“Toe ek weggaan, het ek nie geweet hoe lank ek sou wegbly nie. Ek was nie van plan om te emigreer nie. Ek moes eenvoudig gaan om te doen wat ek moet. Mettertyd het nuus van die huis al hoe minder geword. Die huis het van my vergeet, maar ek het die huis elke dag onthou. Dit was hierdie onblusbare herinneringe wat my uiteindelik soos ’n onfeilbare kompas huis toe begelei het.”

Miskien is dit wat Odusseus sou sê as ons hom vandag kon uitvra oor sy uitreis en terugreis, die uitreis en terugreis wat staan as model vir alle uitgewekenes wat droom daaroor om eendag huis toe te gaan. Maar ons wéét nie of dit is wat Odusseus sou sê nie. Tussen ons en hom lê daar per slot van rekening byna dertig eeue. En tog, so anders as wat sy wêreld en ons wêreld van mekaar is, so konstant het die motief van die terugkeer na die geliefde land gebly. Om te verstaan wat die terugkeer na die geliefde land beteken – sowel die reis daarheen as die uiteindelike aankoms, hervestiging en verdere lewe – kan ons ons steeds vandag deur Odusseus se odussee laat lei. In hierdie begeleiding moet ons noodwendig die kloof tussen ons en hom deur verbeelding probeer oorbrug. Dat die brug van verbeelding dalk meer fiksie as feite bevat, is onvermydelik, maar hoe sal ons sy en ons verhale anders met mekaar laat praat? Miskien sal die filosofie ons naby genoeg aan die waarheid hou.

Odusseus na Ithaka, 1

’n Britse kunstenaar wat vyf maande en twaalf dae oud was toe sy pa in die Tweede Wêreldoorlog as infanteris in ’n Italiaanse veldslag sterf, Roger Waters, sing in 1992 op die album Amused to Death na aanleiding van die eerste Amerikaanse inval van Irak soos volg oor dié oorlog:

Hey bartender over here

Two more shots

And two more beers

Sir turn up the TV sound

The war has started on the ground

Just love those laser guided bombs

They're really great

For righting wrongs

You hit the target

And win the game

From bars 3,000 miles away

3,000 miles away

We play the game

With the bravery of being out of range

We zap and maim

With the bravery of being out of range.

Hierdie liriek begryp enigiemand wat gedurende Augustus 1990 gekyk het na die onvergeetlike TV-beelde van Amerikaanse missiele wat in die grougroen nag van Bagdad soos stil, kortstondige kersvlammetjies ontplof het. Maar wat sou ’n TV-kyker aan die hand van dié beelde verstaan oor die emosies van die soldate wat die missiele op Bagdad laat neerreën het?

Die vraag na die emosies van krygers en hulle geliefdes is nie een waaroor die leser van Homeros hoef te wonder nie. Ná die relaas in die Ilias van hoe Troje se grootste kryger, Hektor, sy huilende vrou, Andromache, probeer oortuig van waarom hy na die oorlog moet terugkeer, lees ons byvoorbeeld die volgende aangrypende beskrywing van Hektor wat na sy babaseun, Skamandrius, draai:

So het die blink Hektor gepraat en sy hand na sy kind toe uitgestrek; maar die kind het teruggedeins op die bors van die mooigegordelde voedster en gehuil, verstom oor die voorkoms van sy dierbare vader: hy het geskrik vir die koper en die maanhaarpluim, toe hy dit vreeslik hoog bo-op die helm sien wuif. En sy dierbare vader en eerwaardige moeder het hard gelag. En die blink Hektor het dadelik die helm van sy kop afgehaal en dit alblink op die grond neergesit. En hy het tog sy dierbare seun gesoen en op sy hande opgegooi… (Homeros 1952:99)

Ook Odusseus, groot kryger en koning van Ithaka, het sy manjifieke vrou, Penelopeia, en sy babaseun, Telemachus, wie se naam “ver van oorlog” beteken, agtergelaat om aan die oorlog teen Troje te gaan deelneem. Waarom sou Odusseus sy gelukkige lewe met sy geliefdes in sy land vir ’n oorlog agterlaat? Ter wille van die eise van geregtigheid en eer wat voortspruit uit die rol van ’n Homeriese kryger, voer Alasdair MacIntyre aan, en dit is ’n vertolking waarby ek hier aansluit. MacIntyre skryf:

