “Sal jy hom nog herken?” vra my vrou.

“Natuurlik,” sê ek, te emosioneel om nog iets uit te kry.

Ons klim uit die lugversorgde motor. Die soel, tropiese lug, die presiese reuk van híérdie plek, ’n mengsel van seelug en nywerheid. Ons stap by die winkel in. Ek sien hom dadelik: sy maag ’n bietjie groter, sy bril en sy baard wat hy nie destyds had nie, maar dis onmiskenbaar hý. Ons groet, omhels, sluk die emosie weg. Ek vra of ek gou die toilet kan gebruik. Hy stap voor my uit, sy arms effens na buite uitgestoot soos hy loop, presies soos ek dit onthou. As ek hom skielik in ’n ander tyd en plek onverwags sou raakloop, sou ek hom aan sy stap uitken. Dis ek en hy, steeds ek en hy, maar ’n kwarteeu se lewe later ook ander mense.

Hy beveel aan dat ons by een van die restaurante op die hawefront gaan eet, waar hy ons later vanmiddag sal kom kry as sy skof by die winkel klaar is en ons na sy huis neem. Ons gesels nog ’n oomblik of twee, stel die praktiese reëlings vas, en dan groet ons eers weer.

Terug in die pad wat Arboretum en Meerensee verbind, feitlik geen voetgangers nie, ontsettend baie verkeer. Íets is anders, maar ek kan nie my vinger daarop lê nie. Ons ry oor die sementbrug van die kanaal wat die 11 kilometerlange Mzingazi-meer en die see aan mekaar verbind. “In hierdie kanaal het ’n krokodil eendag een van die Jacobsseuns gevang,” vertel ek aan my seun, soos ek dit onthou by die weersien van die kanaalbrug. “Die krokodil het ’n lêplek in ’n soort onderwatergrot gehad, en polisieduikers moes die seun se lyk gaan uithaal.” Hoe lank gelede was dit? Seker meer as vyf-en-dertig jaar. ’n Gesin met ses seuns wat gewoon het in dieselfde woonstelblok waar my pa vir ons met ons aankoms in Richardsbaai ’n woonstel gehuur het. Een van die seuns het vir my ’n vlieër gemaak van stokkies met ’n swartsak daaroor gespan. “As ek saans in daardie woonstel by Ouma in die bed aan die slaap geraak het,” sê ek vir my seun, “het die radio net voor die negeuurnuus ’n opname van ’n mishoring gespeel. Hy moes skepe in die mis waarsku dat hulle naby die hawe is.” Aande wat my pa nog nie negeuur tuis was nie.

Die verkeer op die pad is steeds baie meer as wat ek ooit kan onthou dit was. Dalk oor dit ’n Vrydagmiddag is? wonder ons. Met moeite vind ons die Boardwalk waarvan Eben gepraat het. Ons ry oor ’n brug van hout en staal wat ek nie van voorheen kan onthou nie. Anderkant die brug op linkerhand is ’n aantal groot, luukse huise in ’n nuwerige kompleks op die oewer gebou. Anderkant hierdie kompleks vind ons oplaas die Boardwalk, verderaan die hawegebied self, volgens my geheue altesaam 28 kilometer lank en destyds die grootste in- en uitvoerhawe in die suidelike halfrond.

Ons besluit op die Dros, neem plaas enkele meter van die water af, waar ’n aantal tweerompskuite en ander kleiner privaat bote vasgemeer lê. Verder terug is wat lyk soos ’n beheertoring en ’n reuse sleepboot neffens hom vasgemeer. Al is hierdie ontwikkeling vir my onbekend, voel ek tuis. Baie tuis.

Ons eet heerlik aan die vis, deel ’n ekstra glas wyn. Oorkant ons kom sit drie witmans in oorpakke, twee dalk laat vyftigs, een miskien vroeë dertigs. Al drie vroetel met hulle selfone terwyl hulle vir hulle kos wag. Nuuskierig google ek die naam van die firma op hulle oorpakke en stel vas dis ’n multi-nasionale maatskappy wat masjinerie aan die nywerheid verskaf. Die drie werkers lyk vir my vaagweg Brits.

Die ekstra wyn maak my vrou vaak. Sy gaan knip ’n uiltjie in die motor en ek en my seun gaan kyk na die vasgemeerde bote.

’n Rukkie later lui my foon. “Waar’s julle nou?” vra Eben. Dit blyk dat hy pas opgedaag het en in die parkeerarea vir ons wag om hom na sy huis te volg.

