Om 8.54 die oggend van 2 Mei bel ’n gewaardeerde kennis my met die nuus wat ek al jare vrees: Karel Schoeman is dood.

            Schoeman het my alles geleer wat ek moes weet van die skrywende, biddende lewe. Daarom laat ek dit aan andere oor om te skryf oor die betekenis van sy werk. Hier, terwyl ek treur, kan ek net skryf oor wat hy vir my beteken het.

            In Oktober 1993 ontmoet ek een van my boesemvriende en tans kollega, Pieter Duvenage. Ofskoon ek van Schoeman geweet het, was dit op Duvenage se aanbeveling wat ek Afskeid en vertrek in Desember 1993 gelees het. Niks van hierdie lewe of hierdie land was daarna dieselfde nie. Ek het sy romans fanaties begin lees.

            Met die verskyning van Verkenning in 1996, die jaar toe ek 26 geword het, was my verlange om hom te leer ken groter as my vrees vir ’n koue skouer. Ek het dit gewaag om vir hom te skryf. Nie lank daarna nie het sy antwoord teruggekom, en kort voor lank het ’n intense briefwisseling ontstaan.

            Toe, vroeg in 1997, skryf hy dat hy vir ’n naweek na Johannesburg moet kom en my graag sal wil ontmoet.

            Stram van spanning ontmoet ek hom die Saterdagoggend by een van die luukse hotels waarvoor hy so lief was – ’n askeet versot op die estetiese en die verfynde. In die loop van daardie Saterdag en Sondag het die innemende lang skraal man met sy formidabele gees, verwysingsraamwerk en taalvermoë my psigies en emosioneel uitgedaag soos niemand ooit voor of na hom dit gedoen het nie.

            Hy het nie geskroom om my die een oomblik te kapittel oor my slordige taalgebruik nie, dan weer die volgende oomblik kommentaar te lewer op hoe naby of hoe ver hy my psigies op daardie oomblik aangevoel het nie. Slegs my vrou sou ooit nader aan my kom en my so intiem betrag.

            Die gesprekke was eindeloos. Oor die Christendom, die Boeddhisme, verlies, hierdie land, die Afrikaanse taal, die geskiedenis, die filosofie, die musiek, stilte.

            ’n Tweede besoek het later daardie winter gevolg. Hy was besig met Merksteen, die boek oor sy grootouers aan moederskant, en wou onder meer die omgewing van Roodeplaatdam besoek, waar sy oupa eens tyd deurgebring het. Wat onthou ek vandag van daardie besoek?

            Die 54-jarige man wat oor middagete op die stralende wintersdag in trane uitbars oor die pa wat hy op drie weens sy ouers se egskeiding verloor het. Ons wandeling om skemer langs die riete by die L.C. de Villiers-sportgronde, hy wat my vertel oor die skryf van ’n Ander land, sy sinne so poëties en goddelik mooi soos in sy romans. Toe, die volgende dag, toe ek hom by die lughawe aflaai, hy wat onseremonieel ’n swaar pak papiere in ’n wit plastieksak met tou toegeknoop vir my gee. Ek maak dit net daar oop: Die handgeskrewe manuskrip van Verkenning, en ek wat in trane uitbars.

            Tydens ’n laaste gesprek, die keer by sy geliefde Mount Nelson-hotel in Kaapstad, sy angswekkende én vertroostende woorde aan my: “Daar is by my geen twyfel nie. Jy sal skryf.”

            Soos ek later sou vasstel dit met soveel ander die geval was, beëindig hy na sowat twee en ’n half jaar die kontak tussen ons. Op ’n dag, onderweg na Oudtshoorn, besluit ek impulsief om te gaan klop aan die deur van sy huis in Trompsburg. Die lang man maak die deur oop. Ek groet huiwerig. Hy antwoord: “Ek weet nie wie jy is nie,” en maak die deur toe. Die gesuis van die sonbesies in die genadelose Suid-Vrystaatse dag, die duiseligheid.

            En tog, tog het my verhouding met Karel Schoeman, my meester in die mistiek, skryf en die lewe eers werklik daarna begin soos dit wat hy my geleer het, my bly lei het. In die eersvolgende twaalf jaar sou ek eers die Zen-Boeddhisme en oplaas die Ortodokse Kerk ontdek. Ek sou my sielsverwant ontmoet, ’n pa word, sukses en mislukking in my beroep beleef, my eerste twee romans skryf, in selfopgelegde ballingskap in Australië gaan woon, my doktorsgraad voltooi en in Januarie 2012 my as filosofiedosent vestig aan die universiteit waar hy studeer het, in die stad waar hy die laaste skof kom aanpak het.

            In Bloemfontein sou ek vasstel dat iemand wat sy tuiste verloor het, ’n nuwe tuiste kan kry.

            In daardie tyd gesels ek met kollega Louise Cilliers op aftrede. Dit blyk sy ken Schoeman ook en dat sy Kavafis se gedig, Ithaka, wat Schoeman my destyds in ’n Engelse vertaling gegee het, in Afrikaans vertaal het. Enkele reëls lui:

Bly altyd dink aan Ithaka.