Agents in the Homeric poems can certainly be said to always act in their own interests as they understand them, but the interest of an individual is always his or her interest qua wife or qua host or qua some other role. And since what is required of one in one’s role is to give what is due to those others occupying roles that stand in determinate relation to one’s own, king to kinsman or subject, swineherd to master or fellow servant, wife to husband and other kin, host to stranger and so on, there is not the same contrast between what is to one’s own interest and what is to the interest of others as that which is conveyed by modern uses of ’self-interest’ and cognate terms. (MacIntyre 1989:20)

Ons kan hierdie vertolking nog effens anders formuleer. Ons weet dat die Griekse grondwoord van etiek, nl. etos, nie slegs dui op die korrekte optrede nie, maar ook op wat die korrekte optrede volgens die mense van ’n bepaalde plek behoort te wees. “In Rome maak jy soos die Romeine,” lui die spreekwoord. En eweneens in Ithaka, des te meer as jy die koning en voorste kryger is. Daarom kan ons sê dat die etos van Ithaka sou bepaal dat diegene wat na die model van Ithaka gevorm is, byvoorbeeld Odusseus na die beeld van Ithaka, Odusseus na Ithaka, geen keuse had as om Ithaka vir die oorlog van Troje te verlaat nie. Ons kan dit nog noukeuriger formuleer: volgens hoe Ithaka Odusseus gevorm het, moes hy die vrede en liefde van Ithaka vir die oorlog teen Troje verlaat. Ook: volgens hoe Ithaka Odusseus gevorm het, moes hy sy geliefde gesin vir sy wapenbroers agterlaat. Met ander woorde, in die oë van ons verbeelding lyk dit asof sy verbondenheid met sy gemeenskap van hom vereis het om hulle te verlaat.

Bron: Wikipedia

Tussen ons modernes en Odusseus lê hierin ooreenkomste wat tegelyk ook verskille is. Die meeste van ons met ’n gesin wat ons land verlaat, doen dit saam met ons gesin en ter wille van hulle, dikwels op vlug van die een of ander konflik, of dit nou die vorm van oorlog of minder akute vorme van vervreemding aanneem. Dit is daardie pynlike oomblik wanneer die staat ons gemeenskap sodanig bedreig dat ons haar ter wille van ons gesin agterlaat. Die pyn is nog akuter as ons glo dat ons nie meer in ons land en ons gemeenskap kan leef volgens die etos wat ons van ons gemeenskap ontvang het nie. Dan is ons in die ekstreme posisie dat ons met ons gesin ons gemeenskap verlaat omdat ons glo dat ons slegs buite ons gemeenskap kan leef na die model waarvolgens ons gevorm is. Dit is die ekstreme posisie van diegene wat vanweë hoe hulle gevorm is, ter wille van vrede en liefde, konflik en hulle gemeenskap verlaat.

Natuurlik wil dit nie sê dat almal ter wille van hulle gesin hulle land verlaat nie. Ons weet dat talle moderne mense hulle land sonder ’n gesin verlaat, en vriende en geliefdes agterlaat. Daarbenewens weet ons van talle moderne mense by wie die verbintenis tot ’n gemeenskap om watter rede ook al in die eerste plek nooit behoorlik gevorm is nie. Dit is diegene vir wie vreemdelingskap waar ook al die norm is omdat hulle in die eerste plek vreemdelinge onder hulle eie mense is. Oor hulle leer Die Odussee ons min, aangesien dit bowenal die verhaal is van ’n man wat deur verlange na sy geliefde land en gesin teruggelei is.