Sy voertuig is ’n viertrek ouer as twintig jaar, pragtig opgepas en sonder die geringste roesmerkie, wat gedoen wil wees in die klam seeklimaat, en wat meer is as wat ek kan sê van die bakwerk van my 1986 Mercedes.

Soos ons hom volg, merk ek dat die ongewone straatnaamborde uit my pa se tyd nog net so staan, dog nou ietwat verbleik: groot, groen borde met straatname vol alliterasie en illustrasies van die boom of dier waarna die straat vernoem is. Krewelkring bly vir my die mooiste.

Ons kom tot stilstand by ’n rooi verkeerslig, ’n kruising wat bekend lyk. Ek eien dit as die kruising waar die munisipale kantore was, maar waar die onopgesmukte modernistiese gebou met sy ligte sierstene eens gestaan het, is nou ’n klein winkelsentrum met PicknPay as die ankerhuurder. “It was the nearest thing to hip in this shithole/ Now it’s gone,” sing Mike Scott van The Waterboys in my geheue.

Die lig slaan groen en ons volg Eben verder. Op regterkant val my oog op die Meerensee munisipale swembad, ’n semi-Olimpiese swembad agter ’n verouderde betonheining. Op die oog af is ook dit nie te vervalle nie.

Eben swaai links en dan is ons by die gholflandgoed, wat ek nou eers besef aan die oewer van die Mzingazi-meer langs die destydse gholfbaan gebou is. By die klubhuis, onthou ek skielik, het my ma vroeg een Saterdagaand ’n tomato cocktail bestel. Na hulle egskeiding het sy nooit op sulke plekke gekom nie en my pa was nie ’n gholfspeler nie. Wat sou ons gesin daardie Saterdagaand in 1976 of ’77 by die klubhuis gemaak het?

Eben beduie waar ons voor die dubbelmotorhuis moet parkeer. Ons gesinne ontmoet mekaar. Sy vrou is kleingebou, hartlik. Dis minute voor ons seuns aan die speel raak. Met ons goed in die spaarkamer op die boonste vloer bied hulle ons iets te drinke op die dek by die swembad aan. Agter die swembad, anderkant die heining, is die bosse wat hulle van die Mzingazi skei.

Die gesprek is hartlik, intens. Kinders, skole, die situasie in die land, die besluit wat hulle instinktief ’n jaar gelede geneem het om ondanks hulle gemaklike lewe oor dekades in die omgewing waar hulle gebore en getoë is Wes-Kaap toe te trek. Ja, bevestig Eben, die munisipale kantore is verskuif na die kommersiële gebied by Arboretum nadat die munisipaliteite van Richardsbaai en Empangeni saamgesmelt het. Tagtig persent van sy besigheid is kontantverkope – hy kan nie meeding met lede van die aangewese groepe vir kontrakte nie. Die Zoeloe- en Indiërgemeenskappe van die omgewing is opkomende ekonomiese en politieke kragte. “My lewe lei ek tussen my winkel, die landgoed en die seiljagklub, waarheen ons drie elke Saterdagmiddag gaan,” sê hy.

Die ruimtes krimp, dink ek. In my pa se tyd was Richardsbaai een van die rare versamelpunte van Afrikaners in die destydse Natal. Nou besef ek in hoe ’n mate dit te danke was aan die kombinasie van beheer oor die staat en skaars tegniese vaardighede van Afrikaners wat die plaaslike nywerhede benodig het. Slegs laasgenoemde bestaan nog, en dis nie eksklusief nie.

Dis amper tyd vir my praatjie by die eerste byeenkoms van die Richardsbaaise Filosofieklub. Ons skud ons vere reg, en sit af soontoe. Soos ooreengekom met die jong sameroeper sal ek praat oor watter voordele goeie etiek vir jou besigheid kan inhou, maar ek het die voorgevoel dat my gehoor ’n ander verwagting het, en dus is my notas los genoeg dat ek kan improviseer as dit moet.

Die byeenkoms is by nog ’n nuwerige klubgebou naby die seefront. Ons gasheer wag ons buite die gebou in en ek stel vas die klub is seker so vyftien jaar gelede met privaat inisiatief op die been gebring. Hy neem ons binnetoe, en ’n stuk of vyftien, twintig mense wag ons in. Die gehoor bestaan meesal uit Afrikaners bo vyf-en-vyftig, sestig, asook ons gasheer se vrou en jong kinders, en twee ander jong Afrikanermans van seker ook in die vroeë dertig. Die mense is vriendelik, die atmosfeer gemoedelik, maar daar is iets melancholies in die lug. Ek kom vinnig tot die slotsom dat hierdie mense op ’n Vrydagaand die moeite gedoen het om te kom luister na iets wat hulle hoop kan gee, en dus wy ek soveel moontlik uit oor die waarde van gemeenskap, selfstandigheid en die najaag van die goeie.