Om daar aan te kom is jou doel;

Maar moenie oorhaastig reis nie.

Dit is beter dat dit baie jare duur,

Beter as jy eers as ’n ou man by die eiland vasmeer,

Verryk deur wat jy onderweg verwerf het.

Maar moenie verwag dat Ithaka jou met rykdom sal beloon nie.

Ithaka het jou die wonderlikste reis geskenk.

Was dit nie vir haar nie, het jy nooit vertrek nie.

Maar sy het niks meer om jou te bied nie.

            In Julie 2014 sien ek hom oplaas skielik eendag waar hy tydens die kunstefees op die kampus moeg teen ’n motor leun, skokkend verouderd in die twintig jaar sedert ek hom laas gesien het. Onafhanklik van mekaar sê my vrou en Etienne van Heerden twee dae na mekaar vir my: “Reik uit na hom. Hy het jou nou so nodig soos jy hom destyds nodig gehad het.”

            Op sy vyf-en-sewentigste verjaardag, die dag voor my vier-en-veertigste verjaardag, lewer ek by die hek van sy aftreeoord vir hom ’n pakkie af. Twee dae later kom sy hoflike e-pos van bedanking, maar die afstand word gehandhaaf.

            In daardie tyd doen ek aansoek om bevordering. ’n Referent skryf dat hy wil sien dat ek die filosofie en die letterkunde beter in my werk sal integreer. Die tyd breek aan dat ek die boek oor sy werk moet skryf wat ek altyd geweet het ek moet. Oor sy Sinatra-album sê Dylan in daardie tyd in ’n onderhoud: “In American music Frank is the mountain you have to climb.” Wie in Afrikaans wil skryf, moet die Berg Schoeman klim.

            Die boek word ’n lesingreeks by 2016 se Vrystaatse Kunstefees. In die tien weke wat ek daaraan werk, word my kantoor vir opknapping stelselmatig gestroop. Die dag voor die laaste lesing skryf ek nog daaraan. Al wat nog in my kantoor is, is die ikoon van Christus met ’n brandende teekers, en die foto met Mandela, Schoeman en Jakes Gerwel die dag wat Mandela Schoeman met die Orde van Voortreflike Diens vereer het: Suid-Afrika se grootste staatsman, Afrikaans se grootste romansier, die eerste bruin persoon om ’n doktorsgraad in Afrikaans te skryf, al drie gevorm deur die diep platteland van Suid-Afrika.

            Die lesings neem ’n eie vorm aan, ’n tweestem waarin ek probeer om my en Schoeman se stemme tot ’n musikale eenheid te vorm. ’n Hoogbejaarde, stylvolle, gereserveerde dame kom woon elke lesing by. Na die laaste lesing vertel sy vir ’n ander boesemvriend van my, Natie Botes, met trane wat van haar wange afloop dat hierdie lesings haar lewe verander het.

            Dit is die effek wat Karel Schoeman se werk het op die leser wat met ontvanklikheid lees. Sy werk beliggaam ’n unieke stem wat ’n sonderlinge stemming skep. Geen ander skrywer wat ek ken kon regkry wat hy het nie: Die storie is nooit die roman nie, maar die unieke, persoonlike reis waarop die roman die leser neem.

            In een van my laaste e-posse aan hom skryf ek ek dink dat ek nou eers verstaan wat hy met sy romans wou doen. Hy antwoord: Al wat saakmaak met die skryf, meen ek,is dat die skrywer deur die boek (of die boek self, as skepping van die skrywer) met 'n enkele leser kontak maak, tot hom of haar spreek en vir hulle persoonlike betekenis het, en hoe meer dikwels so iets plaasvind, des te meer vervullend is dit vir die skrywer; in elk geval vir my. Skynbaar was (en is)ek ten spyte van volgehoue kritiek op my skryfwerk na vorm en inhoud tog tot so iets in staat, wat telkens 'n rede vir diepe dankbaarheid is wanneer ek blyk daarvan kry.

            Toe ek vanoggend die berig kry dat Karel Schoeman dood is, het ek my toeverlaat geneem tot musiek waaroor hy in Onderweg geskryf het, naamlik die vroeë klavierwerke van Satie. In die veelbewoë jaar van 1976, ná meer as tien jaar in die buiteland, keer hy terug na hierdie land en skryf: “Ek gaan die donker tegemoet … ek reis na die onbekende, maar wat ek eenmaal besit het, kan nooit weer verlore gaan nie. Die verlede vergesel my op my tog soos daardie klaviermusiek wat ek vanaand in my geheue saamdra.”

            Ek is maar een van vele wat deur Schoeman sowel deur sy werk as in sy persoon geraak is. Hy en sy werk is ’n monument vir die lewe en die saamwees in hierdie land in hierdie taal. En al kon Karel Schoeman nooit intimiteit gemaklik hanteer nie, het hy my intiem geraak. Sy liefde reis met ons mee.

            Ewige gedagtenis.