Odusseus na Ithaka, 2

Ofskoon Die Odussee hoofsaaklik oor Odusseus se terugreis na Ithaka handel, handel die eerste vier boeke natuurlik oor ’n ander uitreis en terugreis, naamlik dié van sy seun, Telemachus, wat Ithaka onder aanmoediging van Odusseus se beskermgodin, Athena, verlaat om na sy vader te gaan soek. In die eerste vier boeke van Die Odussee word die verlange van die seun na sy onbekende vader dus geplaas teenoor die verlange van die vader na sy geliefde land en gesin. Dit is dan ook omdat die wyse Athena Odusseus se lot bepleit by Zeus, wat die boodskappergod, Hermes, afvaardig na die eiland van die nimf, Calypso, wat Odusseus in daardie stadium al vir sewe jaar gevange hou, met haar liefde vir Odusseus steeds onbeantwoord. Terwyl Odusseus se verlangende vrou, Penelopeia, in Ithaka steeds haar 108 hofmakers se wellus onbeantwoord laat, oorreed Hermes Calypso om die nostalgiese Odusseus vry te laat om huis toe te gaan. Dit is dan ook aan Die Odussee dat ons die woord nostalgie, “die verlange na die huis”, te danke het.

Ofskoon die nostalgiese Odusseus deur sy huislike verlange begelei word, weet ons dat hy die huis nie sonder meer haal nie. Onderweg moet hy byvoorbeeld onder meer die wraak van Poseidon trotseer, wat die vlot waarmee Odusseus Calypso se eiland verlaat, in ’n storm laat sink. Daarmee word Odusseus ook die eerste beroemde skipbreukeling. Ons modernes wat amper dertig eeue later die magtelose toeskouers van Odusseus se menigvuldige skipbreuke is, word telkens tot trane geroer, want verstaan ons nie alte goed die wanhoop van die verlangende na sy huis wat telkens op sy terugtog van koers af gedryf word nie? Veral as ons tel onder diegene wat, soos Odusseus, gevorm deur ons huis oplaas daarheen moet terugkeer omdat dit is wat die huis van ons vra. Dit is dan ook die bron van Odusseus se nostalgie: wanneer die oorlog teen Troje verby is en Odusseus voldoen het aan dit wat na die etos van Ithaka van hom as koning en kryger verwag is, dan moet die koning van Ithaka, soos dit ’n koning betaam, na sy geliefde land en sy mense terugkeer. Om dit effens anders te stel: omdat Odusseus na Ithaka gevorm is, moet hy Ithaka eers verlaat en dan weer na Ithaka terugkeer.

Wat is die nostalgie van die moderne nakomelinge van Odusseus? Dit is die nostalgie van die uitgewekene wat in ’n verre land vreemd word en vreemd bly omdat hy, volgens die etos wat hom gevorm het, oplaas net onder sy mense kan tuiskom. Let wel, soos hier bo reeds vermeld, praat ons nie hier van diegene wat oral vreemd word en vreemd bly omdat hulle in die eerste plek nooit tuis was nie. Nee, hier gaan dit om diegene wat om wille van hulle etos afskeid en vertrek van hulle huis geneem het, en wat oplaas na talle omswerwinge hierdie feit onder oë sien: daar is net een plek waar hulle kan hoop om tuis te wees, en dit is die plek van die mense wat hulle as mense gevorm het, die plek met wie hulle nie ’n gekose nie, maar ’n gegewe lotsverbondenheid deel. Diesulkes besef oplaas dat dit hulle wonderbaarlike lot is om hulle gegewe lotsverbondenheid te kies deur terug te gaan. Maar wanneer die besluit geneem is om terug te keer, wanneer die reis onomkeerbaar aangepak is, kom die terugreisiger onvermydelik voor die vraag te staan: Is Ithaka nog my huis? Soos talle lesers van Die Odussee sekerlik al saam met Milan Kundera in sy roman Ignorance oor die lewe na uitgewekenheidgewonder het: Wat het gebeur met Odusseus ná hy Ithaka gehaal het? Oftewel, wat van Odusseus na Ithaka?

Odusseus na Ithaka, 3

Régis Debray, wat Frankryk in 1967 verlaat het om aan ’n revolusionêre oorlog in Bolivia deel te neem, in die tronk beland en uiteindelik eers ná ses jaar na Frankryk teruggekeer het, skryf iewers dat die uitgewekene ná sy vertrek onwillekeurig begin met ’n proses wat dit vir hom met verloop van tyd al hoe moeiliker maak om terug te keer. Dit is naamlik dat sy verlange hom herinner aan beelde van dit waarna hy verlang. Hoe erger sy verlange, hoe meer hou hierdie beelde hom aan die gang. Maar hoe meer hierdie beelde begin instaan vir die land wat hy agtergelaat het, en wat in sy afwesigheid verander, hoe groter word die gaping tussen dit waarna hy verlang en dit wat hy daarvan onthou. Dit is miskien waarom mense wat te lank van die huis af weg is, uiteindelik nie meer kan terugkeer nie.