Gedurende vraetyd is die enigste persoon met ’n vraag die een jong Afrikanerman, wat wil weet hoe ek dink ’n mens eties en met hoop moet bly handel in ’n staatsdiensomgewing. Ek doen my bes om hom te antwoord, wetend ek kan maar net beskeie hoop vir hom probeer gee. Later kom stel hy en die ander jongman hulle aan my voor. Dit blyk hulle is broers, en sy broer het ná die verwerwing van ’n graad in geskiedenis die pos as kurator by die museum in die een koloniale gebou op Eshowe gekry. Die gebou was oorspronklik ’n fort in die Britse koloniale tydvak en hy “hou nou die fort,” grap hy droogweg. Minstens een van die vrae op ons reis word beantwoord as hy te kenne gee die museum oorleef nie danksy baie besoekers nie, maar danksy geborgde besoeke van skoolgroepe uit die omgewing, vir wie ek glo sy passie vir geskiedenis aansteeklik moet wees. Hy vertel my ook hoe Dundee se buurdorp, Vryheid, ontstaan het toe die Zoeloekoning, Dinizulu, grond aan die Boere gegee het in ruil vir hulle steun in sy stryd om die Zoeloe-koningskap en die herstel van die Zoeloe-koninkryk in 1884.

Die geselskap die res van die aand wentel om die ou dae van Richardsbaai en die situasie in die land. Langs die braaivleisvuur blyk dit een van die ouer ooms het my pa goed geken. Hoe goed? wonder ek. ’n Mooi ouer vrou kom sit oor die ete by ons en vertel spontaan hoe sy uiteindelik haar onafhanklikheid verwerf het. Die vrae wat ek aan my gespreksgenote oor die veranderinge in die dorp die afgelope twintig jaar stel, lewer nie al die antwoorde waarop ek gehoop het om sin te maak van die ooglopende veranderinge wat ek vroeër die dag waargeneem het nie. Ek stel wel vas dat haweloodse nie meer per helikopter skepe in of uit die hawe wil begelei nie, nadat ’n helikopterloods van die haweowerheid ’n noodlottige ongeluk gemaak en bedenkinge oor die bekwaamheid van die nuwe helikopterloodse posgevat het.

Wanneer ons op vertrek staan, is ons jong gasheer nêrens te siene nie. Sy verleë vrou slaag daarin om hom op sy selfoon te bel, en minute later kom hy uitasem by ons aan met ’n geskenk om my vir my praatjie te bedank. “Ek is jammer, ek het jou geskenk by die huis vergeet.”

Die volgende oggend ná ontbyt moet Eben winkel toe. Sy vrou onderneem om die seuns te vermaak, sodat ek en my vrou dit kan doen wat ek die graagste wou met hierdie besoek, maar die langste uitgestel het – om weer in Arboretum te kom.

Ons is terug op die pad tussen Meerensee en Arboretum, wat uitgelê is in ’n lang ovaal binne en buite ’n ringpad, waarvan die grootste gedeelte Via Richardia heet, soos ek onthou wanneer ons in dit indraai. Ek ry stadig, neem die omgewing traag in. Ook hier is dieselfde verbleikte straatnaamborde van my pa se tyd nog staande. Raasblaarlaagte, Kiaatkim, Kiepersolkolk. Die betonpaadjies kronkel nog langs die strate, die huise redelik goed onderhou, plek-plek selfs nie eens ’n heining of ’n muur nie.

Ons swaai af in Essenwood Way. Halfpad teen die bult af staan die gebou van die NG-gemeente, wat volgens my geheue ingewy is toe ek twaalf was en waar my pa lank ’n ouderling was nadat hy die strydbyl begrawe het met een van die twee predikante wat in sy oë my ma se kant gekies het. Die grasperk is netjies versorg, die gebou en parkeerterrein ook. Al wat anders is, is die groen palisadeheining.

Voor ons, laer af in die straat, is ’n brug oor die spruit. Hier het ek en Eben een middag na skool paddavissies uitgehaal, die tyd wat ’n storie oor ’n gaboenadder by die spruit die ronde gedoen het. My ma was beangs toe ek uiteindelik salig onbewus van dit alles by die huis opdaag. Toe het ons nog fiets gery skool toe. Die spruit, sien ek nou, is so dig begroei dat dit onsigbaar is. Waar is dan die bospaadjies waar ek en Eben fiets gery het? Was dit nie miskien verderaan, in Veld-en-Vlei nie?

