Die oorsake van die huidige debat oor godsdiens in skole lê ver terug in die verlede, sê die skrywer en akademikus Johann Rossouw.

Die debat oor godsdiensonderrig in skole wat opnuut opgevlam het, laat die vraag ontstaan wat die oorsake van die debat is. As dié oorsake beter begryp word, kan dit groter konsensus tussen die strydende partye bring.

Om die oorsake van die debat beter te begryp, verskaf die Kovsie-regsfilosoof Georgia du Plessis ’n belangrike leidraad: “As jy sê ’n skool is bloot ’n sekulêre instansie, het dit dieselfde uitwerking as om te sê almal moet ’n Christen wees. Dit is óók ’n vorm van diskriminasie.” (Volksblad 14/9/4)

Du Plessis verwys hiermee daarna dat wat die Christelike geloof vir die Kerk is, die sekularisme – waar wat, en of, ’n mens glo, jou saak is – vir die moderne staat is.

Sekulêre en ateïstiese kritici van die Christendom wat dié kritiseer omdat dit perke van verdraagsaamheid oorskry deur godsdiens in openbare skole te wil onderrig, vergeet dat die sekulêre staat self die produk van onverdraagsame grensoorskryding is.

Die Middeleeuse Westerse Christendom het onder die invloed van die Christelike denker Augustinus duidelike onderlinge grense aan die terrein van die Kerk (“die geestelike mag”) en die politieke owerheid (“die tydelike mag”) binne een oorkoepelende Christelike maatskaplike orde gestel. Met die opkoms van die eerste drie toonaangewende moderne state – Spanje, Frank­ryk en Engeland – is dié grense deur dié state met die grootste onverdraagsaamheid uit die pad gevee.

Voortaan sou godsdiens ’n “private” aangeleentheid wees, en politiek “openbaar”. Staatskole in daardie lande het wel nog lank godsdiensonderrig gegee, maar uiteindelik is dit vervang met die staat se eie “godsdiens”, naamlik sekularisme en nasionalisme, wat allermins neutraal is of keusevryheid aan die individu laat.

Vra maar vir enigiemand wat ’n land se grondwet verwerp, of weier om diens te doen as die land oorlog maak.

In die geval van die Suid-Afrikaanse staat lyk dinge effens anders, omdat die kwessie van die Christendom in openbare instellings vermeng is met die stryd tussen Britte en Afrikaners tussen 1800 en 1950. Die kombinasie van die verengelsing van skole en die skeiding van kerk en staat in 1853 in die Kaapkolonie het gelei tot die stigting van Hollands-Afrikaanse kerkskole deur die NG Kerk vanaf 1860. Teen 1900 was daar meer as 900 sulke skole. Tussen ongeveer 1850 het die NG Kerk juis as kerk dalk die naaste aan haar roepingvervulling gekom deur haar werk op die terreine van onderwys en maatskaplike sorg.

Ongelukkig loop dinge ná 1948 skeef. Ná ’n eeu van die skeiding van Kerk en staat, word ook die NG Kerk verstaatlik. Kerkskole word die basis van die Christelik- nasionale onderwysstelsel, wat neerkom op die kerstening van openbare skole. Die NG Kerk verloor geleidelik haar profetiese stem en begin die belange van party en staat dien. Veral jong Afrikaners in die 1970’s en 1980’s se ervaring van die Kerk was een van moralistiese dwang en onderdrukking. Vandag nog stap die NG Kerk ’n moeilike pad om van haar verstaatliking te herstel.

Dit is daarom ook nie vreemd nie dat voorstanders van die regsaksie teen godsdiensonderrig in skole, aangehaal in die Afrikaanse media, feitlik sonder uitsondering in daardie twee dekades grootgeword het en daardie soort dwang met godsdiensonderrig in skole vereenselwig. Dit is oënskynlik deels projeksie op die hede vanuit die verlede, maar deels ook bevestig deur wat ongelukkig dikwels steeds in die naam van godsdiensonderrig in Afrikaanse openbare skole gebeur.

Laasgenoemde het oënskynlik te make met twee sake. Eerstens het veral Afrikaners van die vroeë 1980’s af die verstaatlikte, moralistiese kerk van hul jeug vir die charismatiese beweging verruil. In hierdie beweging staan blinde, emosionele, onverdraagsame geloof gekoppel met materiële welvaart dikwels sentraal – wat wêrelde verwyder is van die Christendom se tradisionele versoening van geloof en rede, en besorgdheid oor die armes en die weerloses.

Tweedens het die verlies van staatsmag  in  1994, die toevlug tot  materiële  sekerheid  en ’n vyandige Afro-nasionalistiese regering Afrikaners verder laat privatiseer en houdings rondom Afrikaanse openbare skole en godsdiensonderrig  laat  verhard.

Voorbeelde hiervan in Afrikaanse openbare skole is die ongenaakbare najaag van prestasie en die omhelsing van ’n vervlakte, moralistiese en onverdraagsame vorm van Christenskap wat soms voorkom.

Die groot ironie is dus dat die reaksie teen ’n onverdraagsame staat en verstaatlikte kerk in die 1970’s en 1980’s deur Afrikaanse sekulariste, en die reaksie deur baie Afrikaanse Christene teen ’n ewe onverdraagsame staat ná 1994, die twee kante ewe onverdraagsaam maak. Hoe gemaak met dié dilemma?

Die toevlug tot die hof behoort die allerlaaste uitweg te wees. Stappe wat eerder gedoen moet word, sluit in:

  • dat Afrikaanse openbare skole behoorlike reëlings tref dat sowel gelowiges as sekulariste vrylik met mekaar op die skoolterrein kan assosieer;
  • dat Afrikaanse kerkleiers erns maak met hul eie tradisie en gelowiges behoorlik opvoed pleks van om hulle met emosionele, irrasionale manipulasie op te sweep; en
  • dat Afrikaanse Christen-ouers en nie-Christen-ouers van skool tot skool op die grondslag van wedersydse erkenning praktyke vestig wat mekaar akkommodeer.

Die wysheid van een van die reuse wat gehelp het om die Kerk te bou, Johannes Chrysostomos, bly toepaslik: “Dit is vir Christene, meer as vir almal, verbode om die struikelinge van sondaars deur dwang te korrigeer . . . dit is nodig om ’n mens nie deur dwang nie, maar deur oorreding beter te maak.”