Johann Rossouw en Deon Opperman peins twintig jaar na demokrasie oor Langenhoven se gedig “Die Stem”, en oor die sanger en skrywer Steve Hofmeyr wat hierdie lied by ’n Afrikaanse kunstefees gesing het. Wat is die moontlike impak van Hofmeyr se gedrag op sy skryftaal Afrikaans? En wat is die rol van die skrywer binne sosiale verband? Die strewe na die herstel en kultivering van die waardigheid van alle Suid-Afrikaners – insluitend Afrikaners – bly ’n grondige kwessie. Maar verstaan Steve Hofmeyr dit?

Die debat wat ontketen is deur Steve Hofmeyr se sing van “Die Stem” by die Innibos-kunstefees op Saterdagaand 5 Julie bly woed. En met rede, want dit raak aan daardie rou senuwees wat alle Suid-Afrikaners verstaan, naamlik die strewe na die herstel van ons waardigheid. Dit wys sowel die sterk emosionele steun wat vir Hofmeyr op sosiale media uitgespreek is, as die kritiek van mense soos Piet Croukamp, Max du Preez en Zelda la Grange.

Hofmeyr was nie links om op sy linkse kritici te antwoord nie. Afgesien daarvan dat hy hulle linksheid gebruik het om hulle die mond te snoer – asof linksheid of regsheid ’n mens per definisie diskwalifiseer – is die kern van sy antwoord dat “Die Stem” bloot ’n mooi gedig is wat altyd deel van Afrikaners se erfenis sal bly. Op die koop toe reken hy die lied is “heilig”. Maar is dit so?

Soos enige gemeenskap het ook Afrikaners vandag behoefte aan simbole wat hulle kan saambind en in staat stel om aan die demokratiese politiek deel te neem. Dit is oor die algemeen makliker om nuwe inhoud aan ou simbole te gee as om nuwe simbole te skep. Dit het ons gesien met die herlewing van die simboliek van die Groot Trek en die Suid-Afrikaanse Oorlog die afgelope vyftien jaar. Hierdie simbole kan Afrikaners opnuut aangryp, maar ook universeel verdedig word, want dit hou verband met die stryd om die voortbestaan in geregtigheid van ’n minderheid teen koloniale en imperiale magte. Dit is iets wat ander gemeenskappe in die land vanweë ons gedeelde geskiedenis ook goed verstaan en kan respekteer. Dit is deel van die verhaal van ons almal se voortgesette stryd om waardigheid.

“Die Stem” is egter ’n ander saak. Dit is ’n aangrypende gedig, maar die feit bly dat dit tussen 1948 en 1994 mettertyd op tragiese wyse in die nasionale verbeelding met apartheid en die aftakeling van ons waardigheid verbind is. Om ’n deel daarvan in die huidige volkslied in te sluit, was deel van die politiek van wedersydse erkenning wat die land op ’n nuwe koers geplaas het. Dat die verwagtinge van die nuwe koers weens die vergrype van ’n rasnasionalistiese staatselite uitbly, beteken nie “Die Stem” moet as’t ware uit die brose weefwerk van wedersydse erkenning geskeur word nie. Om “Die Stem” soos Hofmeyr in te span, is olie op die vuur van swart rasnasionaliste en vervreem Afrikaners se medelandsburgers en potensiële bondgenote, wat ewe veel onder die rasnasionaliste ly.

Julius Malema

En van wanneer af is ’n geliefde lied “heilig”? Afrikaners met ons diep verbintenis tot die Christelike tradisie weet goed dat slegs God en Sy Kerk heilig is. Om ’n geliefde lied heilig te verklaar, is vermetele heiligskennis.

Ook moet gevra word of Hofmeyr nie oënskynlik gedink het dis belangrik om sy medekunstenaars by die betrokke konsert te raadpleeg oor die sing van “Die Stem” nie. Ook hulle is nou teen wil en dank met sy keuse verbind. Hofmeyr sou glo ook ’n ultimatum gestel het oor die seremoniemeester wat Innibos daardie aand wou gebruik – óf hy, óf ek – oënskynlik omdat Hofmeyr nie van die persoon se liberale politiek hou nie.

Met hierdie soort antidemokratiese, onwaardige populisme behoort Afrikaners hulle nie op te hou nie. Ons het genoeg inspirerende verhale van geregtigheid, waardigheid en wedersydse erkenning in ons geskiedenis om vandag ons plek as selfstandige, volwasse demokrate vol te staan in die volgehoue stryd om ’n waardige lewe vir onsself saam met al Suid-Afrika se gemeenskappe.