Stadig draai ek regs in die straat van my ander tuisdorp waar ek grootgeword het, Haakdoringrug. Ek ry nog stadiger. “Hier het Oom G. gebly, ’n enkellopende gay man wat my ma ondersteun het en wat my pa haar beloof het hy ‘soos Kajafas teen die paal sal doodslaan’,” sê ek vir my vrou. “En hier is die huis waar die bankbestuurder gebly het, wat my pa se boesemvriend geword het na die stadsklerk se dood.”

Dan kan ek die oomblik nie langer uitstel nie. Ek stop voor ons ou huis. Dis onherkenbaar. ’n Vervalle betonheining waar daar nie ’n heining was nie. ’n Onooglike woonstel waar die doringboom met sy bedding en die voëlbad was. Van die grasperk wat my pa elke Saterdagmiddag soos ’n rolbalbaan gesny het, is feitlik niks oor nie. Die huis se proporsies lyk anders, die toegeboude stoep vreemd. My vrou neem ’n foto en ek kan nie verder kyk nie. As ons weer uit Haakdoringrug draai, merk ek ’n nuwe dun groen straatnaambordjie bo op ’n paal op: HAAKDONGRUG.

Terug in Essenwood Way. Die dokterspreekkamers van destyds is nog daar, goed onderhou. Langs dit ’n winkelsentrum waar daar voorheen veld was. Ons stop om bestanddele vir môre se padkos en geskenke vir Eben en sy vrou te koop. Ek moet ’n toilet besoek en stap verby ’n kroeg teen ’n trap op deur urinewalms.

Ons ry verder in Essenwood Way en draai terug in Via Richardia, waar die tweetalige Hoërskool Richardsbaai is, wat in Januarie 1975 geopen is, Eben se alma mater. Ook hierdie geboue en terrein lyk redelik goed onderhou. Soos ons ry, onthou ek van die munisipale swembad van Arboretum, waar my laerskoolklas soms gedurende skooltyd gaan swem het. Waar is dit nou weer?

Ek herken die straat van die swembad wat uit Via Richardia draai en volg dit. Al is dit Saterdagoggend, is daar geen ander motors in die parkeerterrein nie. Die ingangskiosk is onbeman, die hek oop. Voor ons vou die terrein oop. Links, effens hoër op, die klein kinderswembad. Voor ons die Olimpiese swembad, helderblou, volmaak versorg. Aan die een kant staan in verbleikte geel letters, die letters wat in my pa se tyd geverf is: VLAK KANT SHALLOW END.

Dis die somer van 1977. Die koel water is om my, oor my kop. My bors brand. Ek kan nie verder as ’n halwe lengte swem nie. Ek ruk soos ek huil. My vrou hou my vas.

As ek tot bedaring kom, neem ek ook ’n paar foto’s. Hoog bo ons troon ’n kokosneutpalm uit.

Ons groet die eensame veiligheidswag, klim terug in die motor. Stadig ry ons verder en dan is ons skielik by die tweetalige Laerskool Arboretum (leuse Alta Pete, “Mik hoog”). Ek het heeltemal vergeet dat dit langs die swembad is. Die hek is oop en ek ry in.

Ons stap tussen die geboue deur en ek probeer onthou waar Juffrou Wessels, Juffrou Erasmus en Juffrou Calitz se klaskamers was. Klas een, klas twee, standerd een. Ek kry nie die klaskamers nie, maar ek kry die speelgrond waar ons pouses gespeel het. Ek en Eben hardloop laggend tussen ’n klomp ander seuns agter een van ons se valskerm aan – ’n klippie vasgemaak met vislyn aan vier hoeke van ’n sakdoek.

Waar is 1977, toe Pa en Ma nog saam was en hierdie my enigste tuisdorp? Ek huil weer. My vrou hou my weer vas.

As ek weer tot bedaring kom, besef ek vir die eerste keer die hekkie aan die oorkant van die speelgrond lei na die munisipale swembad, wat weer met n ander hekkie aan die hoërskool verbind is.

Ek besluit ek om te gaan kyk wat staan op die gedenkplaat voor die kantoor. Tot my skok lees ek my eerste laerskool in my eerste tuisdorp is geopen in 1976, die jaar van Soweto. Ek draai na my vrou: “Besef jy dat my pa-hulle veertig jaar gelede in hierdie klein kolletjie ’n kerk, ’n laerskool, ’n hoërskool en ’n Olímpiese swembad gebou het? Watter toekomsverwagting moet jy nie hê om so iets aan te pak nie? En waar is dit alles nou?”