Ons weet dat Odusseus hierdie dinamika ook nie vrygespring het nie. Maar wat interessant is, is dat dit in sy geval omgekeerd was: in plaas daarvan dat hy nie meer die ou gesigte kon herken nie, kon sy eie vrou en sy vader sy gesig nie meer onthou nie. In Penelopeia se hartverskeurende woorde: “Hoe vreemd is jy? Ek is mos glad nie hoogmoedig of onverskillig of al te verwonderd nie, maar ek weet baie goed hoe jy was toe jy op jou skip met die langroeispane uit Ithaka vertrek het” (Homeros 1963:285). Dit is eers wanneer Odusseus aan haar vertel hoe hy self hulle huweliksbed bo-op die stam van ’n olyfboom gemaak het, dat Penelopeia Odusseus eien.

Wanneer Odusseus sy bejaarde vader, Laertes, die eerste keer op ’n afstand sien, lees ons: “En toe die adellike veelervare Odusseus hom nou sien, deur die ouderdom gekwel en met ’n groot droefheid in sy hart, toe het hy onder ’n hoë peerboom gaan staan en trane gestort” (Homeros 1963:296). En tog, in weerwil van Odusseus se hartseer, herken sy vader hom ook nie aanvanklik nie en verklaar hy: “As jy dan werklik my seun, Odusseus, is, wat hier aangekom het, noem vir my nou ’n onmiskenbare teken, sodat ek kan glo!” (Homeros 1963:298). Waarop Odusseus sy identiteit bewys met verwysing na ’n litteken wat hy as jongeling op jag opgedoen het, asook ’n aantal vrugtebome wat sy vader hom as jongeling geskenk het. Kortom, dit is danksy die herinnering aan liefdesdade uit vergange se dae dat Odusseus se geliefde vrou en vader weer sy gelaat eien.

Miskien was Odusseus se aanvanklike skok dat sy vrou en sy vader hom nie herken het nie erger in die lig van sy eerste groot vreugde na sy aankoms, naamlik dat sy seun, Telemachus, wat sy gesig vir alle praktiese doeleindes nog nooit gesien het nie, dadelik geglo het dat dit sy vader is wat voor hom staan.

Die moderne uitgewekene wat in Odusseus se sleurstroom die terugreis huis toe aanpak, beskik oor een hulpmiddel wat nóg Odusseus, nóg die terugkerende Régis Debray in 1973 had, naamlik inligtings- en kommunikasietegnologie waarmee die afstand na die huis oorbrug kan word. Meer spesifiek: waarmee die uitgewekene sodanig op hoogte kan bly van die ontvouende verhaal van sy gemeenskap dat hy en die mense by die huis mekaar se gesigte as’t ware by sy terugkeer kan herken. Eerder as die gesigte wat onthou word van voor die afskeid en vertrek, is dit die gesigte wat van elektroniese foto’s en video-oproepe onthou word. Gesigte wat dus by weersiens nie soveel anders lyk nie, omdat ons die gesigte voor ons sien verander het, al was dit oor ’n afstand heen.

Maar wat dan van Odusseus ná sy terugkeer, Odusseus ná Ithaka? Die Odussee beantwoord nie hierdie vraag nie. Trouens, dit laat ons slegs by die aanvanklike blydskap van terugkoms en herkenning. Soos Die Odussee dit stel ná Penelopeia Odusseus oorstelp eien: “En toe het hulle met vreugde by die staanplek van hulle ou-ou bed aangekom ... En toe dié twee nou hulle lieflike liefdesomhelsing geniet het, het hulle genot gevind in die woorde wat hulle met mekaar gepraat het…” (Homeros 1963:287)

