Wat lê agter die protes wat universiteite die afgelope 12 maande teister, wonder Johann Rossouw.

wegdoen met afrikaansOp 15 Februarie het ’n groep betogers ’n Varsitybeker-rugbywedstryd op Shimlapark by die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontwrig. Die betogers is uiteindelik deur toeskouers van die veld gejaag. 

Op die eerste en waarskynlik mees gekykte video van die voorval kom skokkende tonele voor van hoe meesal Afrikaners meesal swart betogers skop, klap en slaan. ’n Ander video wys weer hoe meesal swart betogers by die toegangshek ’n groepie meesal Afrikaner-vrouestudente uit die pad hardloop en een met ’n megafoon oor die kop slaan.

In die vier dae daarna was die UV-hoofkampus onder beleg van ’n groepie van 200 tot 250 Afrika-nasionalistiese betogers. Studente is met geweld gedreig, private en universiteitseiendom is beskadig, en ’n standbeeld is met ’n brandende motorband om sy nek van sy voetstuk geruk en in ’n dammetjie gegooi. 

Wat het studente van verskillende groeperinge tot sulke uiterste gedrag gedryf, soos trouens ook by ander kampusse?

Wat ek hier aanbied as verduideliking, is bloot ’n poging om ’n ingewikkelde probleem te verstaan, en nog navorsing is nodig om te begryp wat gebeur het.

Eerstens is dit opvallend dat die meeste van die studenteprotes in die afgelope 12 maande voorkom by die land se voormalige wit en hoogste gegradeerde universiteite – Rhodes, Kaapstad, Wits, die NWU-Potchefstroom, Tukkies, Maties en Kovsies. 

Dit is nie toevallig nie. Al dié universiteite het in die afgelope twee tot drie dekades belangrike stappe gedoen om te verseker dat swart studente gelyke toegang tot hul kampusse het. Dit wil nie sê dat nie nog stappe nodig is nie, dat rassisme nie soms op die kampusse voorkom nie, of dat swart en wit studente nie met mekaar op die kampusse praat nie. Inteendeel.

Wat swart studente betref, moet in ag geneem word dat hulle dikwels met een of meer van die volgende uitdagings te kampe het: Dikwels is hulle eerstegeslagstudente, wat nie op die leiding van hul ouers of families kan steun nie. Dikwels is hulle arm, en kom hulle uit landelike omgewings na ’n (semi)stadsomgewing. En bowenal kom hulle dikwels uit swak openbare skole waar hulle nie in hul moedertale onderrig is nie, en oor beperkte Engels beskik, wat weer hul akademiese prestasie ernstig benadeel. Van die mees militante swart studente het dan ook dikwels akademies swak gevaar.

Wat Afrikanerstudente betref, is hulle dikwels tweede- of derdegeslagstudente, uit die middelklas, verstedelik en onderrig in goeie skole in moedertaalonderrig – sodat hulle akademies selfs deur medium van Engels goed presteer en uiteindelik werk kry.

Heel ironies lyk dit asof baie swart studente eers deur kontak met hul wit eweknieë werklik bewus word van die agterstande wat hulle het. Dit is asof baie swart studente op ’n diep vlak nooit in die universiteit as instelling tuiskom nie, en dan “wit bevoorregting” of ’n “wit” of “Afrikaner- institusionele kultuur” die skuld gee. Só word ’n plofbare situasie geskep waar wanhopige swart studente, dikwels aangevuur deur politieke opportuniste van buite, hul woede rig teen hul wit eweknieë, en teen simbole wat hulle met hul wit eweknieë assosieer, soos standbeelde. Afrikaans as onderrigmedium word dan ook aangeval.

Nodeloos om te sê dat wit studente in die algemeen maklik bedreig en selfs vreesbevange voel deur dié aggressie teen hulle, oor iets waarvoor hulle nie geblameer kan word nie. Die reaksie van wit studente is dikwels om van die kampuslewe te onttrek en slegs nog aan tradisionele Afrikaanse kulturele of sportaktiwiteite deel te neem – wat ironies genoeg vandag aktiwiteite is waar wit, swart en bruin diep bande smee en saam iets hoopvols en nuuts tot stand bring.

Die geweld deur toeskouers op Shimlapark kan op geen manier geregverdig word nie, maar waarskynlik is dit ingegee deur diep vrees. So kan die gewelddadige optrede van betogers daardie aand en die res van die week ook geensins geregverdig word nie, maar waarskynlik spruit dit uit diepe wanhoop. ’n Mens moet baie bang of moedeloos wees om jou aan sulke uiterste gedrag skuldig te maak.

Daar kan nie van universiteite verwag word om diepgaande stelselprobleme op kampusse self op te los nie. Hulle kan wel op eerlike wyse gesprekke tussen studente fasiliteer, praktyke skep waar studente saam kan leer en speel, en álle geweld en geweldplegers van kampusse weer. Dit sal van universiteitsbesture moed vereis: As die basiese orde nie gehandhaaf word nie, word kampusse oorlogsones waar die oop gesprek sneuwel. 

Om egter te dink militante studente gaan gepaai word deur standbeelde of Afrikaans te verwyder, is ’n oordeelsfout. Al wat dit sal doen, is om radikale nog meer moed te gee, sodat hulle met ’n volgende stel eise sal kom. Dit sal geen jota aan die uitdagings van swart studente verander nie, en bloot lei tot ’n uittog deur gematigde, middelklasdosente en studente uit die universiteite. Daarmee sal die droom van wedersydse erkenning waarop die 1994-akkoord gebou is, aan skerwe lê.

  *Dr. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.