Ek bel Eben en hy sê hulle wag reeds vir ons by die seiljagklub met pizza’s. Die seuns speel eenkant, ons drink elkeen ’n bier, praat oor wie anders dalk nog op die dorp oor is wat ek sal ken. Niemand nie. Die enkele klein bote wat vasgemeer lê, voldoen nie aan die assosiasies wat baie mense seker met die woord ‘seiljagklub’ het nie. Enkele ander gesinne kuier op die gras of braai. Die baai is kalm, ’n groot vragskip seil ons gesigsveld binne, op pad na die oop see.

My seun, wie se idee van die see die kalm baaitjie is van die Kaapse kusdorpie waar ons soms vakansie hou en wat my vrou as haar tuisdorp beskou, kom neul om strand toe te gaan. Eben waarsku ons dit het baie verander en die see sal waarskynlik te onstuimig wees om te kan swem.

As ons daar aankom, lyk alles vir my nog baie soos ek dit onthou, selfs met ’n ekstra gebou wat ek nie van vroeër onthou nie. Groepies meesal jong swartmense is besig om te kuier, te braai of te swem. Sover ek kan sien, is ons die enigste witmense en Eben sê witmense kom eintlik nie meer hiernatoe nie. Die strand vir die swartmense, die klubs vir die witmense? wonder ek. Die pier lyk nog net soos ek dit onthou: Lank en dun strek dit op dolosse voor ons uit. ’n Enkele (wit) branderplankryer ver agter die groot branders, hier en daar ’n hengelaar op die pier.

Terug by Eben-hulle skuif ons reg vir die rugby in Durban. Ons deel weer ’n bier, maar as Eben sy tweede bier knak verkies ek om saam met my vrou ons eerste glas rooiwyn te skink.  Ek is emosioneel en drink te vinnig. Teen die einde van die wedstryd is die bottel klaar en het die Bokke die grootste toetsnederlaag in hulle geskiedenis teen die All Blacks gely.

Eben se vrou het besondere moeite met die beesstert gedoen. Sy steek vir ons kerse by hulle houttafel aan. Ek let die plekmatjies op, versier met oer-Afrikanerbeelde en -frases: ’n windpomp, ’n rooidakkerkie, ’n rooidakskoolgebou. Goeiemôre my man, daar is koffie in die kan. OOS WES TUIS BES.

Terwyl ons wag om aan te sit, luier ek voor die kas waarin hulle CD’s, meesal Eben s’n. Ons albei versamelings van ’80s-musiek stem ooreen: Born in the USA, The Joshua Tree, The Waterboys, onder meer.

Aan tafel praat ons oor Eben-hulle se skielike besluit om ná meer as veertig jaar my en sy tuisdorp te verlaat. “Dit het net te veel verander. Ons voel nie meer tuis hier nie. Uit al die honderde mense wat ons hier ken en vir wie ons gevra het of ons die regte ding doen, het nie een ‘nee’ gesê nie.” Ek onthou hoeveel sulke gesprekke ek en my vrou met mense gevoer het voor ons Australië toe is, en hoeveel moed ons geskep het elke keer as iemand ons besluit gesteun het en sê: “Ek wens ek kon dit ook doen.”

Iewers in die gesprek vra Eben se vrou my uit oor ons besigtingsrit van die oggend deur Arboretum. Vir die derde maal die dag kan ek nie my emosies beheer nie, bewus van hoe die wyn die pyn effens verdoof. Ek laat val iets van hoe my pa my ma geslaan het, en hoe erg die egskeiding was. Hoflik, geskok bly Eben en sy vrou stil. Hy begin vertel van iets wat met ’n familielid skeefgeloop het, en ek syg in die nag weg.

As ons die volgende oggend ná ontbyt buite hulle motorhuisdeure groet, sê ek vir hom: “Wat julle nou gaan doen, is ’n bietjie soos emigrasie, nè?” Hy stem saam.

Ons groet hartlik, bedank sy vrou, beloof om nie weer so lank tot ons volgende kuier te wag nie.

Soos ons deur die stil strate op die Sondagoggend ry, kom ’n gedagte by my op. Ek sê vir my vrou: “Die toekomsvisie wat my pa-hulle vir die dorp gehad het, is deur ánder mense as ons mense vervul. Ek het so iets nooit verwag nie.”

Dan onthou ek van die geskenk wat die Richardsbaai Filosofieklub my gegee het. “Bokka, wil jy nie kyk wat dit is nie?” vra ek my vrou

Sy maak die klein pakkie versigtig oop. Dis die DVD van die nasate van die Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog uitgewyk het na Argentinië: The Boers at the End of the World/ Boere op die aardsdrempel.