Bron: Goodreads

Milan Kundera, wat die terugkeer van ’n uitgewekene na haar voormalige kommunistiese land ná meer as twee dekades vertolk aan die hand van Die Odussee, kom tot die gevolgtrekking dat die teruggekeerde se aanvanklike vreugde uiteindelik in verbittering kan omslaan. Die rede hiervoor is dat terwyl sowel die teruggekeerde as haar agtergeblewe vriende hulle keuse om te gaan of te bly as ’n heldhaftige daad beleef, hulle mettertyd so vervreemd van mekaar raak dat die een dit wat die ander as heldhaftigheid beskou, nie kon erken nie. Nog erger: wat die een as heldhaftig beskou het, het die ander as lafhartig beskou; vgl byvoorbeeld: “Jy was te bang om te bly” en “Jy was te bang om te gaan.” En tog het albei gebly of gegaan volgens wat hulle gedink het goed is, volgens wat hulle gedink het goed vir hulle land en gemeenskap sou wees na gelang van hoe hulle daardeur gevorm is, Odusseus na Ithaka.

Maar die situasie wat Kundera beskryf, is die situasie van een wat te lank weg was om nog te kan terugkom, die een vir wie Ithaka nie meer Ithaka is nie. Wat dan van die een wat betyds terugkom het? Wat van die een wat gegaan het oor hoe Ithaka hom gevorm het en ook teruggekom het oor hoe Ithaka hom gevorm het? Wat van hom ná sy terugkeer na Ithaka?

Van hierdie reisiger wat na afloop van die stryd soos die Odusseus van die Nuwe Testament, die verlore seun, besef hoeveel beter die huis as die verre land is, en deur skipbreuk en ongeluk goddelik na die huis begelei word, van hierdie teruggekeerde kan ons sê dat Ithaka nie meer Ithaka ís nie, maar nou eers Ithaka wórd. Om dit anders te stel: omdat dit wat Ithaka Ithaka maak en Odusseus gevorm het, hom ver buite Ithaka gevoer het, na plekke waar buitelanders hom as een van Ithaka geëien het, en hy Ithaka dus, om Perikles te parafraseer, kon sien soos wat sy werklik is en haar liefkry, daarom kon hy terugkeer na die Ithaka wat hy in die lig van sy uitreis onherroeplik in ’n ander lig sien. Dit is die Ithaka wat hy met al die mense van Ithaka deel, maar dit is oplaas die ondeelbare Ithaka, sýIthaka, wat maak dat hy oplaas tuisgekom het in Ithaka soos sy is: Ithaka soos sy vir almal is, omdat sy vir elkeen van haar inwoners op uniek intieme wyse Ithaka is. Dit is danksy al hierdie intieme Ithakas dat die mense van Ithaka kan praat van “Ons Ithaka”.

Hier bo het ek gewys op ’n ooreenkoms wat ook ’n verskil is tussen Odusseus en moderne uitgewekenes wat eers moet gaan voor hulle kan tuiskom, naamlik dat waar Odusseus die vrede en liefde van die gemeenskap en die gesin vir ’n oorlog agtergelaat het, sy moderne medereisigers dikwels die konflik van hulle land en gemeenskap ter wille van hulle gesin in die hoop op vrede en liefde verlaat. Hoe moet ons dan verklaar dat hulle dikwels terugkeer terwyl die konflik in hulle land en gemeenskap nog in volle swang is? Miskien is daar oplaas slegs een rede: om weg te wees is ’n groter stryd as die stryd tuis.

Dit is die wonderbaarlike lot van Odusseus na Ithaka.

Bronne

Homeros. 1952. Die Ilias. Uit die Grieks in Afrikaans vertaal deur JPJ van Rensburg. Stellenbosch: Pro Ecclesia-drukkery.

Homeros. 1963. Die Odusseia. Uit die Grieks in Afrikaans vertaal deur JPJ van Rensburg. Kaapstad: Human & Rousseau.

Kundera, Milan. 2000. Ignorance. Uit die Frans vertaal deur Linda Asher. Londen: Faber & Faber.

MacIntyre, Alasdair. 1989. Whose Justice? Which Rationality? Indiana: University of Notre Dame Press.

Waters, Roger. 1992. The Bravery of Being out of Range. Amused to Death. Sony Columbia.